Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Poskantoor (weer) op randjie van ineenstorting – DA

Die DA waarsku dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor opnuut op die rand van bankrotskap staan.

Teen 31 Julie 2020 het die poskantoor reeds ’n verlies van R1,066 miljard aangeteken, volgens die DA.

“Ondanks R8 miljard se reddingsboeie sedert 2014, word die poskantoor weer deur bankrotskap in die gesig gestaar, met berigte oor onbetaalde huur en desperate verskaffers, agterstande met die pos en kommunikasie- en tegnologiestelsels wat nie werk nie,” het Cameron MacKenzie, DA-LP, Vrydag in ’n verklaring gesê.

Intussen het Khathutshelo Ramukumba, die poskantoor se nuwe hoof van finansies, ná slegs twee maande in die pos bedank.

“Dit is geen verrassing dat die poskantoor se nuwe finansiële hoof ná skaars twee maande bedank het nie. Die skokkende toestand van die poskantoor se geldsake sou enige professionele persoon twee keer laat dink.”

Teen 31 Julie verlede jaar het die poskantoor reeds ’n verlies van R1,066 miljard aangeteken, en die DA reken dit kan maklik teen die einde van sy boekjaar verdubbel.

Volgens MacKenzie gebruik die poskantoor nou die enigste manier wat hy het om kop bo water te hou – hy betaal nie sy krediteure nie.

Die poskantoor se uitgawes oorskry tans verreweg sy inkomste en verskaffers staan opnuut tou om geld van die bankrot staatsonderneming te verhaal, sê hy.

“Eienaars van geboue wat deur die poskantoor gehuur word, is nie betaal nie en daar is gerugte van huurgeld wat al langer as 120 dae uitstaande is, selfs al begin die poskantoor grond en eiendomme verkoop.”

Die rekenaarstelsels by die poskantoor werk ook glo nie en die funksionaliteit wat mense toelaat om pakkies op te spoor werk lank reeds nie meer nie en is van lyn af vir sowel gewone as geregistreerde pakkies.

So sal die poskantoor nie kan voortbestaan nie, meen die DA.

“Anders as die SAL, is die poskantoor ’n noodsaaklike diens vir baie mense, veral diegene in landelike en afgeleë gebiede.

“Die regering moet ophou praat oor openbare-private-vennootskappe en dit in werking stel. Privatisering, gedeeltelik of in sy geheel, is die enigste alternatief vir bankrotskap. Die departement van kommunikasie het ’n nuwe minister nodig en die poskantoor ’n nuwe eienaar. Dit is nou die tyd vir ’n nuwe bestuur.”

Meer oor:  Da  |  Poskantoor  |  Pos  |  Agterstand  |  Bankrotskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.