Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pioneer reg vir PepsiCo
Pioneer Foods word deur PepsiCo oorgeneem. Foto: PepsiCo

As alles volgens plan verloop, het Pioneer Foods pas sy laaste stel resultate as genoteerde Suid-Afrikaanse maatskappy uitgereik voordat hy ’n afdeling van die Amerikaanse kos-en-koeldrankreus PepsiCo word.

Vir eers hoef Suid-Afrikaners nie bekommerd te wees dat die bekendste Pioneer-handelsname, soos Sasko, Ceres en Bokomo, van die winkelrakke gaan verdwyn nie.

Tertius Carstens, uitvoerende hoof, sê PepsiCo se model wêreldwyd is om plaaslike handelsname uit te bou, selfs naas sy eie handelsname. Só word Simba byvoorbeeld reeds naas Lays op skyfierakke verkoop.

Nietemin gee Carstens toe dat Pioneer dalk oor ’n paar jaar anders daar kan uitsien as tans omdat PepsiCo ongetwyfeld krities na die onderneming sal kyk.

PepsiCo-transaksie

Die transaksie, waardeur Pioneer teen R110 per aandeel (altesame nagenoeg R23 miljard) uitgekoop word, sal na verwagting vroeg in 2020 afgehandel word.

Aandeelhouers het dit reeds goedgekeur.

Dis nog onderhewig aan goedkeuring deur die Mededingingstribunaal in Suid-Afrika, asook mededingingsowerhede in onder meer Namibië, Botswana, Nigerië, Kenia en Duitsland.

Die afgelope boekjaar, tot einde September, kon Pioneer daarin slaag om sy omset met 11% tot R22,3 miljard te groei. Daarvan is nagenoeg 2 persentasiepunte ’n styging in volume en 9 persentasiepunte is prysstygings.

Carstens sê inflasie van 9% – erg soos wat dit dalk vir verbruikers klink – was nie genoeg om die skerp styging in onder meer mieliepryse, wat 25% duurder geword het, te dek nie.

In die lig van die skerp stygings in grondstowwe soos mielies, het die maatskappy vir die tweede jaar in ’n ry sy kapitaalbesteding onder R700 miljoen gehou.

Carstens sê in die huidige ekonomie moet die maatskappy sy skuld-tot-eienaarsbelang probeer laag hou en moes “oordeel aan die dag lê” met kapitaalbesteding – dalk nié die boodskap wat pres. Cyril Ramaphosa kort ná sy tweede beleggingskonferensie sou wou hoor nie.

Die groep bou nou wel ’n bakkery in Nigerië.

Pioneer bring ook op ’n ander gebied ’n ongemaklike boodskap waar die werklikheid lynreg bots met politieke praatjies oor hoe Afrikalande onderling moet handel dryf. Die maatskappy sê weens die swak ekonomie is proteksionisme in Afrika aan die toeneem.

Carstens noem as voorbeeld dat Angola die invoerbelasting op sap byna oornag skerp verhoog het. “Dis nou ekonomies onmoontlik om sap soontoe uit te voer.”

Pioneer doen verslag in drie segmente: noodsaaklike kos, kruideniersware en internasionaal.

In syfers
  • Inkomste: Styg met 11% tot R22,3 miljard
  • Bedryfswins: Daal met 13% tot R1,4 miljard
  • Verdienste per aandeel: Daal met 17% tot R4,79
  • Wesensverdienste per aandeel: Daal met 6% tot R5,11
  • Netto batewaarde per aandeel : Styg met 3% tot R46,15
  • Dividend: Daal met 11% tot R3,24 per aandeel

Noodsaaklike kos

Dié afdeling sluit brood, pasta, mieliemeel en peule soos lensies en bone in, met handelsname soos White Star, Sasko en Imbo.

Die afdeling het die groep se bedryfswinsgrens van die hele groep afgerem – dit het van 8% tot 6,2% gedaal.

Pioneer sê White Star-kitspap het sy markleidende posisie behou, maar sy pasta-afdeling ly weens goedkoop ingevoerde pasta. Spekko-rys kon sy markaandeel uitbou.

Kruideniersware

Dié afdeling sluit drinkgoed (Liqui-Fruit, Ceres, Fruitree, Lipton), graanprodukte (ProNutro, Weet-Bix, FutureLife, Moir’s) en ’n algemene kosafdeling (Marmite, Redro, Today, Wellington’s, Mama’s Pies) in.

Die afdeling vir langduur-vrugtesap het goed gevaar, met volumegroei van 7%. Graanvlokkies is weer winsgewend.

Internasionaal

Die uitvoer van droëvrugte is geknou deur ’n oormaat voorraad uit die VSA en ’n beter druiweoes in Turkye.

In Brittanje groei Pioneer se verkope van private-etiket-produkte.

    Meer oor:  Pepsico  |  Pioneer Foods  |  Resultate  |  Kosgroep
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.