Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Platsak’ Myeni nie spesiaal – regter

Regter Ronel Tolmay is nie oortuig van die redes wat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), aanvoer om die hofsaak teen haar te laat uitstel nie.

SAL
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) Foto: Jabulani Langa

Myeni hoor Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria of die saak om haar tot "misdadige direkteur" te laat verklaar, weens “finansiële nood” uitgestel kan word.

“Daar is miljoene Suid-Afrikaners wat nie regsverteenwoordiging kan bekostig nie,” het Tolmay Donderdag in die hof aan Myeni se advokate gesê. “Ek het al baie individue gesien wat hulself verteenwoordig wat baie minder geleerd is as u kliënt.”

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL se vlieëniersvereniging het die saak teen Myeni aanhangig gemaak om haar tot misdadige direkteur te laat verklaar.

Myeni het reeds Maandag en Dinsdag die hofsittings misgeloop nadat dit byna drie jaar geduur het om die hofdatums vas te stel. Sy was ook Donderdag nie self in die hof nie, maar het wel nou tydelike regsverteenwoordiging bekom nadat sy al twee keer van regsverteenwoordiger verander het.

Nadat sy Dinsdag versuim het om op te daag, het Tolmay haar tot Woensdag gegee om ’n wesenlike rede te verskaf waarom die saak uitgestel moet word.

Outa meen egter Myeni se aansoek om uitstel is laat ingedien.

Myeni voer aan sy kan nie bekostig om die hofverrigtinge by te woon nie en het ook nie geld vir regsverteenwoordigers nie.

Haar vorige prokureur, Lugisani Daniel Mantsha, het hom in September onttrek, maar hy het Dinsdag as ’n guns vir die hof namens Myeni verskyn.

Twee advokate het ook in opdrag van Mantsha gratis vir Myeni verteenwoordig.

Outa byt ook nie aan Myeni se verduideliking waarom sy nie regsverteenwoordiging kan bekostig nie. Sy voer aan dit is omdat die SAL se versekering haar aansoek vir geborgde regsverteenwoordiging afgekeur het.

Volgens Outa dien Myeni tans as ’n direkteur in sowat 13 verskillende direksies en besit sy ’n reeks eiendomme.

Myeni se regsverteenwoordigers vra uitstel van drie maande, het Pule Letshwiti van eTV getwiet.

Tolmay het gesê hulle sal moet bewys hoekom Myeni op spesiale behandeling geregtig is.

“Geregtigheid wat uitgestel word, is geregtigheid wat verlore gaan,” het Tolmay gesê.

Sy het gesê Outa se aansoek dat die saak bloot sonder Myeni voortgaan, is ’n besliste opsie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.