Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pravin gee SAL sy R5 mjd. borg en 'n waarskuwing
Dudu Myeni, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se direksie, Vrydag in Pretoria. Foto: Thapelo Maphakela

Dit kan nie “sake soos gewoonlik” by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wees nie.

Dís die boodskap wat Pravin Gordhan, minister van finansies, Vrydag in ’n vergadering met die nuwe direksie van die staatsbeheerde lugdiens oorgedra het. 

Gordhan het ook aangekondig dat die staatswaarborg van R5 miljard wat die SAL nodig het, toegestaan word, maar met elf streng voorwaardes, wat insluit dat “meer aggressiewe”  kostebesnoeiing by die lugdiens plaasvind.

Roetes wat nie winsgewend is nie, moet gesluit word en die samesmelting van die SAL met SA Express moet ondersoek word, het Gordhan gesê. 

Die direksie, wie se aanstelling op 31 Augustus deur die kabinet goedgekeur is, het by die tesourie se kantoor in die Pretoriase middestad met Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, vergader. Dudu Myeni, wat as voorsitter heraangestel is, was ook op die vergadering.

Die doelwit was om te praat oor die stand van die lugdiens en die regering se verwagtinge van die direksie, sê die tesourie.

“Die primêre fokus is om die lugdiens tot finansiële volhoubaarheid te herstel terwyl ander belangrike regeringsdoelwitte ook bereik moet word.” 

Roetes wat meer as ’n jaar lank ’n verlies ly, moet toegemaak word.

Klem is ook gelê daarop dat die wetlike voorskrifte oor verkryging gevolg moet word. Dit is ’n kwalik verskuilde verwysing na die aanstelling van BnP Capital om die SAL se R15 miljard-skuld te herstruktureer sonder dat ’n behoorlike tender vir die kontrak uitgereik is. Dié kontrak is intussen gekanselleer.

Die staatswaarborg word toegestaan met 11 voorwaardes:

1. Die primêre fokus van die direksie moet wees dat die lugdiens na finansiële volhoubaarheid terugkeer.

2. Die SAL se strategie moet versterk word en in pas gebring word met ander staatsbeheerde lugdienste.

Pravin Gordhan, minister van finansies. Foto: Reuters

3. Die SAL moet koste baie meer aggressief besnoei wat betref brandstof, eienaarskap van die vliegtuie, arbeid, onderhoud, herstelwerk en verkryging.

4. Die netwerk- en vlootplan moet verfyn word op “gesonde sakebeginsels”. Dit kan meebring dat sekere roetes afgeskaal word en meer gefokus word op winsgewende roetes. Roetes wat meer as ’n jaar lank ’n verlies ly, moet toegemaak word.

5. Die lugdiens moet homself beter differensieer sodat hy meer mededingend word.

6. Die SAL moet met die tesourie en departement van openbare werke saamwerk om die moontlike samesmelting met SA Express te ondersoek, asook die verkryging van ’n “strategiese ekwiteitsvennoot”.

7. ’n Nuwe proses word begin om ’n nuwe uitvoerende hoof, finansiële hoof en ander sleutelbestuurders aan te stel.

8. Finansiering moet verseker word om die lugdiens se kontantvloeiprobleme op te los.

9. Die SAL se resultate vir 2014-’15 en 2015-’16 moet gefinaliseer word.

10. Die lugdiens moet gereeld vordering aan die tesourie aanmeld.

11. ’n Kommunikasie-protokol is uiteengesit hiervoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.