Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Prasa se geld op, bankrekening gevries’

Die staat se passasierspoordiens Prasa se bankrekening is gevries want daar is bloot nie geld daarin nie, sê die vervoerwerkersvakbond Untu.

Gefrustreerde pendelaars wag vroeër die week op die Kaapstad-stasie om uit te vind of daar ’n trein is wat hulle huis toe kan neem. Daar is tans net 30 uit 84 werkende treinstelle in die Wes-Kaap, weens onder meer vandalisme, agterstallige instandhouding en onderdele wat nie beskikbaar is nie. Foto: Francois Williams

Dit kon nie amptelik by Prasa bevestig word nie, maar Sonja Carstens, woordvoerder van Untu, sê die vakbond het verlede week met Bongisizwe Mpondo, die administrateur van Prasa, vergader waar werknemerverteenwoordigers ingelig is oor Prasa se probleme.

Prasa bedryf die voorstedelike treindiens Metrorail en die langafstandpassasiersdiens Shosholoza Meyl.

Prasa Wes-Kaap het vandeesweek uiteindelik sy agterstallige kragrekening aan Eskom betaal nadat Eskom al in Desember gedreig het om Metrorail se krag in die Wes-Kaap af te sny. Maar Dinsdag het Eskom ook Prasa se krag vir die Metrorail-treindiens tussen Germiston en Vereeniging afgesny weens wanbetaling, sê Carstens.

Untu, wat meer as 50% van die sowat 14 000 werknemers by Prasa verteenwoordig, is bekommerd oor die toekoms van sy lede. “Ons lede word geweldig hierdeur benadeel, want as jy met ’n Prasa-salarisstrokie by ’n bank opdaag om vir ’n huis- of motorlening aansoek te doen . . . Banke wil nie sake doen met ’n werknemer van ’n staatsonderneming wat binnekort bankrot kan speel en mense moet aflê nie.”

Mpondo het Untu belowe die kwessie van die bankrekening wat gevries is, behoort binne die volgende maand reggestel te wees. Daar is ook geen aanduiding dat Prasa-werknemers nie wel in Januarie hul salarisse sal ontvang nie. Mpondo kon egter nie die versekering gee dat daar geen afleggings sal wees nie.

Prasa is in absolute wanorde, volgens Carstens. Daar is geen vermoë om basiese verkryging te doen nie. By die Braamfontein-depot kan Prasa byvoorbeeld nie rem-onderdele aankoop om treinwaens te versien nie.

Daar is nie meer geld vir vlugte nie, so arbeidsverteenwoordigers of topbestuurders van die Wes-Kaap of ander streke kan nie na Johannesburg vlieg vir vergaderings nie, so alle vergaderings word nou per telekonferensie gehou.

Carstens sê Untu steun Mpondo se pogings om die wanbestuur by Prasa aan te pak. Dit sluit leefstyloudits in. “Ons besef hy moet met ’n skoonmaakproses begin.”

Intussen het die gemeenskapsnuusdiens GroundUp verlede week berig die regsfirma Werksmans het sy kontrak met Prasa opgeskort, want Prasa skuld hom R19 miljoen se agterstallige regskoste vir verskillende hofsake waarin hy Prasa verteenwoordig. Prasa is by ’n paar regsgedinge betrokke in ’n poging om gesteelde geld terug te kry en om kontrakte te beëindig wat aan korrupte kontrakteurs toegeken is.

Navrae aan Prasa is tot dusver onbeantwoord.

Meer oor:  Untu  |  Prasa  |  Spoorweë  |  Treine  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.