Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pilmaker Adcock se wins styg skerp
Andy Hall, uitvoerende hoof van Adcock Ingram.

Die pilmaker Adcock Ingram se aandeelprys het sterk met 3% gestyg nadat halfjaarresultate tot einde Desember getoon het sy wins is meer as die helfte hoër op R285,7 miljoen.

Andy Hall, uitvoerende hoof van Adcock, het die wins wat die maatskappy gemaak het as “uiters bevredigend” beskryf.

Hy het gesê die onderneming is gereinig van al die swak presterende bates wat geërf is sedert hy in 2014 beheer van Adcock oorgeneem is. Dié bedrywighede in Indië en Ghana is uiteindelik ook verkoop.

Volgens Hall begin hulle nou die positiewe impak van die herstrukturering van Adcock se bedrywighede ervaar.

Verbruikers onder druk

Die druk waaronder verbruikers is, kon gesien word in die verkope van Adcock-medisyne wat van die rak verkoop word.

Die verbruikersafdeling se omset is net 2% hoër, maar sy verkope Panado, Compral en Bioplus het weer vinniger gegroei as die sektor waarin dit meeding.

“Die afdeling voel die moeilike ekonomiese toestande en besteebare inkomste wat onder druk is.”

Die goeie kostebeheer het egter verseker die afdeling se handelswins is 24% hoër tot R52,4 miljoen.

Prysverhogings help

Die groep se omset het 11% tot R2,9 miljard gestyg ten spyte van ’n mark waar verbruikers skerp remme aangeslaan het met hoeveel medisyne hulle koop.

Die groei in omset is grootliks weens die staatsbeheerde prysverhoging van 6,4% wat in die afgelope jaar aan medisynevervaardigers toegestaan is.Twee verhogings is in die afgelope jaar toegestaan omdat die rand so erg verswak het verlede jaar.

Die res van die groei in sy omset kom van meer medisyne wat verkoop is -wat beteken markaandeel is van mededingers gewen. Adcock se verkope is 4,8% hoër teenoor dié in die res van die mark wat net 1% meer medisyne verkoop het.

Bedryfskoste beheer

Die bedryfskoste is “goed beheer” en het net met 5,9% gestyg.

Dit het tot gevolg dat sy handelswins met 22% tot R342 miljoen gestyg het.

Hall het gesê Adcock is vandag ’n goed bestuurde besigheid wat sy vertoning op dié trant kan voortsit.

Die prysverhoging van 7,5% wat toegelaat is deur die staat vir 2017, tree more op sy produkte in werking.

Hy het gesê die groep het ’n gesonde reserwe kontant en vir verkrygings of vennootskappe gaan aangegaan word. Volgens hom fokus elke afdeling se groeistrategie op verkrygings en vennootskappe.

Die fokus is veral op produkte waarop daar nie prysbeheer is nie, soos persoonlike en babasorgprodukte.

’n Voorbeeld daarvan is die sonskermreeks van Island Tribe wat Adcock van Maart af begin bemark.

In voorskrifprodukte word vennootskappe met die multinasionale farmaseutiese maatskappye vergroot.

Die dividend is met ’n stewige 25% tot 63 sent per aandeel verhoog.

Allergiepille laat wiel

Die groep se top-handelsmerke Allergex, Sitro-Soda, Dilinct en Adco-Linctopent het almal dubbelsyfergroei in verkope beleef.

Die medisyne is in Adcock se besigheidsafdeling vir pille wat oor die toonbank verkoop word, maar waarvoor nie ’n voorskrif nodig is nie.

Dié afdeling is die grootste bydraer tot Adcock se wins en is die tweede grootste in terme van omset.

Sy omset het 16% gestyg tot R884,6 miljoen en die handelswins het met 13% tot R145,6 miljoen gestyg.

Hall het gesê die mark is nog verskriklik moeilik, en as dit nie is vir prysverhogings nie, sou dit in geheel nie gegroei het nie.

Volgens Hall sukkel verbruikers so dat hulle na goedkoper alternatiewe produkte asook kleiner pakke pille soek.

Dié afdeling het onlangs ook vir Brolene Eye Drops en Stop-Allerg Eye Drops gekoop.

Meer bemarking aan dokters

Adcock het ook met voorskrifmedisyne sterker as die res van die mark gegroei en dus markaandeel gewen.

Die res van die mark het geen volumegroei gehad nie.

Dit is sy grootste afdeling in terme van omset.

Die omset het met 13% tot meer as R1 miljard gestyg.

Dit word grootliks toegeskryf aan die staatsbeheerde prysverhoging.

Sy bedryfswins het skerp met amper 34% tot R116,5 miljoen gestyg.

Hall het gesê hulle het van strategie verander en meer bemarking word aan dokters gedoen wat beteken die getal voorskrifte wat geskryf word neem toe.

Sy grootste medisyne in die afdeling is ’n anti-retroviralemiddel wat aan die private sektor verkoop word.

Meer oor:  Adcock Ingram  |  Medisyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.