Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pioneer bly SA se mieliepap-koning
Tertius Carstens, uitvoerende hoof van Pioneer Foods.Foto: Pioneer

Pioneer Foods is steeds die mieliepap-koning van Suid-Afrika, met sy White Star-handelsnaam wat die beste verkoper in die land is.

Pioneer het veral in die eerste helfte van sy afgelope boekjaar buitengewone wins met mieliemeel behaal. Dis deels toe te skryf aan die vorige jaar se swak prestasie waarteen dit vergelyk word, het Tertius Carstens, uitvoerende hoof van Pioneer, Maandag gesê.

Pioneer, met ander bekende handelsname soos Weet-bix, Ceres, Liqui Fruit, ProNutro en Marmite in sy stal, het in die jaar tot einde September sy bedryfswins met 26% tot R1,603 miljard verhoog, en die netto kontantwins uit bedrywighede is 25% hoër op R2,1 miljard.

’n Slotdividend van R2,60 per aandeel is verklaar, wat dieselfde is as verlede jaar s’n. Die voljaardividend is R3,65.

Pioneer se koshandelsname het in die boekjaar stewige posisies in hul onderskeie markte behou, met White Star wat byvoorbeeld ’n 30,7%-markaandeel het, Sasko-meel wat 31,2% het in die mark vir meel, en Sasko-brood wat ’n markaandeel van 27,8% in die broodmark het.

Pioneer se netto wins vir die jaar was 48% hoër op R1,077 miljard.

Sy gesamentlike onderneming met Heinz Foods het egter in die boekjaar gesukkel. Heinz Foods is in Junie ten volle uitgekoop en sedertdien pak Pioneer die bedryfsprobleme aan. Volgens Carstens is daar gesorg dat die inhuis-aanlegte by Heinz weer ordentlik werk, en aan die vraagkant word seker gemaak Pioneer se toegang tot die kleinhandelmark word optimaal benut om produkte in die afdeling soos Wellington’s-souse en die Todays-bevrorevoedsel in die mark te plaas. Baie werk lê nog voor, sê Carstens.

Oor die feit dat brood- en koekmeel nou ook van belasting op toegevoegde waarde vrygestel gaan word, het Carstens gesê die groep het nog nie somme gemaak oor hoe dit Pioneer kan raak nie, maar die aanname is dat dit verbruikersvraag na die produkte behoort te stimuleer, wat uiteindelik positief sal wees vir Pioneer. “Pioneer is die grootste koring-meulenaar in die land.”

Die groep het in die boekjaar sy netto skuld van R612 miljoen tot R442 miljoen verlaag, en die skuld-tot-aandeelverhouding is van 8% tot 5% verklein.

Pioneer se White Star-mieliemeel is die markleier in die mieliepap-kategorie.

Pioneer het voordeel getrek uit laer mieliepryse, maar hoewel mielies weer duurder geraak het, is daar steeds deflasie (laer pryse) in verkooppryse van produkte soos mieliemeel. Inligting van Nielsen Trade Desk wys mieliemeelpryse was oor die boekjaar in die algemeen 25% laer, teenoor Pioneer se eie White Star se pryse wat 11% laer was.

By Pioneer se kruideniersafdeling, wat sy ontbytgraan, vrugtesap en souse insluit, het bedryfswins met 17% gestyg tot R419 miljoen. Die Weet-bix-fabriek se vermoë is uitgebrei en ProNutro het die beste markaandeel in sy kategorie in die afgelope drie jaar, blyk uit Pioneer se aanbieding aan ontleders en beleggers.

Die droëvrugte-afdeling, Safari, het ’n rekord-rosyntjie-oes behaal en daar was ’n sterk internasionale vraag na Safari se rosyntjies en ander droëvrugte weens beter gehalte en korter oestye in mededingende markte soos Amerika en Griekeland.

Die droogte in die Wes-Kaap het wel die lewering van korente en gedroogde appelkose geraak.

Pioneer sê hy vorder om ’n internasionale mark te vind vir sy plaaslike oorskot van droëperskes en pere.

Pioneer se aandeelprys op die JSE was Maandagmiddag bykans onveranderd op R77,51. Dis nog ver van die hoogtepunt van R145 wat in Januarie vanjaar behaal is.

  • Carstens is uitvoerende hoof van Pioneer sedert Oktober verlede jaar, toe Phil Roux aangekondig het hy tree uit. Roux dien wel nog as strategiese adviseur van die maatskappy tot November 2019. Carstens is al sedert 1994 by Pioneer en het in verskeie leiersposte binne die groep gedien.
Meer oor:  Pioneer Foods  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Mielies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.