Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pioneer: Verkryging sal ‘min impak’ op werkers hê
Illustrative image of Marmite, a Unilever food pro
Pioneer Foods, wat onder meer Marmite vervaardig, word deur die Amerikaanse PepsiCo oorgekoop. Foto: Getty Images

Die voorgenome integrasie van Pioneer Foods met PepsiCo se bedrywighede in Afrika behoort “min of geen impak” op personeel te hê nie.

Hoewel Tertius Carstens, uitvoerende hoof van Pioneer, nog nie self weet wat sy rol gaan wees ná die verkryging nie, sê hy PepsiCo was in onderhandelinge positief oor die talent by Pioneer.

PepsiCo se aanbod om al Pioneer se aandele teen R110 elk te verkry, is Vrydagoggend aangekondig. Dit het Pioneer se aandeel met nagenoeg 30% tot meer as R100 laat opskiet.

LEES OOK: Pepsi wil bekende SA kosgroep koop, denoteer

Die verwagting bestaan volgens verskeie mense met wie Netwerk24 gepraat het dat die Mededingingskommissie dit as ’n voorwaarde gaan stel dat niemand as gevolg van die verkryging hul werk mag verloor in ’n sekere tyd vanaf die verkryging nie. Dié vereiste is gestel toe Walmart in Massmart belê het en toe Anheuser-Busch InBev vir SABMiller gekoop het.

Die Mededingingsowerheid kan onder meer ook vereistes stel vir verskaffersontwikkeling, veral van kleinboere en kleinsakeondernemings, en vir swart ekonomiese bemagtiging.

Carstens self beklemtoon hy weet nog nie watter voorwaardes die Mededingingskommissie gaan stel nie. Die aansoek vir die verkryging, wat Vrydagoggend aangekondig is, is nog nie by die kommissie ingedien nie en dis buitendien die verkryger, PepsiCo, wat die ondernemings moet verskaf ten einde die transaksie te laat slaag.

Benewens goedkeuring deur dié kommissie moet die Reserwebank en JSE dit goedkeur.

Daarby moet Pioneer se aandeelhouers daaroor stem, asook die aandeelhouers van Zeder, wat 28,23% van Pioneer besit.

LEES OOK: Zeder: PepsiCo-verkryging is ‘opwindend’

PepsiCo het aangekondig dat hy ’n nuwe bedryfsafdeling vir Afrika suid van die Sahara oprig. Eugene Willemsen, ’n PepsiCo-veteraan met 25 jaar ondervinding, sal aan die hoof daarvan staan.

Willemsen het breë ervaring in ontluikende markte en het voorheen in Turkye en Suidoos-Europa gewerk. Die nuwe afdeling se resultate sal deel wees van PepsiCo se groter afdeling vir Europa en Afrika suid van die Sahara.

Carstens sê dit wys PepsiCo se verbintenis tot Suid-Afrika en Afrika dat hy senior mense hierheen stuur en dit nie “van ver af probeer bestuur” nie.

Carstens is vol vertroue dat die verkryging positief is vir Pioneer se welbekende produkte, wat nou toegang gaan kry tot ’n baie groter verspreidingsnetwerk. Hoewel hy waarsku dat hy nie kan voorspel wat PepsiCo gaan doen nie, is daar byvoorbeeld die potensiaal om vrugtesappe soos Ceres en Liqui Fruit oorsee te produseer en nie net vanuit Suid-Afrika uit te voer nie.

Carstens sê hy verwag dat die verkryging positief beleef sal word. Benewens die korttermyn- finansiële voordeel vir Pioneer se aandeelhouers, beteken dit ’n groot buitelandse belegging. Die belegging van $1,7 miljard (nagenoeg R23 miljard) sou getel kon word as 1,7% van die $100 miljard se regstreekse buitelandse investering wat pres. Cyril Ramaphosa oor tien jaar na Suid-Afrika wil lok.

PepsiCo het volgens die aankondiging oor die voorgenome transaksie onder meer onderneem om werkskepping en maatskaplike opheffing te bevorder, volhoubare boerdery in Suid-Afrika te ondersteun en om kleinboere, ook vroue, te bemagtig.

Meer oor:  Pepsico  |  Pioneer Foods  |  Maatskappye  |  Verkryging  |  Oorname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.