Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pick n Pay stel Nederlander aan as uitvoerende hoof

Die winkelgroep Pick n Pay se nuwe uitvoerende hoof, Pieter Boone (53), is ’n Nederlandse burger met 25 jaar nasionale ondervinding in die kleinhandelsektor.

Pieter Boone (53) is aangewys as Pick n Pay se nuwe uitvoerende hoof.

Die Brit Richard Brasher, Pick n Pay se huidige uitvoerende hoof, tree op 21 April af.

Sy uittrede is reeds voorheen aangekondig.

Boone is gekies ná ’n baie deeglike soektog plaaslik en internasionaal, sê Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay.

Boone was voorheen die bedryfshoof van Metro AG.

Ackerman sê hulle is hartseer oor Brasher se vertrek.

“Hy het ’n merkwaardige ommeswaai in ons maatskappy gelei, en die Pick n Pay-groep is nou onmeetbaar sterker as toe hy in 2013 die leisels oorgeneem het.”

Onder Brasher se leiding het die kleinhandelaar sy getal winkels byna verdubbel en het die omset van R55 miljard tot amper R90 miljard per jaar toegeneem.

Ackerman sê hy het ook bestendige en volhoubare winsgroei gelewer, die onderneming gemoderniseer, sy aanbod van produkte uitgebrei en die maatskappy doeltreffender gemaak.

Hierbenewens het hy vir Boxer in een van Afrika se snels groeiende winkelgroepe op sy gebied (beperkte reeks teen afslagpryse) verander.

Richard Brasher

Brasher het die direksie langer as ’n jaar gelede meegedeel dat hy gaan aftree. Hy het daarna ingestem om aan te bly deur die Covid-19-krisis en totdat ’n geskikte opvolger gekry is.

Ackerman sê Boone is uit talle kandidate gekies. “Toe ons hom ontmoet, het ons geweet ons het die regte persoon gevind.”

Hy sê Boone het buitengewone internasionale kleinhandelervaring.

Hy het deurgaans bewys dat hy in moeilike en opkomende markte aan die stuur van ’n onderneming kan wees en volhoubare groei kan lewer.

Ackerman glo Boon se uitgebreide ervaring sal goed te pas kom in die maatskappy.

“Dit is in baie opsigte ’n hartseerdag vir my, maar ek is ook baie trots,” sê Brasher in ’n verklaring.

Hy het 35 jaar lank op vier vastelande en in 24 lande in die kleinhandelsektor gewerk. “Ek het die hoogste pos in twee baie goeie kleinhandelaars gehad en het ’n werklik onvergeetlike loopbaan agter die rug.”

Hy sê sy doel agt jaar gelede was om die onderneming in ’n baie sterker posisie te laat.

Die afgelope jaar was een van die onvergeetlikste in sy lang loopbaan. “Ons het te midde van die ongelooflikste stormwinde sterk bly staan.”

Hy gaan in die komende maande help om ’n gladde oorgang te verseker.

Boone sê hy sluit hom by Pick n Pay aan in ’n stadium dat die onderneming in ’n baie sterk posisie is met groot potensiaal om te groei.

Boone sê kleinhandel gaan wêreldwyd deur groot verandering en dit is sy werk om te verseker dat Pick n Pay aan die voorpunt daarvan bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.