Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa-direksie: 10 vergaderings, 0 notules

Die huidige tussentydse direksie van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het in die afgelope boekjaar tien direksievergaderings gehad en is vergoed vir die bywoning van dié vergaderings.

Passasiers stoei om uit ’n oorlaaide Metrorail-treinwa te klim tydens spitstyd. Die Prasa-direksie is in die afgelope boekjaar betaal om tien direksievergaderings by te woon, sonder dat enige notules gehou is. Intussen is Prasa se Metrorail-treine daagliks oorvol, laat en onveilig. Foto: Francois Williams

Maar daar bestaan geen notules, aantekeninge van resolusies wat aanvaar is of ’n rekord van besluitneming van enige van die tien vergaderings nie.

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het Woensdagaand tot dié skokkende ontdekking gekom toe hy die ouditeur-generaal se ouditverslag oor Prasa met die Prasa-direksie in ’n laataand-vergadering bespreek het.

Dit is deels die gebrek aan behoorlike bestuursrekords by Prasa wat die OG genoop het om ’n weersprekende ouditmening aan Prasa te gee. Dit beteken in effek die OG weier om eens ’n opinie oor die oudit te gee weens die gebrekkige inligting.

Khanyisile Kweyama, voorsitter van Prasa se direksie. Foto: Jabu Kumalo

Dit is ’n verswakking van die vorige twee boekjare waarin Prasa reeds ’n gekwalifiseerde ouditmening met bevindings gekry het.

Mkhulelo Hlengwa, voorsitter van Skoor, sê dit is kommerwekkend dat die direksie boonop lyk asof hy nie verantwoordelikheid wil aanvaar vir dié toedrag van sake nie.

Hlengwa sê in ’n verklaring die direksie behoort volledig aanspreeklikheid te aanvaar vir die ineenstorting van korporatiewe bestuur by die staatsinstelling wat verantwoordelik is vir die stedelike passasierstreindienste van Metrorail en die langafstand-passasiersdienste van die Shosholoza Meyl.

Die direksie kon nie Woensdagaand verduidelik waarom Prasa nie volledige rekords gehou het van direksievergaderings en van vergaderings van sy subkomitees en die uitvoerende komitee nie.

Tog het die nie-uitvoerende direkteure vergoeding van tussen R322 000 tot R559 000 per direkteur ontvang in dié tyd, met die voorsitter, Khanyisile Kweyama, wat R1,277 miljoen ontvang het, blyk dit uit Prasa se jaarverslag.

Gebreke met groot projekte

Volgens die OG-verslag het Prasa ook nie voldoen aan wetgewing oor voorsieningskettingbestuur wat betref die toekenning van kontrakte vir groot infrastruktuurprojekte nie.

Die OG het in sy jongste ouditverslag gewys op R2,2 miljard wat verlore gaan raak weens onreëlmatighede by Prasa met die koop van lokomotiewe in Julie 2012. Dit is die grootste deel van die verlies van R2,81 miljard weens materiële onreëlmatighede wat die OG opgemerk het in sy oudits by staatsentiteite. Dit verwys na verliese weens diefstal, bedrog of enige ander wetsoortreding wat tot daadwerklike verliese van staatsgeld lei.

In dié geval is R2,6 miljard vooruit aan die verskaffer betaal sonder enige waarde vir Prasa, want die lokomotiewe was nie geskik nie. Die verskaffer het intussen in Desember verlede jaar vir vrywillige likwidasie aansoek gedoen, wat beteken dis onwaarskynlik dat Prasa sy geld gaan terugkry, en R2,2 miljard van dié skuld is al in die 2018-’19-boekjaar afgeskryf.

Dié saak is al in 2015 na die Valke verwys vir ondersoek sodat die betrokke amptenare vervolg kan word, maar die saak sleep steeds voort, het die OG in sy verslag gesê.

Van die ander onreëlmatighede verwys na die gebrek aan behoorlike mededingende bodprosesse in tenders vir algemene opknappings wat al in 2008 begin is en verskeie kere verleng is, busdienste in die Wes-Kaap wat al in 2005 toegeken is en verskeie kere verleng is, hommeltuig-observasiedienste en veiligheidsdienste wat in Februarie 2018 toegeken is.

Onmededingende en onbillike verkryging is gevind in kontrakte vir ’n nuwe sinjaalstelsel in die Wes-Kaap wat in Julie 2012 toegeken is, en vir die herstel en vervanging van sinjaaltoerusting in Julie 2018 – met die waarde van die kontrakte wat hoër was as wat goedgekeur is.

So lyk die sitplekke in Metrorail se MetroPlus-treinwaens. Dit is die sogenaamde “eersteklas”-treindiens waarvan duisende Suid-Afrikaanse pendelaars daagliks afhanklik is om by hul werkplek uit te kom. Foto: Francois Williams
Nog ’n gevandaliseerde sitplek in een van Metrorail se MetroPlus-treinwaens. Foto: Francois Williams
Die sitplekke in van Metrorail se treinwaens loop gereeld onder vandale deur. Foto: Francois Williams
Meer oor:  Prasa  |  Mkhulelo Hlengwa  |  Infrastruktuur  |  Spoorweë  |  Treine  |  Og  |  Staatsondernemings  |  Ouditeur-Generaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.