Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa ondersoek uitlek van vertroulike dokumente

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) gaan die uitlek van vertroulike tenderdokumente ondersoek.

Tydens die inperking is Prasa se spoorinfrastruktuur ’n nog groter versoeking vir diewe en vandaliste. Foto: Francois Williams

Dit gaan oor ’n tender vir veiligheidsdienste waarvan die tenderdokumente aan ’n veiligheidsmaatskappy uitgelek is, het Bongisizwe Mpondo, die administrateur van Prasa, Maandag aangekondig.

Hy het Tebogo Rakau, waarnemende veiligheidshoof van Prasa, opdrag gegee om ondersoek in te stel oor hoe dié dokumente – in stryd met die maatskappy se beleid – by ’n eksterne party uitgekom het.

Dit kom nadat Prasa ’n paar weke gelede vier senior amptenare in sy beskermingsdienste afgedank het nadat hulle in ’n tugverhoor rakende die onreëlmatige toekenning van tenders aan ernstige wangedrag skuldig bevind is.

Prasa het die kontrakte ’n paar weke tevore op aanbeveling van die openbare beskermer en die ouditeur-generaal se kantoor beëindig.

Mpondo is in Desember verlede jaar aangestel om Prasa ná jare van wanbestuur en korrupsie te help stabiliseer.

Prasa, wat die voorstedelike treindiens Metrorail en die langafstandpassasierstrein Shosholoza Meyl bestuur, is in die proses om tenders toe te ken om sy infrastruktuur te beskerm.

Spoorlyne en ander toerusting van Prasa loop al die afgelope jare, veral in die Wes-Kaap, erg deur onder vandale en skroothandelaars, wat die gestroopte toerusting opkoop.

Sedert die begin van die nasionale staat van inperking weens Covid-19 het die vandalisme en diefstal net vererger. Alle Metrorail-treindienste is sedert einde Maart gestaak. Die regering het onlangs aangekondig dat die treindienste in net sekere gebiede en op ’n baie beperkte wyse hervat gaan word.

Die afwesigheid van enige aktiwiteite op Metrorail se stasies en op die spoorroetes was die ideale geleentheid vir skrootmetaalstropers om toe te slaan.

Transnet Freight Rail loop ook erg deur onder vandalisme, wat sy vragtreindiens belemmer.

Mpondo het intussen gewaarsku dat die uitlek van die tenderdokumente wat deur net ’n paar senior mense in Prasa gehanteer is, baie kommerwekkend is en ’n duidelike terugvegpoging wys deur hooggeplaastes in Prasa teen die poging om die instelling van korrupsie en wanbestuur te suiwer.

“Ons waarsku mense en maatskappye wat vertroulike maatskappydokumente versprei en ontvang dat hulle die wet oortree en daardeur teen die belange van Prasa en die mense van Suid-Afrika optree, wat uiteindelik die aandeelhouers van Prasa is,” het Mpondo gesê.

Meer oor:  Transnet  |  Prasa  |  Tenders  |  Treindienste  |  Tenderbedrog  |  Bedrog  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.