Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Prasa-vakbond wil hof toe oor verhogings
’n Staking by Prasa, wat die stedelike passasierspendeldiens Metrorail en die langafstandtreindiens Shosholoza Meyl bedryf, sal verlammend wees vir derduisende werkers. Foto: Duncan Alfreds, News24

Die vakbond Untu mik hof toe weens aanduidings dat die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) hom straks nie gaan hou by ’n veeljarige loonooreenkoms wat ’n paar weke gelede beklink is nie.

Die nasionale tesourie het glo aan Prasa gesê dat hy net soos die staatsdiens ook nie vanjaar enige verhogings mag toestaan nie, want Prasa word beskou as deel van die staatsdiens, het Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, in ’n verklaring laat blyk.

Tito Mboweni, minister van finansies, het vroeër vanjaar met die Februarie-begroting, asook weer met die aanpassingsbegroting in Junie en die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober, aangedui dat die regering die staatsdiens-salarisrekening wil besnoei.

Mboweni mik om die salarisrekening oor die volgende drie jaar met meer as R160 miljard te besnoei.

Deel van die besnoeiing is om vanjaar geen verhogings aan staatsamptenare te gee nie. Die staat is self met staatsdiensvakbonde in ’n hofgeding betrokke omdat die bevriesing van verhogings neerkom op kontrakbreuk, want vanjaar is die laaste jaar van ’n veeljarige loonooreenkoms van drie jaar wat reeds met staatsdiensvakbonde beklink is.

Untu het ’n dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verklaar. Die KVBA het aan die vakbond ’n sertifikaat van nieresolusie uitgereik, wat vakbondlede toelaat om met ’n beskermde staking te begin nadat hulle Prasa 48 uur kennis gegee het.

’n Staking by Prasa, wat die stedelike passasierspendeldiens Metrorail en die langafstandtreindiens Shosholoza Meyl bedryf, sal verlammend wees vir derduisende werkers wat reeds ly onder Metrorail-dienste wat landwyd verval.

Untu is die meerderheidsvakbond by Prasa en heelparty van sy lede is treindrywers.

Volgens Harris sal dit verregaande wees as Prasa gehoor moet gee aan versoeke van die tesourie om nie verhogings ingevolge die loonooreenkoms toe te staan nie. Dit sal beteken die arbeidsektor het maande gemors om aan loononderhandelings deel te neem.

Harris meen dit sal ’n blatante minagting van kollektiewe bedinging wees, wat ’n fundamentele reg is in die Grondwet en in die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Meer oor:  Prasa  |  Vervoer  |  Vakbonde  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.