Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pick n Pay verloor R4 mjd. se verkope

Pick n Pay raam dat die inperkingsmaatreëls hom in sy pas afgelope boekjaar R4 miljard se verkope gekos het.

Pick n Pay se kosverkope het goed gevaar, maar perke op meer winsgewende produkte het die kleinhandelaar geknou.

Net twee weke van Pick n Pay se boekjaar, wat op 1 Maart 2020 begin het, het buite die ramptoestand vir die Covid-19-pandemie geval. Die ramptoestand is op 15 Maart afgekondig en geld steeds, met wisselende vlakke van inperking.

Die verlies in verkope was juis op produkte met hoër winsgrense, soos drank, sigarette, klere, huisware en selfs voorbereide maaltye.

Ondanks die inperkings het Pick n Pay se totale omset met 4,3% gestyg, en met 3,1% as net winkels wat ook in albei boekjare sake gedoen het, vergelyk word (vergelykbare verkope). In die eerste helfte van die boekjaar was groei 2,6% en in die tweede helfte 6%.

In syfers

Die groep verwag dat al die maatstawwe van wins, insluitend wesensverdienste per aandeel, met tussen 15% en 25% gaan daal. Dit word vererger deur hiperinflasie in Zimbabwe en die koste van afleggings. Daarsonder gaan die wesensverdienste met minder as 10% daal.

Pick n Pay reik sy resultate op 21 April uit.

Verkope van kos en kruideniersware in Suid-Afrika het met 10% gestyg (vergelykbare verkope: 8,4%). Shoprite het onlangs bekend gemaak dat sy verkope van kos en kruideniersware met 7,8% gestyg het vir die ses maande tot Desember, terwyl kosverkope by Woolworths met 10,9% gestyg het vir die ses maande tot Februarie.

Pick n Pay se verkope van drank en tabakprodukte het met 31% geval. Sigaretverkope was van 27 Maart tot 17 Augustus verbode, dus die meeste van Pick n Pay se eerste halfjaar (tot einde Augustus), en die verbod op drankverkope het op 209 handelsdae gegeld. In net drie weke van die hele boekjaar was daar geen beperking op drankverkope nie.

Klereverkope het vir die hele boekjaar met 1,3% gestyg, maar dit was in die tweede helfte van die boekjaar stewig op 6,7% nadat dit in die eerste halfjaar met 4,2% gedaal het. Klereverkope was in die eerste vyf weke van die inperking verbode en toe beperk tot wintersklere. Pick n Pay sê hy wen markaandeel in die mark vir billike klere.

Pick n Pay se pryse het met gemiddeld 3,8% gestyg.

Covid-19-koste

Pick n Pay het R200 miljoen se bykomende koste aangegaan wat regstreeks met die pandemie verband hou. Dit was:

  • R130 miljoen vir veiligheid en higiëne (maskers, ontsmettingsmiddels en so meer);
  • R50 miljoen as waarderingsbonus vir personeel; en
  • R20 miljoen vir bykomende veiligheid en kommunikasie.

Skeidingspakkette

Pick n Pay is besig met herstrukturering, wat hom die afgelope boekjaar R200 miljoen aan skeidingspakkette gekos het.

R100 miljoen was aan mense wat vrywillige skeidingspakkette aanvaar het en R100 miljoen vir afleggings.

Veral die streekkantore en steundienste se personeel is verminder.

Die besparings op die totale salarisrekening vergoed heeltemal vir dié koste, volgens Pick n Pay.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Kruideniersware  |  Winkels  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Kleinhandelaars  |  Staat Van Inperking  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.