Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pick n Pay verklaar oorlog: Wat jy moet weet

Die stryd om kos en kruideniersware aan armer Suid-Afrikaners te verkoop, gaan waarskynlik oor die volgende paar jaar witwarm word.

Pick n Pay het Woensdag basies oorlog teen sy mededingers verklaar toe sowel die uittredende as die nuwe uitvoerende hoof klem gelê het op die groeigeleenthede in dié mark.

kos
Pick n Pay se totale markaandeel vir kos en kruideniersware is 16%.

Pick n Pay, wat ook die winkelgroep Boxer besit, het ’n markaandeel van slegs 11% in dié mark, teenoor 27% van middelinkomste-verbruikers en 22% van welvarende Suid-Afrikaners. Algeheel is Pick n Pay se markaandeel vir kos en kruideniersware 16%.

Die mark vir arm verbruikers was in 2020 R390 miljard werd, 66% van die totale mark vir kos en kruideniersware van R595 miljard.

Pick n Pay voorspel dat dit teen 2025 sal groei tot R530 miljard, steeds sowat 65% van die geraamde totale mark van R820 miljard.

As Pick n Pay sy markaandeel tot 12% kan verhoog, sal dit hom R5 miljard se bykomende verkope in die sak bring.

k

Mededingers soos Massmart en Shoprite en ook onafhanklike winkelgroepe en informele spazawinkels oorheers onder armer verbruikers.

Shoprite besit Usave.

Massmart besit onder meer Makro en Game, asook die afslag-groothandelaars Cambridge Food en Rhino. Die groep het egter onlangs gesê hy is op soek na kopers vir dié winkels as deel van sy herstrukturering.

Gevra of Pick n Pay in Cambridge en Rhino belang stel, het Richard Brasher, uittredende uitvoerende hoof, gesê hulle is bereid om oor enige verkryging te praat – maar slegs as die prys reg is. Hulle is egter ook gemaklik met Boxer se organiese groei.

Lerena Olivier, finansiële hoof van Pick n Pay, het aan Netwerk24 bevestig hulle wag vir Massmart om formeel met die verkoopproses te begin en sal beslis ondersoek instel.

Onder Brasher se bestuur van agt jaar het die getal Boxer-winkels verdubbel.

Pick n Pay doen nie afsonderlik verslag oor Boxer se syfers nie. Die hele groep se omset het in die boekjaar tot einde Februarie met 4,3% tot R93,1 miljard gegroei, met groei van 5,3% net in Suid-Afrika. Verkope van kos en kruideniersware het egter met 10% opgeskiet.

LEES OOK: ‘Goeie einde’ vir Brasher-era

Boxer se aanbod produkte is kleiner as dié van Pick n Pay, met sowat 3 500 verskillende produkte teenoor tussen 15 000 en 25 000 in Pick n Pay. Boxer het byvoorbeeld min toestelle en elektronika en verkoop glad nie klere nie. Die fokus is op basiese kos, maar vleis is ook baie belangrik en elke Boxer het ’n slagtery, verduidelik Olivier.

Intussen gaan Boxer voort om verspreiding te sentraliseer, met 90% van winkels wat reeds van hul produkte uit verspreidingsentrums ontvang. Altesame 55% van produkte wat in Boxer verkoop word, kom uit die sentrale verspreidingsentrums, teenoor 80% van produkte in Pick n Pay.

Pick n Pay het beklemtoon hy gaan nie welvarende of middelklas-verbruikers afskeep nie, maar dis baie duidelik die groep glo die grootste geleenthede vir die volgende paar jaar lê in die lae-inkomstemark.

Nuwe uitvoerende hoof

Peter Boone, wat Woensdag by Brasher oorgeneem het as uitvoerende hoof, beskryf Boxer as “die beste afslagwinkel in Afrika”.

pick n pay
Peter Boone, nuwe uitvoerende hoof van Pick n Pay.

Boone, wie se van uitgespreek word soos die Afrikaanse “bone”, praat met ’n sterk Nederlandse aksent. Hy is in Utrecht gebore en het 25 jaar ervaring van kleinhandel, onder meer in Asië, Latyns-Amerika, Rusland en Europa.

Hy sê hy hou veral daarvan om in ontluikende markte te werk.

Boone het die waardes van Pick n Pay geloof. Hy beskryf dit was “merkwaardig” dat Pick n Pay nog altyd klante eerste geplaas het.

Boone het Raymond Ackerman, wat Pick n Pay opgebou het, geloof. Ackerman het in Maart 90 jaar oud geword, en het die voorlegging self bygewoon om van Brasher afskeid te neem.

LEES OOK: Raymond Ackerman word 90: Hier is sy boodskap

Boone het Boxer as die “juweel” in die Pick n Pay-groep beskryf waarvoor hy geleenthede wil beskou.

Hy het beklemtoon dat hy mense as ’n maatskappy se beste bate beskou en het gesê hy “lei deur mense”.

Hy het sy visie vir die groep uiteengesit, insluitend om Pick n Pay klante se eerste keuse te maak met die regte keuse produkte en promosies.

Richard Brasher neem afskeid

Die gewoonlik joviale Brasher het minder grappies as gewoonlik gemaak en selfs bewoë geraak met sy afskeidstoespraak.

Richard Brasher, wat pas afgetree het.

Hy het dit as sy beste jaar by Pick n Pay beskryf ondanks die enorme probleme wat Covid-19 meegebring het. Hy het medelye uitgespreek met almal wat kollegas, familielede en vriende aan die pandemie afgestaan het.

Brasher, ’n Brit, het besluit om ná sy aftrede in Suid-Afrika aan te bly.

Hy sê die brande in Kaapstad het hom diep geraak. “Dit maak nie saak hoe hard ons dink ons werk nie, om te sien hoe brandbestryders hul vuurvaste pakke aantrek en teen heuwels ophardloop om brande te blus, maak ’n mens nederig.

“As ek teen ’n heuwel moes ophardloop, sonder daardie klere, sou ek nie eens ’n kers kon doodblaas nie.

“Dit het my herinner om nie vir myself jammer te voel nie.”

Brasher het Raymond Ackerman bedank vir die geleentheid om by Pick n Pay te werk. “Dankie dat jy jou vertroue in my gestel het.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Kruideniersware  |  Winkels  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.