Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Platsak Denel het 3 dae om salarisse te betaal
’n T6-52-kanon van Denel. Die wapentuigvervaardiger het net drie dae om honderdmiljoene rand op te spoor om agterstallige salarisse te betaal. Foto: Denel

Regter André van Niekerk het Denel net drie dae gegee om honderdmiljoene rand se agterstallige salarisse te betaal aan sy sowat 3 800 werknemers.

Vir Solidariteit, wat saam met die vakbond Uasa die saak gebring het, is dit ’n enorme oorwinning, sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, maar vir Denel is die uitkoms nog onseker.

“Ons weet ons moet betaal en ons wil,” het Pam Malinda, woordvoerder van Denel, Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Denel het nie Dinsdag die saak teengestaan nie, en Malinda sê dit is omdat hulle dit nie betwis dat hulle salarisse moet betaal nie. Dis so eenvoudig soos dit.

Sy self sit al byna vier maande met net ’n gedeelte van haar salaris wat gedeeltelik deur die Werkloosheidsversekeringsfonds aangevul is.

“Dit is baie moeilik vir my ook,” sê Malinda.

Gevra of Denel hoegenaamd die nodige geld betyds sal kan kry, het sy gesê “ek weet nie”.

“Ek probeer uitvind, maar dit lyk nie of enigiemand weet nie.”

Volgens die uitspraak moet Denel alle uitstaande kontraktuele en statutêre verpligtinge teen nie later nie as 7 Augustus aan werknemers nakom. Dit sluit in alle uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie.

Die salarisrekening beloop tussen R140 miljoen en R150 miljoen per maand. Op 25 Mei het werknemers slegs tussen 20% en 40% van hul salarisse gekry en in Junie sowat 60%.

Julie se salarisse is in twee sarsies betaal, maar ook nie ten volle nie.

Daarby moet persoonlike inkomstebelasting en bydraes aan die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), pensioenfondse en mediese skemas, wat sedert April van werknemers se salarisse afgetrek is, maar nie aan die relevante owerhede oorbetaal is nie, nou betaal word.

Die hofsaak volg nadat Solidariteit sy dringende aansoek weer op die hofrol geplaas het nadat hy die eerste aansoek wat op 30 Junie gehoor sou word, tydelik van die hofrol verwyder het, omdat Denel aangedui het dat hy in gesprek wil tree en ’n oplossing wou vind.

In Junie het Denel gepleit by Solidariteit vir ’n fasiliteringsproses eerder as ’n regstryd omdat hy doodeenvoudig “niks geld” gehad het nie.

Solidariteit het dit aanvanklik aanvaar, maar sy geduld is nou op.

“Die pogings van Denel om homself finansieel om te swaai, is nie deur die staat ondersteun nie en het Solidariteit met geen ander keuse gelaat as om hom tot die hof te wend nie,” sê die vakbond Dinsdag.

“Denel en die staat, as aandeelhouer, was roekeloos met hul werknemers,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit. “Geskiedkundige probleme het hulle in dié penarie laat beland.

“Dié probleem het nie ontstaan weens Covid-19 nie, maar weens jare lange vrot bestuur, korrupsie en staatskaping.”

Denel hou egter vol die pandemie is die kernoorsaak van sy huidige kontantvloeikrisis.

In ’n verklaring sê die staatsonderneming hy is in “voortdurende” gesprekke met al sy belanghebbendes om die kontantvloeikrisis betyds op te klaar en doen alles in sy vermoë om salarisse te betaal ingevolge die hofbevel.

Maar drie dae is “min tyd”, het Malinda gesê.

Uasa sê in ’n verklaring Denel moet teen Vrydag die betaling doen.

“Uasa is tevrede met die uitspraak en dring daarop aan dat Denel op 7 Augustus sy verpligtinge nakom of die risiko van minagting van ’n hofbevel loop,” sê Stanford Mazhindu, woordvoerder van Uasa.

“Uasa doen ’n beroep op die regering as die enigste aandeelhouer in die staatsonderneming om in te gryp en ’n dringende oplossing vir die likiditeitskrisis te vind sodat ons lede hul salarisse, asook volledige toekomstige salarisse, kry.”

Een van die argumente wat adv. Wilhelm Bekker, vir Solidariteit, Dinsdagoggend gemaak het, was dat Van Niekerk ook moet beveel dat alle toekomstige salarisse en kontraktuele pligte nagekom moet word.

Hy het gesê dit is nodig om te verseker dat “ons nie weer in dieselfde posisie sit volgende maand nie”.

Van Niekerk het egter gesê dit is nie prakties nie, want dit sou die bevel te omvangryk maak.

In Augustus 2019 het Solidariteit ook ’n hofsaak teen Denel gewen om hom toe ook te dwing om sy werkers se WVF-voordele en ander aftrekkings aan onder meer die belastinggaarder oor te betaal nadat dit toe al maande lank agterstallig was.

Van Niekerk sê dit is duidelik dat die maatskappy ’n geskiedenis het van versuiming om sy pligte na te kom en het dus ook beveel dat Denel Solidariteit en Uasa se regskoste moet betaal.

“Die respondent het versuim om die mees fundamentele verantwoordelikheid van ’n werkgewer na te kom in ’n arbeidsverhouding – dat vergoeding betaal moet word vir werk wat gedoen is,” skryf Van Niekerk.

Solidariteit se 937 lede by Denel en Uasa se 431 het nog die hele tyd gewerk al is hulle nie ten volle betaal sedert 25 Mei nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Skuld  |  Salarisse  |  Staatsonderneming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.