Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Poskantoor soek hulp by tesourie

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) verwag vanjaar ’n verlies van R1,9 miljard weens die Covid-19-inperking.

Sapo wil die nasionale tesourie nader om hom uit te help.

Dit blyk uit ’n voorlegging van Sapo-amptenare Donderdagaand aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se bestuur sê hy besef hy sal sy produkte en dienste aanlyn moet skuif om relevant te bly in die 21ste eeu.

Pinky Kekana, adjunkminister van kommunikasie, het ook gewaarsku oor die onbedoelde gevolge om die Postbank van Sapo te skei. Die ontknoping van die Postbank van Sapo sal beteken Sapo sal voorlopige belasting van R250 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet betaal.

Kekana het gekla oor die sowat R470 miljoen per jaar wat aan sekerheid bestee moet word om Sapo se kontantbetaalpunte te beveilig noudat hy die uitbetaling van Sassa-toelae moet hanteer.

Sapo sal vinnig alternatiewe en goedkoper maniere moet vind vir kontantuitbetalings, het Kekana opgemerk.

Sy het ook gekla oor Sapo se onstabiele netwerk weens probleme met Telkom wat nie by spertye kon hou nie.

Colleen Makhubele, voorsitter van Sapo, sê hulle verwag net vir die eerste twee maande tot einde Mei van sy lopende boekjaar reeds ’n verlies van R798 miljoen, veral omdat die inperking beteken het Sapo kon nie weens die inperking inkomste uit posdienste genereer nie.

Sapo dra al die koste om Sassa-toelae te betaal, maar ly ’n verlies van R550 miljoen op die program, terwyl die kommersiële banke inkomste van byna R1 miljard daaruit verdien, sê Makhubele.

Al het die poskantoor sowat R8 miljard se reddingsboeie oor die afgelope vyf jaar van die staat gekry, sukkel die onderneming steeds. Sy het wel gespog dat besparings gevind is om besteding aan sekerheidsdienste van R12,5 miljoen per maand tot R4,1 miljoen per maand te verminder.

Sapo vorder met ’n platform om e-handeldienste te lewer. Dit is ’n opwindende geleentheid vir veral klein opkomende ondernemings in Suid-Afrika om hul produkte en dienste aanlyn te bemark, het Makhubele gesê. Dit bied hulle blootstelling aan die res van Afrika en selfs die internasionale mark.

Makhubele het bevestig ondersoeke vorder na topbestuurslede by Sapo wat vir korrupsie ondersoek word.

Sapo-werkers se salarisse kan steeds betaal word, het sy belowe.

Ivumile Nongogo, waarnemende uitvoerende hoof van Sapo, sê vennootskappe sal gevind moet word om Sapo te help om volhoubaar te word. Baie van sy goedere en dienste sal na digitale platforms moet skuif.

Die aflewering van grootmaat-pos, Sapo se grootste bron van inkomste, is al sedert 2012 in ’n dalende tendens, het Nongogo gesê.

Phehello Tsotetsi, waarnemende finansiële hoof, sê Sapo het vir die lopende boekjaar vir ’n verlies van R177 miljoen gemik ná die vorige jaar se verlies van R1,8 miljard. Maar nou word ’n verlies van R1,9 miljard verwag weens die bykomende impak van die Covid-19-inperking.

Dlamuka sê 60% van Sapo se inkomste kom van posdienste. Personeelkoste bedra 63% van totale uitgawes.

Meer oor:  Poskantoor  |  Tesourie  |  Pinky Kekana  |  Colleen Makhubele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.