Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Platsak Denel ‘soek nié nog reddingsboeie’

Denel gaan nie nog reddingsboeie van die staat probeer kry nie, al verlam ’n likiditeitskrisis hom so dat hy nou al vier maande lank nie sy werknemers se volle salarisse kan betaal nie.

Talib Sadik, waarnemende hoof van die staat se wapenvervaardiger, het aan Reuters gesê daar is nie tans planne om die staat te nader vir enige bykomende kontantinspuitings nie.

Denel se kantoor in Pretoria. Foto: Reuters

Pam Malinda, woordvoerder van Denel, het aan Netwerk24 bevestig daar is geen planne om die likiditeitskrisis te probeer oplos met die staat se hulp nie. Denel wil dit op sy eie probeer doen.

“Ons is van mening dat ons ook ons eie huis in orde moet kry, want wat ons hier het, is ’n bietjie van ’n morele dobbelspel,” het Sadik aan Reuters gesê ten opsigte van die moontlikheid van nog reddingsboeie van die staat af.

Sadik het in Augustus die waarnemende uitvoerende hoof geword toe Danie du Toit skielik, en sonder om enige redes te verskaf, bedank het.

Voor sy bedanking het Du Toit nog gesê hy weet nie hoe die onderneming die volgende paar maande sal oorleef sonder hulp van die staat af nie.

Fitch Ratings het Denel se kredietgradering op 26 Augustus verlaag tot ’n vlak selfs laer as dié van Eskom.

Só ’n gradering beteken Denel is nou volgens Fitch binne 12 maande van insolvensie en totale wanbetaling van skuld.

Sonder finansiële ondersteuning van die staat af sien Fitch nie hoe Denel gaan oorleef nie.

Denel het in 2019 R1,8 miljard van die staat ontvang en in die begroting van vanjaar is nog R576 miljoen beloof, wat hy tans in paaiemente ontvang.

Sadik sê al wat Denel verwag, is dat die geld wat reeds belowe is, aanhou vloei.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Denel vir die boekjaar tot einde Maart ’n verlies van R1,7 miljard gely het. Die syfers word egter nog geoudit en dit sal na verwagting eers in Oktober afgehandel wees.

Ook sy inkomste daal reeds oor die afgelope paar boekjare.

In die 2018-boekjaar het Denel nog ’n inkomste van R5,8 miljard behaal, wat in die 2019-boekjaar tot R3,8 miljard gedaal het.

Denel moet ook teen 3 Desember alle uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie betaal aan sy werknemers wat lid is van Solidariteit en Uasa. Dit is ingevolge ’n tussentydse hofbevel wat die arbeidshof op 28 Augustus toegestaan het.

Solidariteit het ’n dringende aansoek ingedien dat Denel aan minagting van die hof skuldig bevind moet word nadat Denel ’n vorige hofbevel van 4 Augustus verontagsaam het.

Solidariteit het bevestig dat hy beslag gaan lê op Denel se roerende bates om sowat R22 miljoen se agterstallige salarisbetalings vir sy en Uasa se 1 368 lede by Denel te bekom indien Denel dit nie betaal nie.

Meer oor:  Denel  |  Wapenvervaardiger  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.