Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Plan vir motors kan poste kos’

Die voorstel van die Mededingingskommissie dat jy kan kies waar om jou motor te laat diens sonder dat jou waarborg verval, is gevaarlik en teenproduktief, sê die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa).

Die Mededingingskommissie is besorg oor beperkte verbruikerskeuse en die beweerde uitsluiting van onafhanklike werkwinkels vir onderhoud,

Voertuigvervaardigers se winsmarges in Suid-Afrika is knap – en as die konsepriglyne afgedwing word, kan dit Suid-Afrika se mededingendheid skaad.

Die voertuigbedryf dra 6,9% tot die bruto binnelandse produk by en vervaardigers verskaf werk aan meer as 110 000 mense.

Rolspelers in dié bedryf het hulle verlede jaar verbind om R6 miljard te belê om swart mense se deelname in die voertuig-verskaffingsketting uit te brei.

Naamsa sê die kommissie se voorstel kom neer op ’n strafbenadering om transformasie te bereik waartoe die bedryf hom reeds verbind het en wat stelselmatig tot voordeel van almal geïmplementeer sal word.

Volgens konsepriglyne wat in die Staatskoerant gepubliseer is, sal motoreienaars kan kies waar om voertuie onder waarborg te laat nasien en sal hulle nie gebind wees om dit by handelaars van die voertuigvervaardiger te doen om die waarborg in stand te hou nie.

Die beweging Right 2 Repair (R2R), wat hom vir verbruikers se vrye keuse hieroor beywer, verwelkom die konsepriglyne.

Die Motor Industry Workshop Association (Miwa) en die Suid-Afrikaanse vereniging vir motorherstelwerk (Sambra) is verheug oor die groter keuse wat verbruikers sal hê en die geleenthede vir onafhanklike diensverskaffers.

Miwa verteenwoordig meer as 2 500 geakkrediteerde algemene herstellers, outo-elektrisiëns, asook lugversorgings- en toebehore-ondernemings. Sambra se lede is verantwoordelik vir meer as 80% van alle versekeringseise vir herstelwerk.

Les McMaster van R2R het die afgelope week aan RSG Geldsake gesê ’n onafhanklike werkwinkel kan tussen 30% en 50% goedkoper wees as die voertuigvervaardiger se handelaar sonder om swakker onderdele te gebruik.

Volgens hom kry onafhanklike werkwinkels al hoe swaarder omdat diensplanne tot so lank as tien jaar kan geld en die waarborg net geldig is as jy die werk by ’n handelaar laat doen. In Europa word tot 60% van motors by handelaars sonder ’n diensplan verkoop en motor­eienaars kan versiening by onafhanklike werkwinkels laat doen.

Die kommissie sê die riglyne sal mededinging in die naverkope-voertuigmark bevorder en kleiner ondernemings en histories benadeelde individue toegang tot die mark gee.

Michael Mabasa, uitvoerende hoof van Naamsa, sê die manier waarop die konsepriglyne gepubliseer is, maak ’n bespotting van hul gesprekke die afgelope sewe maande met die kommissie oor volhoubare transformasie en hervormings. Die riglyne sal “die bestaande sakemodelle van alle multinasionale voertuigmaatskappye verander, wat voortdurend in Suid-Afrika se ekonomie, arbeidsmag en toekomstige groei belê”.

Die riglyne in sy huidige vorm kan ’n reuse-impak op die ekonomie hê as dit nie behoorlik bestuur en stelselmatig ingestel word nie, sê Mabasa.

Die kommissie sê hy het die riglyne opgestel omdat hy besorg is oor beperkte verbruikerskeuse, beweerde uitsluiting van onafhanklike werkwinkels vir onderhoud, meganiese herstelwerk en herstel van bakwerk van motors onder waarborg, beweerde onregverdige toekenning van werk deur versekeraars vir die herstel van bakwerk, beperkings op die verkoop van onderdele met die handelsmerk van oorspronklike toerustingvervaardigers (OEM’s) aan onafhanklike diensverskaffers, en hindernisse wat kleiner en histories benadeelde ondernemings uit die mark hou.

Van die voorgestelde riglyne is:

  • OEM’s moet verbruikers inlig dat dit nie verpligtend is om dienste, onderhoudswerk, bakwerk-herstelwerk, nie-strukturele herstelwerk en meganiese herstelwerk net by goedgekeurde handelaars en goedgekeurde diensverskaffers te doen nie;
  • OEM’s en/of goedgekeurde handelaars moet verbruikers toelaat om nie-oorspronklike onderdele te gebruik waar die betrokke onderdeel se waarborg verval het sonder dat die res van die voertuig se waarborg in so geval nietig verklaar word;
  • OEM’s mag nie minimum kleinhandelpryse vir onderdele en komponente vasstel nie en mag nie ’n diensverskaffer se vermoë om onderdele te verkoop beperk nie;
  • Motor- en diensplanne moenie by die verkooppunt deel van die transaksie wees nie, maar afsonderlik van die prys van die motor;
  • Verbruikers moet self kies hoe lank die motorplan vir hul nuwe motor moet geld; en
  • Die motor- of diensplan moet oordraagbaar wees na ’n vervangingsmotor as die versekeraar die motor sou afskryf. As daar nie ’n vervangingsmotor is nie, moet die verbruiker die waardetoevoegingskontrak kan kanselleer of die balans terugkry.

Kommentaar oor die konsepriglyne kan tot 16 Maart ingedien word, maar Naamsa is skepties.

“Ons is baie besorg en skepties of die kommissie hom sal verwerdig om na ons nuwe voorleggings te kyk nadat hy so skielik ’n eensydige U-draai gemaak het.”

Mabasa het aan Rapport gesê Naamsa raadpleeg sy lede om te bepaal of ’n gemeenskaplike reaksie steeds enige waarde tot die proses sal toevoeg.

Naamsa verteenwoordig die sewe vervaardigers van oorspronklike toerusting, naamlik Toyota, BMW, Mercedes-Benz, Ford, Nissan, Isuzu en Volkswagen.

Meer oor:  Naamsa  |  Miwa  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Mededingingskommissie  |  Instandhouding  |  Waarborg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.