Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
POF, Prasa wil poste sny

Die “afleggingsengel” maai met sy sens onder staatsondernemings.

Die Padongelukfonds moet slagoffers van motorongelukke of hul naasbestaandes vergoed.

Personeel by die Padongelukfonds (POF) het voor die Paasnaweek uit die bloute briewe van hul werkgewer gekry dat hul poste herstruktureer word, het Netwerk24 betroubaar verneem.

Dis onduidelik hoeveel mense hul werk gaan verloor, maar wat werknemers veral omkrap, is dat die POF skynbaar al sedert Januarie met behulp van konsultante van die ouditgroep PwC gewerk het aan ’n nuwe struktuur vir die fonds. Werknemers word nou eers by die proses betrek.

Navrae aan die POF is nog nie beantwoord nie, maar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Dit vorm deel van verskeie afleggingsprosesse tans by staatsondernemings waardeur duisende mense sonder werk gaan sit.

By die Suid-Afrikaanse Lugdiens is sowat 3 000 mense reeds afgelê, met net sowat 1 000 wat oorbly om die “nuwe” lugdiens te bedryf.

Eskom is ook besig met ’n proses om poste op natuurlike wyse (deur bedankings en aftrede) te sny, met sowat 6 000 poste wat van nou tot 2024 gesny gaan word, het adj.pres. David Mabuza verlede maand in die parlement gesê.

Die SAUK se afleggings is afgehandel en die openbare uitsaaier het nou 621 minder werknemers as in Desember verlede jaar.

Die Sowetan het Vrydag ook berig oor planne vir die aflegging van 500 werkers by PetroSA en 311 werkers by die Autopax-busdiens, wat deel is van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika.

Die POF, met meer as 2 780 werknemers in sy diens, trek al jare finansieel swaar, met sy laste wat in die 2019-’20-boekjaar op R332,6 miljard gestaan het teenoor bates van R10,7 miljard.

Die fonds is bedoel om padgebruikers te vergoed vir verliese en skade weens motorongelukke, maar volgens die nasionale tesourie is die fonds tans die staat se grootste gebeurlikheidslas.

Die fonds het oor die jare heen ’n goudmyn geword vir gewetenlose prokureurs wat kort-kort uitgevang word dat hulle die fonds bedrieg of eisuitbetalings steel wat eintlik aan ongelukslagoffers behoort.

Volgens die tesourie het die POF-kommissie al in 2002 aanbeveel dat die fonds na ’n beter stelsel skuif om ongelukslagoffers op ’n regverdige, volhoubare en bekostigbare manier te vergoed. Maar die parlement het in September verlede jaar die Padongeluk-voordeelskema – ’n poging tot so ’n verbeterde stelsel – afgekeur. Hersiene wetgewing word vir vanjaar beplan.

Die ouditeur-generaal het in haar onlangse verslag die POF gelys as een van die staatsentiteite wat nie seker is van hul finansiële state nie en nie sekerheid het of hulle as lopende saak kan voortgaan nie.

Die POF het in die 2019-’20-boekjaar ’n tekort van R59,62 miljard gehad, wat 92% van die totale tekorte by staatsentiteite verteenwoordig.

Die POF se inkomste kom van die POF-heffing op brandstofverkope, wat juis die afgelope Woensdag met 11c per liter tot R2,18 verhoog is.

Die tesourie verwag die POF se inkomste hieruit sal van nou tot 2024 met 5,8% per jaar tot R45,2 miljard styg.

Die eise teen die fonds het egter van 2018 tot vanjaar teen gemiddeld 8,4% per jaar tot R78,2 miljard gestyg.

Dit sal na verwagting teen 2024 tot R102,9 miljard styg en gevolglik word ’n oplopende tekort van R518,7 miljard teen 2024 verwag.

Dit is veel meer as Eskom se huidige skuld van sowat R480 miljard.

Meer oor:  Pof  |  Padongelukkefonds  |  Prasa  |  Staatsdiens  |  Staatsondernemings  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.