Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Plantjie-projek maak tuiniers van oud en jonk

Die land is aan die plant. Enigiets van radyse tot wortels, basiliekruid tot roket, en sonneblom tot kosmos bot in klein bioafbreekbare houers in voorhuise, tuine en kombuisvensterbanke.

’n Promosiefoto van hoe geil jou klein tuintjie kan lyk as jy ’n goeie versameling van die saailinge bymekaargemaak het.

’n Plantgier het oud en jonk beetgepak met Checkers se Little Garden 2- projek, wat op 24 Augustus begin het.

Sedertdien is meer as 30% van die miljoene saailing-stelle reeds aan klante uitgedeel. Daar is genoeg stelle om nog vir die volgende paar weke aan klante uit te deel, sê ’n woordvoerder van die winkelgroep.

Checkers het twee jaar gelede die eerste Little Garden-projek aangebied en meer as 190 miljoen saadjies aan klante versprei. Dit was uiters gewild en klante het gereeld gevra dat die projek weer aangebied word, sê die woordvoerder.

Altesame 156 Suid-Afrikaners – meestal vroue – het vir sowat agt maande by ’n produksiefasiliteit in die Johannesburg-omgewing gewerk om die saailing-stelle gereed te kry voordat die projek in winkels begin het.

Baie van die vroue is van Alexandra en Soweto en was werkloos toe hulle by die projek betrek is. Hulle het spesiale opleiding ontvang en al die saad is van plaaslike verskaffers verkry.

Innocentia Jila, een van die spanleiers tydens die voorbereiding van die projek, sê sy het vaardighede geleer wat sy in die toekoms sal kan gebruik.

Die winkelgroep is met die eerste projek gekritiseer omdat die stelle toe oorsee bekom is. Checkers het destyds verduidelik hy het verskeie plaaslike verskaffers genader, maar hulle kon nie die 192 miljoen sade vir die verwagte vraag verskaf nie.

Hoewel die 156 poste tydelike werkskepping was vir die tyd wat dit geneem het om die stelle gereed te kry en te verpak, het 15 van die werkers intussen by ’n ander onderneming werk gekry danksy die kennis en vaardig­hede wat hulle opgedoen het met die Little Garden-projek, sê Checkers.

Vir elke R200 wat jy by Checkers- en Checkers Hyper-supermarkte bestee en waar jy jou Xtra Savings-kaart gebruik, kry jy ’n saailing-stel kompleet met die saad, ’n grond-tablet waarin die saad geplant word, ’n bioafbreekbare potjie, plant- en kweek-instruksies en ’n naambordjie vir elke plant.

Tuinmaak is ’n heerlike aktiwiteit vir oud en jonk, veral noudat mense meer tyd by die huis deurbring.
Willie Peters van Checkers

Die potjies is van papierpulp, die klein koevert waarin die saad is is bio-afreekbaar en die grondtablette is gemaak van die omhulsel van kokosneute. Die versamelaar-skinkbord en verpakking is ook alles herwinbaar.

Die hele versameling bestaan uit 24 plantjies: ses kruiesoorte (waaronder koljander, vinkel en pietersielie), agt blomsoorte (soos magrietjies, gousblomme en floksie) en tien groentesoorte (wat marog, krulkool, blaarslaai en tamatie insluit).

Dephney Uguelo (24) van Soweto is een van die 156 mense wat spesiale opleiding gekry het om die saailing-stelle voor te berei en te verpak in aanloop tot die projek.

Volgens Willie Peters, hoofbestuurder van bemarking by Checkers, is die veldtog teruggebring omdat die eerste tuinbouprojek so gewild was.

“Tuinmaak is ’n heerlike aktiwiteit vir oud en jonk, veral noudat mense meer tyd by die huis deurbring.”

Te oordeel na die belangstelling op ’n Facebook-blad oor die Little Garden 2-projek, is dit beslis nie net kinders wat hul hand aan tuinmaak waag nie. Meer as 2 000 gretige tuiniers deel foto’s en inligting oor hoe hul plantjies vaar, vra raad by mekaar en spog.

“Ná ’n week is die saadjies pragtig aan die ontkiem,” skryf een.

Die Little Garden-projek het gevolg op die sukses van Checkers se Little Shop-projek. Daarmee het klante mini-winkelartikels en -kruideniersware ontvang volgens wat hulle bestee het.

Volgens Checkers is al die artikels wat met die promosieveldtogte uitgedeel word funksionele en herbruikbare speelgoed. Dit was ook ’n goeie geleentheid vir ouers om saam met hul kinders winkel-winkel te speel.

“Little Garden is ’n prettige manier om lojale klante te beloon en terselfdertyd kinders te leer oor die krag van die natuur, hoe om plante te laat groei en waar kos vandaan kom.”

Verskeie van Checkers se verskaffers is deel van die veldtog, met afslagkoepons of toegang tot meer inligting oor sekere produkreekse wat ook op die verpakkingsmateriaal verskyn.

Meer oor:  Checkers  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.