Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pick n Pay al hoe groter rolspeler met klere, aanlyn
Pick n Pay verkoop nou klere in 400 winkels waarvan meer as die helfte alleenstaande winkels is. Klereverkope het die afgelope ses maande met 4% gedaal weens die inperkingsregulasies wat vir ’n tyd lank verkope verbied het. Foto: Nellie Brand-Jonker

Pick n Pay het in die afgelope halfjaar 11 nuwe klerewinkels geopen en beplan nog ses in die komende ses maande.

Richard Brasher, uitvoerende hoof, sê die groep maak goeie vordering met sy plan met klerewinkels ondanks die daling in verkope weens die staat van inperking, waartydens klereverkope vir ’n tyd lank verbied was.

Pick n Pay het ná die 11 wat in die halfjaar geopen is, nou 246 alleenstaande klerewinkels. Klere word nou in altesame 400 winkels verkoop.

“Ons is vinnig besig om ’n taamlike rolspeler in die mark te word en ons het groot ambisies.”

Weens die inperking het klereverkope in Suid-Afrika met 4% gedaal.

Brasher sê Pick n Pay wen sterk markaandeel, veral met vroue- en kinderklere.

Pick n Pay het sy plaaslike aankope met 30% verhoog om konstante beskikbaarheid in winkels te verseker. “Dit het lewertye verkort, ons beter beheer oor voorraad gegee en broodnodige poste geskep.”

Volgens hom word beoog om plaaslike aankope nog verder te verhoog.

Aanlyn verkope ontplof

Die klerewinkels het uiteindelik in Augustus ook met aanlyn verkope begin in reaksie op die stygende vraag na aanlyn klereverkope. Brasher sê die bekendstelling was suksesvol, met klante wat twee keer soveel aanlyn as in winkels bestee.

Pick n Pay het Dinsdag ook aangekondig hy het ’n ooreenkoms onderteken om die aanlyn winkel Bottles te koop.

Volgens Brasher sal dit die groep help om voort te bou op die sukses wat die laaste paar maande met sy vennootskap met Bottles bereik is.

Brasher sê Pick n Pay Online is die grootste aanlyn kruidenierswarewinkel in Suid-Afrika.

Toe die drankverbod ingestel is, het Bottles sy diens omskep om kruideniersware af te lewer.

Sedertdien is die app meer as 700 000 keer afgelaai en het hy meer as 350 000 geregistreerde gebruikers gekry.

“Min dinge het floreer tydens die pandemie, maar innovasie het en ons kan dit sien in tegnologie en hoe mense hul gedrag verander het.”

Volgens hom het aanlyn verkope eksponensieel gegroei totdat hul vermoë oorskry is.

Verkope het verdubbel in die halfjaar en die getal aktiewe klante het met meer as 200% toegeneem.

“Ons het ons vermoë uitgebrei, maar selfs daarna kon ons selfs nie heeltemal aan die vraag voldoen nie, soos niemand waarskynlik hier of oorsee kon nie.”

Wins wink nog nie

Brasher sê hy twyfel of daar enige rolspeler ter wêreld is wat aanlyn kruidenierswarewinkels winsgewend kan bedryf.

“Dit is nie tradisioneel ’n plek waar wins gesoek word nie, maar dis deel van die toekoms van die bedryf en dis hoekom ons ons belang hierin verhoog, soos ander kleinhandelaars in die wêreld ook doen.”

Hy sê selfs nie suiwer aanlyn groepe kry dit reg om kruideniersware winsgewend te verkoop nie.

“Ons moet net verstandig wees in wat ons doen. Daar is geleentheid om te groei, maar in die verlede het die meeste aanlyn kruidenierswaregroepe geld verloor.”

Hy glo egter Pick n Pay het ’n goeie plan.

Lerena Olivier, finansiële direkteur, het gesê hulle werk hard daaraan om tot gelykbreek te kom en glo in die tweede helfte van die boekjaar gaan groot vordering daarmee gemaak word.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Richard Brasher  |  Klere  |  Aanlyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.