Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pravin laat Mango aspris vou, kla vakbonde

Die departement van openbare ondernemings word beskuldig daarvan dat hy die lugdiens Mango met opset toelaat om te vou sodat Lift kan floreer.

Die staat se goedkoop lugdiens, Mango, sukkel.

Dit is een van die bewerings van die Mango-vlieëniersvereniging (MPA), die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die metaalwerkersvakbond Numsa wat onlangs uit desperaatheid ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het.

Netwerk24 het die brief onder oë gehad en kan bevestig dat die drie vakbonde beweer dat die departement nou “in die belang” van die Takatso-konsortium, die nuwe private ekwiteitsvennoot (SEP) van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), optree.

Die vakbonde reken dat die departement nou aspris toelaat dat Mango in duie stort sodat die SEP se een vennoot, Global Aviation, wat plaaslik die laekostelugdiens Lift bedryf, die gaping kan vul met Lift wat oorbly wanneer Mango sy deure moet toemaak.

“Uit die inligting tot ons beskikking, die media en die SEP-kommentaar daarop blyk dit dat ’n eens baie suksesvolle staatsbate deur die departement van openbare ondernemings in die grond gedryf word om ’n oorname van die SEP se jong laekostelugdiens, Lift, te regverdig,” sê die MPA, Sacca en Numsa.

Mango se meer as 750 personeellede het geen salaris in Junie ontvang nie.

Net in September en Desember verlede jaar en van Februarie tot Mei vanjaar het die werknemers hul volle salarisse ontvang. Buiten vir bogenoemde maande het hulle sedert April 2020 egter net ’n deel van hul salarisse ontvang. Die gedeeltelike betalings was soms net 5% (April en Mei 2020), 15% (Junie 2020), 20% (Augustus 2020) en 50% (Januarie 2021).

Vanjaar het die werknemers 50% in Januarie ontvang, maar 100% in Februarie, Maart, April en Mei. Mango is elke werknemer gemiddeld sowat ses maande se salarisse verskuldig.

Die vakbonde skryf in hul brief dat dit danksy die “welwillendheid” van werknemers is dat die “eens trotse” lugdiens nog vlieg.

Volgens die vakbonde was Mango nog altyd ’n winsgewende onderneming, en een van die staatsondernemings wat wel dividende vir die staatskas gelewer het.

Hulle vra dus nou dringend dat die lugdiens, soos sy moedermaatskappy, in sakeredding geplaas word.

Dit word verstaan dat die reddingsboei aan die SAL se filiale, naamlik Mango, SAL Tegnies en AirChefs, net kan vloei as die ondernemings in sakeredding gaan of deur die tussentydse direksie van die SAL self herstruktureer word.

Die parlement het reeds vroeër vanjaar die spesiale bewilligingswetsontwerp vir die herleiding van R2,7 miljard van die SAL se reddingsboei van R10,5 miljard na sy filiale goedgekeur.

Maar dié geld het nog nie begin vloei nie.

“Na raming is ongeveer 10 000 mense op die een of ander wyse van Mango vir hul bestaan afhanklik. Dit sou tragies wees as so ’n suksesverhaal van die regering opgeoffer word om dit vir ’n private ekwiteitsvennoot maklik te maak om staatsbates te plunder.

“Mango is ’n juweel in die kroon van die regering se staatsondernemings, wat baie jare se wins en volhoubare groei gelewer het. Gespesialiseerde sakereddingspraktisyns het aanbeveel dat Mango ’n uitstekende kandidaat vir sakeredding en die moeite werd is om te red. Elke werk wat in hierdie desperate tye gered word, is van kritieke belang.

“Aangesien derduisende werkgeleenthede weens Covid-19 verlore gaan, kan ons nie toelaat dat ons personeel aan die woesteny van die arbeidsmark oorgelaat word nie.

“Meneer die president, ons smeek u om die minister van openbare ondernemings en sy departement, wat blykbaar deur besluiteloosheid verlam word, te lei.

“Besluiteloosheid wat vinnig besig is om Mango dood te maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.