Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa kry wind van voor in hof oor afdankings

Terwyl die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) Dinsdag in die parlement verslag gedoen het oor agt amptenare wat hy afgedank het weens onreëlmatighede met kontrakte in die 2020-boekjaar, het hy in die arbeidshof gehoor hy moet drie ander amptenare heraanstel.

Prasa ondersoek verskeie personeellede vir korrupsie en wanbesteding. Foto: Jaco Marais

Die staat se Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek 28 sake in Prasa, en die Valke ondersoek 21 sake wat uit verslae van die openbare beskermer spruit, het die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) Dinsdag gehoor.

Die Valke het verder 18 Prasa-sake om te ondersoek waar die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies oortree is.

Prasa, wat die voorstedelike treinpendeldiens Metrorail en die langafstandpassasiersdiens Shosholoza Meyl bedryf, het vier senior amptenare in sy beskermingsdienste-afdeling afgedank weens onreëlmatighede met die toekenning van kontrakte aan veiligheidsmaatskappye. Vier ander senior bestuurders by verskillende departemente is ook afgedank weens tientalle klagtes van growwe nalatigheid, growwe oneerlikheid en wangedrag wat kontraktoekennings aanbetref.

Verder is vyf amptenare verlede maand geskors hangende ’n SOE-ondersoek na die Isipingo- kleinhandelontwikkelingsprojek. Prasa wou dié kontrak van R275 miljoen vir die modernisering van die Isipingo-stasie met Molemo Consultants, Nkambule & Associates, en Iliso Consultants and Development Engineering Consultants verleng teen ’n ekstra koste van R48,8 miljoen. Maar die nasionale tesourie wou dit nie goedkeur nie want die geld was reeds uitgegee toe aansoek gedoen is.

Intussen berig die nuusdiens eNCA dat Prasa weer drie senior amptenare wat in nieverwante sake afgedank is, moet aanstel. Dit is amptenare wat Prasa in Januarie afgedank het omdat hul dienskontrakte volgens Prasa verstryk het. Dit sluit in Martha Ngoye, regshoof van Prasa, Nkosinathi Khena, bedryfshoof, en Pearl Munthali, hoof van die Prasa-stigting. eNCA berig die arbeidshof het beslis hul afdanking was onwettig.

Prasa het einde Januarie gesê hy het regstappe teen Ngoye ingestel weens haar goedkeuring van ’n onwettige betaling van R58 miljoen aan SA Fence & Gate. Khena het boonop SA Fence & Gate in 2016 heraangestel as ’n kontrakteur van Prasa ondanks die nasionale tesourie se waarskuwing dat die kontrak onwettig was. Hy het op sy beurt nog ’n betaling van R25 miljoen aan SA Fence & Gate sonder behoorlike goedkeuring toegelaat. Prasa sou ook regstappe teen Khena gedoen het.

Munthali is aanvanklik geskors weens beweerde wangedrag, waarna Prasa gevind het haar kontrak van vyf jaar het al verstryk en daarom is sy afgedank.

Meer oor:  Metrorail  |  Shosholoza Meyl  |  Prasa  |  Treine  |  Infrastruktuur  |  Spoorweë  |  Staatsondernemings  |  Treindienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.