Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa: Té hoë treine sowaar steeds op pad na SA

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) gaan sowaar voort met ’n R3,5 miljard-kontrak om lokomotiewe te bekom wat reeds te hoog vir Suid-Afrika se spoorweë bevind is.

prasa
Een van die omstrede Afro 4000-diesellokomotiewe wat te hoog is vir Suid-Afrika se spoorweë. Foto: Wikipedia

Prasa het Dinsdag aan Netwerk24 bevestig dat die ooreenkoms voortgaan agt jaar nadat die omstrede kontrak aanvanklik onderteken is en nadat ’n hof die transaksie korrup bevind het. Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het ook gehoor dat geld van die kontrak na oudpres. Jacob Zuma se stigting en sommige van sy vriende gevloei het.

Die 70 treine wat as deel van die kontrak teen ’n koste van sowat R3,5 miljard bestel is, staan as die Afro 4000-diesellokomotiewe bekend en is 299 mm te hoog om onder baie van Suid-Afrika se brûe te kan pas.

Prasa sê egter litigasie om die geld te verhaal wat aan die lokomotiewe bestee is, is te duur en likwidasie van die bates sal ’n te klein opbrengs lewer om te regverdig dat die ooreenkoms gestaak word.

“Die behoefte en gebruik van die lokomotiewe bestaan steeds,” het Bane Ndlovu, woordvoerder van Prasa, Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Volgens Ndlovu het Prasa reeds sewe van die 13 lokomotiewe wat al afgelewer is, as deel van ’n likwidasieproses van die verkrygingsonderneming Swifambo verkoop, maar net ’n “powere” R65 miljoen is so geïn – al is die sewe treine eintlik R350 miljoen werd.

Swifambo was volgens die Zondo-kommissie geheel en al opgestel as ’n onderneming om die lokomotiewe vir Prasa te bekom vanaf Vossloh Espana, die Spaanse vervaardiger van die lokomotiewe. Volgens die hooggeregshof in Johannesburg, wat in 2017 die kontrak ter syde gestel het, was Swifambo niks meer as ’n front vir die korrupte handelinge met die kontrak nie.

Die Sunday Times het berig dat die miljoene rande wat Prasa aan Swifambo betaal het, regstreeks na die Jacob Zuma-stigting en Zuma se bondgenoot Maria Gomes gevloei het.

Vossloh is intussen bankrot verklaar en is deur die Switserse maatskappy Stadler gekoop.

Nou meen Prasa omdat die verkoop van die treine nie ’n opsie is nie en litigasie om sy geld terug te kry van Vossloh (nou Stadler) te duur is, is die enigste opsie om ’n kommersiële ooreenkoms met Stadler aan te gaan om wel die ander 57 lokomotiewe te ontvang.

Prasa

Maar hulle is dan te hoog?

Ndlovu verduidelik aan Netwerk24 dat Stadler ooreengekom het om die oorblywende lokomotiewe in Suid-Afrika en Spanje teen geen bykomende koste nie aan te pas sodat hulle wel onder Suid-Afrika se brûe sal pas.

“Deur hierdie kommersiële ooreenkoms te bereik, sal Prasa waarde kry wat beter is as enige verhaling van Swifambo deur middel van ’n geding,” sê Ndlovu.

“Hiermee maksimaliseer Prasa dus die waarde vir die geld wat betaal word vir die verkryging van die lokomotiewe.”

Prasa het R2,6 miljard aan Swifambo betaal. Stadler sal nou sonder om ’n sent meer te vra, nie net die lokomotiewe aanpas nie, maar dit ook aflewer teen geen ekstra koste nie, sê hy.

Volgens Prasa is die behoefte te groot om die spoornetwerk te moderniseer om nie dié geleentheid om nuwe, moderne treine te bekom, aan te gryp nie.

Nog niemand vervolg

Selfs al ondersoek die Valke al sedert 2017 die beweerde korrupsie met die kontrak, is geen vordering nog gemaak nie.

Niemand met enige verbintenis met die kontrak is al vervolg of gedissiplineer nie – en nou lyk dit asof die kontrak sal voortgaan sonder dat daar enige gevolge vir die beweerde korrupsie sal wees wat al op soveel geleenthede bevestig is.

Ndlovu sê die ooreenkoms met Stadler is nog net ’n besprekingsdokument en is dus nog nie gefinaliseer nie. Die tesourie moet ook nog die ooreenkoms goedkeur.

Maar Prasa is vasbeslote: Dié treine sal hy kry.

Meer oor:  Prasa  |  Swifambo  |  Lokomotiewe  |  Treine  |  Spoorweë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.