Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Poco sluit Sondag; werkers hoop nog op genade
Leë rakke in die Poco-winkel in Sandown. Die winkel sluit Sondag.

Een van Markus Jooste se proefnemings in die meubelmark in Suid-Afrika bereik Sondag die einde van die pad wanneer die twee Poco-winkels in die land hul deure sluit.

Dit is glo drie maande vroeër as wat aanvanklik aan die personeel van die een winkel gesê is.

Poco Suid-Afrika is deel van Pepkor, ’n filiaal van Steinhoff. Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, het die eerste Poco-winkel in 2014 in Somerset-Wes geopen. Die ander winkel is in Sandown, ook naby Kaapstad.

Net vyf van die 118 personeellede van die twee Poco-winkels het alternatiewe poste binne die groep gekry.

Die personeel het middel Julie hul kennisgewings gekry ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Dié artikel gaan oor afleggings.

Hulle het in ’n stadium gehoop die winkels word omskep in een van Pepkor se ander meubelmaatskappye, soos Rochester.

“Ons het gehoop net die naam gaan verander,” sê een werknemer.

Werknemers wat met Netwerk24 gesels het op voorwaarde dat hul name nie genoem word nie, sê die proses het hulle “sielsmoeg” gelaat. “Die mense is baie seer.”

Poste wat wel in die groep aangebied is, was buite die Wes-Kaap.

“Hoe gaan mense nou hierdie tyd van die jaar nog werk kry iewers?”

Die proses wat Pepkor met die personeel gevolg het, het reeds ’n paar draaie voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gegooi omdat personeel hoop op ’n billiker uitslag.

Die personeel kry net een week se salaris vir elke jaar wat gewerk is, wat die minimum is wat in ’n afdankingsproses moontlik is.

Die Sandown-winkel sou aanvanklik einde Desember sy deure sluit, maar die 189-proses het skaars begin toe werkers ingelig is die winkels maak einde September toe.

Hoe gaan mense nou hierdie tyd van die jaar nog werk kry iewers?

Pepkor het nie gereageer op die vraag oor hoekom die winkels nou vroeër sluit as wat aan die personeel gesê is nie.

Die personeel hoop om die maatskappy te oortuig om nog tot einde Desember hul salarisse te betaal.

Nog ’n sessie by die KVBA het Donderdag plaasgevind, maar dit is nie bekend wat die uitslag daarvan was nie.

Steinhoff het die pakhuisagtige formaat van Poco-winkels sedert 2014 in Suid-Afrika getoets.

“Ná ’n paar jaar van handel is daar net twee winkels. Die Poco-formaat het nie na verwagting gevaar nie en die formaat het geblyk onsuksesvol te wees en nie volhoubaar op lang termyn nie,” sê Pepkor oor die winkels wat toemaak.

“Die JD-groep en Pepkor het hul bes probeer om die werk van die betrokke Poco-personeel te beskerm, ook om alternatiewe gebruike vir die handelsnaam en die eiendomme te ondersoek. Die groot Poco-formaat en die liggings van die winkels is ongelukkig net nie ’n lewensvatbare opsie vir ons ander handelsname in die groep nie.”

Volgens Pepkor is verskeie interne poste aan die personeel beskikbaar gestel, maar die maatskappy erken die ligging van die poste en vervoerprobleme het dit vir baie nie geskik gemaak nie.

Hulle probeer net die pryse verder afstry en is ongeskik met die werkers. Hulle is nie eens besorg oor die mense wat hul werk gaan verloor nie.

“Die proses van moontlike herontplooiing van geaffekteerde werknemers sal vir die volgende 12 maande voortduur en elke moontlike poging word aangewend om hulle te akkommodeer,” beloof Pepkor.

’n Personeellid van een van Poco-winkels sê die publiek se reaksie op die winkel wat toemaak, laat ook ’n wrang smaak in die mond.

“Hulle probeer net die pryse verder afstry en is ongeskik met die werkers. Hulle is nie eens besorg oor die mense wat hul werk gaan verloor nie.”

Poco as handelsnaam is met die teerkwas geverf omdat dit een van die maniere was waarop Steinhoff se boeke gekook is. Steinhoff het 50% van Poco, ’n Oostenrykse maatskappy, van die stigtersfamilie van dr. Andreas Seifert gekoop, maar 100% van die wins aan Steinhoff toegeskryf.

Die maatskappy het onlangs met Seifert geskik in ’n aantal hofsake wat in Europa teen die groep aanhangig gemaak is.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Poco  |  Markus Jooste  |  Meubels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.