Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa-hoof waai: Nee, dis nié oor geldmarkfonds

Beleggers was Dinsdagoggend geskok toe die bekende nuwe uitvoerende hoof van Absa, Daniel Mminele, skielik bedank het. Gissings loop dik oor waaroor dit gaan.

Absa
'n Veiligheidswag voor 'n Absa-tak. Foto: Bloomberg

Die aankondiging kom kort op die hakke van Absa se aankondiging dat hy sy bekende geldmarkfonds gaan sluit – die grootste geldmarkfonds in die land met meer as R80 miljard onder bestuur.

Mminele (56), die eerste swart uitvoerende hoof van Absa, was baie kort in die pos waarin hy met ingang 15 Januarie 2020 aangestel is. Hy was baie bekend as ’n voormalige adjunkpresident van die Reserwebank.

Hy het ná 20 jaar by die Reserwebank Maria Ramos opgevolg by Absa, wat op 28 Februarie 2019 uitgetree het. René van Wyk het tussen sy aanstelling en Ramos se uittrede as tussentydse hoof opgetree.

Ná die aankondiging het Absa se aandeelprys met amper 5% gedaal.

Die bank se aankondiging dui op meningsverskille oor strategie en “die transformasie van die kultuur” van die groep.

Dis soos ’n afrigter van ’n sportspan wat bedank.
Kokkie Kooyman

Strategiese verskille

Kokkie Kooyman, ’n fondsbestuurder van Denker Capital, sê Mminele se bedanking is ’n drastiese stap en dis problematies vir ’n bank of enige instelling om iemand in dié posisie te verloor.

“’n Besturende direkteur is die persoon wat die rigting aangee. Hy word aangestel deur die direksie om die leier van die bestuurspan te wees. Dis soos ’n afrigter van ’n sportspan wat bedank.”

Daniel Mminele, uitvoerende hoof van Absa.

Hy meen aandeelhouers is ’n bietjie ongerus en die daling in die aandeelprys weerspieël dit.

“Beleggers is altyd bekommerd as die topbestuur van ’n maatskappy verskil oor die rigting wat hulle inslaan.”

Dat die aandeelprys nie verder gedaal het nie, is moontlik omdat die span wat die nuwe strategie voor Mminele in werking gestel het reeds sterk was en goed saamgewerk het.

Jason Quinn, finansiële hoof, is as tussentydse uitvoerende hoof aangewys. Hy is sedert 2008 by Absa.

Markaandeel

Volgens Kooyman was Absa in ’n baie swak posisie nadat Ramos weg is.

Die bestuurspan het ’n diepgaande ondersoek gedoen om te kyk wat fout is en waar die bank hom bevind. Die ondersoek het getoon hoe baie markaandeel Absa verloor het.

Volgens Kooyman is daar toe met ’n nuwe strategie vorendag gekom oor hoe die markaandeel teruggewen kan word.

Hulle het markaandeel verloor deur swak diens en nie te reageer en mededingend in die mark te wees nie.
Kokkie Kooyman

Mminele is eers aangestel nadat klaar oor die nuwe strategie besluit is.

“As ’n mens terugkyk, was dit dalk ’n fout van die direksie om die strategie te kies voordat hy begin het, maar daar was dalk nie iemand beskikbaar om die bank te lei nie of hy was miskien nie beskikbaar nie.”

Die belangrikste van die nuwe strategie was om verlore markaandeel te herwin.

“Die ondersoek het gewys hoe ontsaglik baie markaandeel hulle verloor het. Hulle het dit verloor deur swak diens en nie te reageer en mededingend in die mark te wees nie.”

Kokkie Kooyman van Denker Capital.

Volgens hom het die strategie vrugte begin afwerp, veral in die huisverbandmark, waar Absa weer heelwat markaandeel teruggewen het.

Moontlik was dit ten opsigte van die strategie om verdere markaandeel te wen waaroor Mminele nie saamgestem het nie.

Daar moet in ag geneem word dat hy van die Reserwebank kom en meer insig oor die regulatoriese sy van banke het.

Geldmarkfonds

Daar word ook bespiegel dat die skielike bedanking verband hou met die gebeure wat tot die onverwagse aankondiging gelei het dat die geldmarkfonds gesluit word.

Die verduideliking vir dié besluit het vir baie ontleders nie sin gemaak nie.

Die bank het gesê die besluit is geneem nadat ’n peiling onder kliënte getoon het dat hulle glo dit is ’n produk waarvan die kapitaal en opbrengs deur die bank gewaarborg word.

Daar word wel bespiegel dat die sluiting van die fonds te doen het daarmee dat die groep sy batebestuurder wil verkoop.

Dit kan wees dat Mminele nie saamgestem het met besluite wat daaroor geneem is nie.

Kooyman sê dis duidelik dit moes iets wesenliks gewees het waaroor Mminele en die direksie verskil. “As dit gaan oor die strategie met verskillende dele van die onderneming, moes menings só verskil het dat hulle gesê het ons gaan nie verder kan saamwerk nie.”

’n Transaksie kan behels dat dit verkoop word aan iemand anders of ’n aparte notering. Die ongelukkigheid kan ook gaan oor wie die voornemende koper is.

Absa ontken dit egter.

"Mminele se vertrek hou nie verband met enige kwessies rondom die geldmarkfonds of die batebestuursonderneming nie," sê Phumza Macanda, woordvoerder van die groep. "Die fonds is glad nie 'n geskilpunt in die groep nie. Hoewel die sluiting van die fonds eers laas week aangekondig is, is dit al geruime tyd deeglik oorweeg. Die direksie en verskeie komitees was oor maande betrokke by die bepaling van die uitslag."

Transformasie

Die spesifieke verwysing na verskille oor “kulturele transformasie” is ook insiggewend.

Wendy Lucas-Bull, voorsitter van Absa.

Kooyman meen dit kan moontlik verband hou met verskille oor hoe vinnig transformasie moet plaasvind.

“Transformasie in die internasionale konteks hou met diversiteit verband, maar in die Suid-Afrikaanse konteks meer met ras.”

Macanda sê egter die term bedoel "die transformasie van kultuur binne die organisasie". "Die term in die konteks het nie spesifiek te doen met die kwessie van transformasie soos in die wyer Suid-Afrikaanse konteks verstaan word nie." 

Volgens Fin24 het Mminele in ’n onlangse onderhoud te kenne gegee dat die groot planne voortgaan om van Absa ’n Pan-Afrika-bank te maak.

Hy het gesê toe Absa in 2018 sy Africanacity-slagspreuk bekendgestel het, het hy die gevoel gekry dat die bank reg is om ’n “wen-kultuur” te aanvaar en te transformeer.

Die ambisie om Absa ’n onderneming te maak waarop Afrika trots is, bly ’n sleutelprioriteit.

Mminele het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy is jammer sy pad met die maatskappy het so vinnig geëindig. “Dis egter belangrik dat ’n uitvoerende hoof heeltemal met die direksie oor belangrike kwessies soos strategie en kultuur saamstem.”

Wendy Lucas-Bull, voorsitter, het dit as ’n moeilike besluit beskryf.

“Die direksie was baie opgewonde oor Mminele se aanstelling en die positiewe rol wat hy sou speel. Dit is vir ons diep teleurstellend dat ons dié punt bereik het.

“Die skeiding hou bloot verband met uiteenlopende professionele sienings en benaderings, en is op die grondslag van geen fout wat begaan is nie."

Meer oor:  Absa  |  Daniel Mminele  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.