Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Plastiek-staking: ‘Ons is terug in die 1980’s’

Die voortslepende gewelddadige staking in die plastiekbedryf, raak nou ook die vervaardiging van plastiekverpakkingsmateriaal.

Een van die werkers wat deur stakers aangerand is, veg om sy lewe in die hospitaal.Foto: PCASA

As verpakking nie aan kliënte gelewer word nie, is die risiko dat die eindproduk nie vir die verbruiker beskikbaar gaan wees nie, het Johan Pieterse, uitvoerende hoof van die Plastiekomskeppersvereniging van Suid-Afrika (PCASA), Donderdag gesê.

Maar volgens Pieterse is sowat 90% van die sowat 37 000 werkers in dié deel van die plastiekbedryf weer terug by die werk sedert die staking in Oktober begin het.

Dit is dus sowat 10% van die werkers of selfs minder wat nog staak. Pieterse meen dit is hoekom die staking so gewelddadig is – die stakers sien hulle kan nie hul kollegas oortuig om saam te staak nie.

Pieterse sê die bedryf erken werkers se reg om te staak, maar werkers se reg tot ’n veilige werkplek moet ook erken word. Die Grondwet beskerm die reg van enige mens om vry te wees van alle vorms van geweld.

“Ons is nou terug in die 1980’s. Drie petrolbomme is die afgelope week by een van die maatskappye gegooi en drie petrolbomme is by RPC in Durban gegooi. Twee werknemers wat nie vakbondlede is nie, is Woensdagaand aangerand en hul kar is verwoes.”

PCASA het ’n tussentydse hofbevel teen die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) verkry omdat hy die arbeidshof minag wat hom verbied om geweld te pleeg, skade aan eiendom aan te rig of werkers te verhoed om by werkplekke in en uit te gaan. Numsa ignoreer steeds die hofbevel en word deur ’n boete van R1 miljoen in die gesig gestaar, met Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, en Vusumzi Mahbo, hoofonderhandelaar van die vakbondlede, wat boetes van R100 000 of tronkstraf opgelê kan word.

’n Werknemer van Sondi Industries in Benoni wie se naam weerhou is, is deur Numsa-geaffilieerde stakers aangerand.Foto: PCASA

Pieterse sê daar is reeds aan Numsa se oorspronklike looneise toegegee, maar dit blyk die vakbond het vergeet om vir die meerderheid werkerkategorieë vir aanpassings te vra. Dis hoekom daar steeds ’n loondispuut is.

Onderhandelinge onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie gaan op 20 November hervat word, het Pieterse bevestig.

Volgens Pieterse het werkers al in Julie ’n verhoging van 6% gekry en die minimum loon vir die laagste kategorie van werkers is van R28 per uur tot R30,16 per uur verhoog. Die hoogste kategorie se loon is tot R77 per uur verhoog.

Pieterse verduidelik die plastiekbedryf het ’n klein groepie tegniese kundiges in diens, maar die res van die werkers is ongeskoold. Dit is ’n baie arbeidsintensiewe bedryf.

Die gevaar is dat as die koste van outomatisering en arbeid na aan mekaar kom, dit tot werkverliese kan lei.

Die vervaardigers van huishoudelike goedere het meer as een verskaffer van plastiekverpakking, so waar die een fabriek weens die staking sy produksie moes stop, kan die kliënt sy plastiekverpakking by ’n ander verskaffer kry.

Pieterse waarsku wanneer verpakking glad nie meer beskikbaar is nie, sal vervaardigers bloot voltooide produkte invoer, wat ’n verdere impak op die plaaslike ekonomie kan hê.

Die bedryf maak plastiekhouers vir verskeie bedrywe – van bakkies vir margarienvervaardigers, flesse vir rome en kosmetiese produkte tot plastiekbottels vir koeldrankfabrieke.

Meer oor:  Johan Pieterse  |  Plastiekbedryf  |  Pcasa  |  Numsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.