Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Poskantoor weer Maandag oop

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) sal Maandag al sy dienste hervat, het Sapo Vrydagaand in ’n verklaring gesê.

Sapo
Die meeste poskantore sal van Maandag 25 Mei weer ten volle in bedryf wees.

Briewe en pakkies wat net voor die inperking gepos is en by Sapo opgehoop het, sal binne die volgende drie weke afgelewer word.

Posstukke begin weer vloei namate Sapo se sorteergeriewe, vervoerdienste en van sy takke toestemming kry om ingevolge die vlak 4-beperkings weer in bedryf te kom.

Die meeste poskantoortakke is oop vir sake en die res sal stelselmatig oopgemaak word. Al Sapo se sorteergeriewe en vervoerdienste is landwyd weer in bedryf.

Teen Maandag sal 1 017 poskantore landwyd weer oop wees vir sake, het Ivumile Nongogo, waarnemende uitvoerende hoof van Sapo, gesê.

Die mikpunt is om teen 1 Junie al die ander takke ook oop te hê namate regulasies om die verspreiding van Covid-19 toegepas word.

In Sapo se possorteergeriewe word ’n skofstelsel gebruik om die getal werkers op die persele te beperk sodat hulle ’n gesonde afstand van mekaar kan handhaaf.

Weens die skofstelsel is die bedrywighede dus nie op die optimale vlak nie, en dit sal die afleweringstye vir pakkies raak, asook vir pos-items wat reeds voor die inperking versend is en opgehoop het.

Mense kan hul pakkies naspoor deur Sapo se nasporingsdiens op sy webtuiste by www.postoffice.co.za/Tools/tracktrace.html te gebruik.

Sapo sê mense kan ook weer van Maandag af sy inbelsentrum by 0860 111 502 kontak.

Die dienste wat gedurende vlak 4 by poskantore beskikbaar is, is die betaal van rekeninge, die afhaal en versending van pakkies en die sertifisering van dokumente. Omdat vragvlugte na sekere lande nog baie skaars is, sal pos en pakkies slegs na en van Hongkong, Japan, Portugal, Thailand en China versend kan word.

Koerierdienste en die aflewering van regsdokumente deur Docex is ook beskikbaar, asook finansiële transaksies by Postbank.

Die hernuwing van motorlisensies by poskantore sal egter eers van 1 Junie hervat word.

Sapo hanteer ook reeds alle Sassa-transaksies.

Meer oor:  Poskantoor  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.