Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Plattelandse winkel vasgevat oor wins op mieliemeel

Die Mededingingstribunaal het ’n Cambridge Food-winkel in KwaZulu-Natal opdrag gegee om sy winsmarge op witmieliemeel te verlaag nadat die prys daarvan in April met 23% verhoog is.

Cambridge Food is ’n filiaal van Massmart.

Die optrede teen Cambridge Food Jozini kom nadat die Mededingingskommissie in April ’n klagte van ’n verbruiker ontvang het oor die prysstyging op 25 kg-sakke witmieliemeel.

Die kommissie het in sy ondersoek bevind die prys hiervan is in April met 23% van R129,99 tot R159,99 verhoog sonder ’n ooreenstemmende verhoging in koste.

Ná ’n bevel van die tribunaal het Cambridge Food Jozini ingestem om sy bruto winsmarge op dié mieliemeel te verlaag. Dit sal dwarsdeur die staat van inperking geld.

Die tribunaal se bevel bevestig ’n skikkingsooreenkoms tussen Cambridge Food Jozini en die Mededingingskommissie.

Die winkel het ook ingestem om R24 947 se noodsaaklike produkte aan die Siyaphambili Qondile Home Based Care Project, ’n plaaslike organisasie sonder winsbejag, te skenk.

Die departement van handel en nywerheid het in Maart regulasies ingevolge die Mededingingswet, die Wet op Verbruikersbeskerming en die Wet op Rampbestuur uitgereik wat sal geld solank as wat die koronaviruspandemie tot ’n ramp verklaar is om verbruikers teen onredelike en onbillike handelspraktyke te beskerm.

Dit verbied oormatige prysverhogings op items wat in die regulasies gespesifiseer is. Mieliemeel is een van dié items.

Sedert die aanvang van die staat van inperking het die kommissie 30 sake hanteer waarin skikkings bereik is of wat na die tribunaal verwys is vir ’n bevel.

Ingevolge die skikkingsooreenkomste het die partye altesame R5,5 miljoen aan die Solidariteitsfonds geskenk.

Noodsaaklike goedere ten bedrae van R551 886 is ook geskenk aan die gemeenskappe wat deur die oormatige prysverhogings beïnvloed is.

Massmart sê in reaksie dit is belangrik om daarop te let dat daar nie bevind is dat Cambridge Food hom skuldig gemaak het aan ’n oortreding van die regulasies nie. Die winkelgroep het ingestem tot ’n skikking sonder erkenning van skuld.

“Ons het besluit om te skik om die proses te bespoedig. Dit sou andersins lei tot ’n duur en uitgerekte regsgeding. “Die proses is vergemaklik deurdat die skikking ’n bydrae van R24 947 tot ’n liefdadigheidsorganisasie in Jozini ingesluit het.”

Volgens Massmart hou die voorval met ’n enkele winkel verband wat “verkeerdelik ’n verskaffer se prysverhoging in werking gestel het voor die datum wat die verskaffer-gemotiveerde verhoging in werking sou tree”.

Massmart het in April tydens die eerste drie weke van die staat van inperking die pryse in sy winkels gevries.

Volgens die groep was hy die enigste winkelgroep wat dit gedoen het.

Daarna is ’n proses in werking gestel om net pryse te verhoog wanneer verskaffers duidelik kon toon dat hul insetkoste verhoog het.

Meer oor:  Massmart  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Koronavirus  |  Mededingingskommissie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.