Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa sê protes sal treine nie ontwrig

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sal die nodige gebeurlikheidsplanne gereed hê wanneer die vakverbond Fedusa en die vakbond Untu op Vrydag 26 Julie ’n landwye protesaksie hou om Metrorail se treindienste tot stilstand te dwing.

Nana Zenani, woordvoerder van Prasa, het gesê Prasa respekteer enigiemand of organisasie se reg om aan ’n protesoptrede deel te neem. Planne word egter gemaak om te voorkom dat die pendeldienste ontwrig word.

Noodpersoneel in Januarie by die treinramp naby die Mountain View-stasie in Pretoria, waarin ses pendelaars dood en 640 beseer is. Die oorsaak van die ongeluk was na bewering ’n misverstand en swak kommunikasie tussen ’n treindrywer en ’n treinbeheerder te midde van sinjaaltoerusting wat weens vandalisme buite werking was. Foto: DAILY SUN

Frank Nxumalo, media-en-navorsingsbeampte van Fedusa, het Dinsdag in ’n verklaring gesê die staking is uit protes teen die uiters swak en gevaarlike Metrorail-pendeldiens, wat voortgaan om gesondheids- en veiligheidsregulasies te oortree soos duidelik blyk uit treine wat voortdurend laat is, doelbewuste brandstigting en eindelose noodlottige ongelukke wat traumaties vir die slagoffers se naasbestaandes is.

“As gevolg van die mislukte diens word pendelaars daagliks gefrustreer en hulpeloos gelaat.”

Riana Scott, mediawoordvoerder vir Metrorail in die Wes-Kaap, het bevestig dat die instansie van Fedusa se stakingsplanne bewus is.

Volgens Nxumalo het Fedusa die protes as ’n nasionale dag van protesoptrede verklaar om pres. Cyril Ramaphosa te dwing om die krisis by die passasierspoordiens as ’n nasionale ramp te verklaar sodat die weermag ontplooi kan word om die spoorinfrastruktuur te beskerm en kan help om misdaad in en om treine te bestry.

Fedusa het by Nedlac ’n stakingsertifikaat om sosio-ekonomiese redes ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge verkry. Dit gee alle werkers en die gemeenskap die reg om aan die protesoptrede deel te neem.

Volgens Fedusa gee die sertifikaat alle werkers in al die provinsies ook die reg om sonder vrees vir intimidasie deur hul werkgewers aan die protesoptrede deel te neem, solank hulle op die dag van die protes ’n afskrif van die sertifikaat op hulle het.

Hoewel Fedusa en Untu wil glo in Ramaphosa se droom van blitstreine, waarna hy in sy staatsrede op 20 Junie verwys het, moet hulle dié droom “weens die nagmerrie wat ons lede daagliks op treine vol koeëlgate moet verduur” eers laat vaar, sê Nxumalo.

Buiten vir die ontplooiing van die weermag, wil Fedusa en Untu hê dat Prasa, die polisie, die departement van vervoer en die Reguleerder vir Spoorveiligheid dadelik ou stukkende en gesteelde infrastruktuur en toerusting soos treinspore, sinjaaltoerusting en onveilige en verouderde treinwaens vervang, en die spoorwegpolisie terugbring.

Sonja Carstens, mediawoordvoerder vir Untu, verduidelik dat die stakingsertifikaat ingevolge artikel 77 baie eiesoortig is. Untu het sy motivering vir die sertifikaat twee maande lank by Nedlac geargumenteer, waar die Reguleerder vir Spoorveiligheid, die departemente van vervoer en openbare ondernemings, die polisie, Prasa, asook die presidensie teenwoordig was.

Van die argumente wat aangevoer is, is dat Prasa tans steeds bloot op die genade van ’n hofbevel in Oktober verlede jaar ’n bedryfslisensie het.

Untu kon bewys dat die inligting wat Prasa en die departement van vervoer oor treindienste in die openbaar verskaf, hemelsbreed van die ware toedrag van sake verskil. Byvoorbeeld, Prasa het gesê daar is 46 treinstelle in die Walmer-depot in Gauteng vir diens op die Mabopane-lyn, terwyl daar glo in werklikheid net 12 treinstelle is waarvan net 8 werk.

Daar is glo 16 sinjale wat nie een werk nie by Mountain View in Pretoria, waar ses pendelaars gesterf en 640 ander aan die begin van die jaar in ’n treinbotsing beseer is.

Untu eis groter beskerming omdat sy lede wat by Metrorail werk, glo die afgelope drie jaar al meer deur woedende passasiers aangeval word. Untu verteenwoordig die meeste treindrywers en ander personeel by Metrorail.

Volgens Carstens is groepe soos Cosatu, Saftu, Sanco, Sisonke Rail, Outa, die AA en UniteBehind ook genooi om aan die protes deel te neem.

Meer oor:  Metrorail  |  Untu  |  Fedusa  |  Prasa  |  Treine  |  Staking  |  Spoorweë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.