Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
PnP: 212 winkels vernietig; moraal bly hoog

Altesame 212 winkels van die Pick n Pay-groep en twee verspreidingsentrums is geplunder of deur brand beskadig in verlede week se onluste.

Pick n Pay was Dinsdag die laaste van die land se groot genoteerde kruidenierswarefirmas wat die omvang van die skade uitgestippel het, skade wat ’n vuurdoop was vir sy nuwe uitvoerende hoof, die Nederlander Peter Boone.

LEES OOK: Shoprite maak bekend 224 winkels is geplunder

Die winkels sluit in 68 Pick n Pay- en 68 Boxer-winkels in verskillende formate. (Die grootste skade was aan supermarkte, maar 29 Pick n Pay Clothing-winkels, 14 Express-geriefswinkels en vier Boxer Build-winkels is ook geplunder.)

zuma protest
Pick n Pay Polly Shorts in Pietermaritzburg is onder die 212 winkels in die groep wat beskadig is.

Daarby is 76 drankwinkels van die groep geplunder of afgebrand. Dié winkels was gesluit weens Covid-19-regulasies.

Verskeie winkels in KwaZulu-Natal (KZN) en dele van Gauteng is as voorsorgmaatreël gesluit, maar het nie skade opgedoen nie.

Enkele werknemers van die groep is beseer, maar is reeds aan die herstel.

Die groep sê die meeste van die winkels wat voorkomend gesluit het, is reeds weer oop. Die twee verspreidingsentrums in Pinetown sal teen die einde van die week herstel wees en weer in bedryf gestel word.

Alle winkels kry tans hul voorraad van die Boxer-verspreidingsentrum in Lynnfield, ook in KZN.

Voorraad van Gauteng en die Wes-Kaap is met meer as 200 vragmotors na KZN ingery.

Uit die 136 Pick n Pay- en Boxer-winkels wat beskadig is, is 32 reeds skoongemaak en herstel en hulle sal teen die einde van die week op die laatste heropen.

Die meeste drankwinkels is herstel en sal hul deure kan heropen sodra vlak 4-regulasies opgehef word.

Die groep kan nog nie ’n raming gee van sy skade nie, maar het dekking deur die South African Special Risk Insurance Association (Sasria) en ook vir sake-onderbreking. “Die groep werk nou met sy versekeraars en assessors saam om die skade en verliese te kwantifiseer ten einde die nodige eise so gou as moontlik in te dien.”

Die groep verwag dat die meerderheid van die verliese wel gedek sal wees, met die uitsondering van bybetalings en onvoorsiene uitgawes.

Boone het werknemers en franchise-houers van Pick n Pay en Boxer bedank “vir jul wonderlike spanwerk en onuitputlike moraal in dié uiters moeilike tyd. Julle het mekaar en ons klante manjifiek ondersteun.

“Ons vra begrip van ons klante vir enige oorblywende ontwrigting soos ons onverpoosd werk om ’n ononderbroke voorraad kos en kruideniersware landwyd af te lewer. Ons bly absoluut vasbeslote om klante in alle gemeenskappe waar ons winkels het, te bedien.”

Boodskap van Gareth Ackerman

Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay se direksie, sê die onlangse gebeure beklemtoon die belangrikheid van voedselsekerheid in Suid-Afrika. “Ondernemings soos Pick n Pay, saam met ons gewaardeerde vennote, verskaffers en produsente, speel ’n deurslaggewende rol om ’n volhoubare en ononderbroke kosvoorraad te handhaaf. Om dit te bereik, het ondernemings maatskaplike, politieke en ekonomiese stabiliteit, doeltreffende sekerheid, en werkende vervoer- en ander infrastruktuur nodig.

“In die nadraai van die Covid-19-pandemie en die onlangse burgerlike onrus moet alle belanghebbendes saamwerk om stabiliteit, sekerheid en groei te behaal.”

Hy sê Pick n Pay is nou al 54 jaar deel van Suid-Afrikaners se lewe en sal dit bly.

Die groep gebruik sy Feed the Nation-stigting om noodverligting aan gemeenskappe te bring wat weens die plundery sukkel om kos en kruideniersware te bekom.

Die groep sê dinge is steeds “broos” in sekere gebiede, maar die vordering die afgelope paar dae was belowend.

Die groep het sy kontant tydens die Covid-19-pandemie beskerm en het dus genoeg geld om winkels gou te herstel.

Net Pick n Pay, Woolworths, Spar en Shoprite saam het skade aan 707 winkels en vier verspreidingsentrums gely. As klere- en meubelwinkelgroepe soos Pepkor, Massmart, The Foschini Group, Mr Price en Cashbuild ingesluit word, skiet dit op tot 1 465 winkels en sewe verspreidingsentrums.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.