Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa onder administrasie en direksie ontbind
Alec Moemi, direkteur-generaal van Prasa, Fikile Mbalula, minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga adjunkminister van vervoer, en Bongisizwe Mpondo, pas aangestel as administrateur van Prasa. Foto: Bonolo Selebano

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Maandag die tussentydse direksie van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) ontbind en die staatsonderneming onder administrasie geplaas.

Mbalula het die aankondiging gemaak op ’n mediakonferensie en gesê “drastiese stappe” is nodig om die uitdagings in die staatsbeheerde entiteit die hoof te bied.

Bongisizwe Mpondo is met onmiddellike effek as administrateur aangestel.

Bewerings van wanadministrasie in die passasierspooragentskap word reeds ’n geruime tyd gemaak. Ook voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is bewerings van onregmatige gedrag deur werknemers en bestuurders sowel as die onregmatige besteding van staatsgeld by Prasa geopper.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Augustus amptelik opdrag gegee dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) Prasa ondersoek.

Die tussentydse direksie van die staatsonderneming het in die afgelope boekjaar byvoorbeeld tien direksievergaderings gehad en is vir die bywoning daarvan vergoed.

Maar daar bestaan geen notules, aantekeninge van resolusies wat aanvaar is of bewyse van besluitneming van enige van die tien vergaderings nie, het Netwerk24 vroeër berig.

Volgens Mbalula is ’n “drastiese ommeswaai” by Prasa dringend nodig. Dit sluit in “tasbare resultate” wat aan Suid-Afrikaners sigbaar moet wees, sê hy.

Derduisende pendelaars is daagliks afhanklik van Prasa se stedelike passasierstreindienste van Metrorail om by die werk te kom.

Die ouditeur-generaal het onlangs ’n weersprekende ouditmening aan Prasa gegee. Dit beteken in effek dat die OG weens ’n gebrek aan inligting weier om eens ’n opinie oor die staatsonderneming se oudit te gee.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het ’n paar weke gelede aangedui dat Prasa se direksie “volledig aanspreeklikheid vir die ineenstorting van die korporatiewe bestuur” by die staatsinstelling behoort te aanvaar.

Volgens Mbalula sal dit nie help om eenvoudig die tussentydse direksie met ’n nuwe een te vervang nie. Prasa word dus met onmiddellike effek onder administrasie geplaas en sy direksie ontbind.

Dr. Nkosinathi Sishi se benoeming as heeltydse uitvoerende hoof word ook hiermee onttrek, sê Mbalula.

Meer oor:  Prasa  |  Fikile Mabula  |  Staatsondernemings  |  Administrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.