Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pravin se forum oor SAL van die baan
Die departement van openbare ondernemings het hom onttrek van die raadplegende leierskapsforum wat oor die voortbestaan van die SAL moes besin. Foto: Reuters

Die departement van openbare ondernemings gaan hom van die raadplegende leierskapsforum oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) onttrek.

Dié forum is juis in April deur Pravin Gordhan, minister aan die hoof van dié departement, geskep om ’n “nuwe” SAL uit die as van die oue te laat herrys.

Hy was die voorsitter van dié forum.

Die departement sê Sondagmiddag in ’n verklaring hy gee kennis dat hy hom onmiddellik van dié forum onttrek aangesien dit nie meer sy doel dien nie.

Van die doelwitte was:

  • Om ’n ooreenkoms aan die sakeredders van die SAL voor te lê ter ondersteuning van die sakereddingsplan vir die lugdiens, of om sinvolle voorstelle vir ’n gewysigde sakereddingsplan te maak;
  • Gesamentlike voorleggings aan die sakeredders voor te lê oor vrywillige skeidingspakkette wat billik is vir die SAL-werknemers wat afgelê gaan word;
  • Om gesamentlike leierskap te gee terwyl die SAL ’n wesenlike herstrukturering van sy bedrywighede en kostestruktuur ondergaan;
  • Om te verseker dat die SAL so gou as moontlik weer sy vliegbedrywighede kan hervat; en
  • Om saam te werk en ’n bydrae te lewer tot die stigting van ’n nuwe lugdiens met die deelname van ’n strategiese ekwiteitsvennoot.

Dit blyk uit die departement se verklaring dat die besluit Donderdag om die vergadering met krediteure waar daar besluit moes word oor of die sakereddingsplan aanvaar word of nie, uit te stel, die rede is hoekom hy hom nou van die forum onttrek.

Drie vakbonde en SA Airlink – as krediteur – het aansoeke gebring dat die vergadering uitgestel moet word.

Die krediteure het toe met 69% teenoor 31% gestem dat die vergadering tot 14 Julie uitgestel word.

SA Airlink het vroeër die week ’n interdik in die hooggeregshof in Johannesburg probeer bekom om te keer dat die vergadering plaasvind.

Dié aansoek is egter van die rol geskrap. Hy het toe voortgegaan om ’n aansoek te bring om dit uit te stel op die vergadering wat Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders, belê het.

LEES OOK: Besluit oor SAL tot Julie uitgestel

Die departement sê deur SA Airlink se aansoek te steun om die vergadering uit te stel, het Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) – wat dié aansoek gesteun het – “die letter en gees van die leierskapsforum weerspreek”.

Die departement sê hul besluit om die vergadering uit te stel, verhoog nou die risiko dat net 1 000 van die SAL se werknemers hul werk gaan behou, terwyl sowat 2 900 hul werk gaan verloor.

“In plaas van om voorwaardes te skep om beleggings en geskoolde Suid-Afrikaners te lok, het drie vakbonde die SAL op die pad na moontlike likwidasie geplaas,” vaar die departement uit in die verklaring.

“Deur SA Airlink te ondersteun om die vergadering uit te stel, het Numsa, Sacca en Saapa hulself effektiewelik in lyn gebring met ’n mededinger wat aansienlik baat sal vind indien die SAL gelikwideer sou word.”

Deur SA Airlink te ondersteun om die vergadering uit te stel, het Numsa, Sacca en Saapa hulself effektiewelik in lyn gebring met ’n mededinger wat aansienlik baat sal vind indien die SAL gelikwideer sou word.
Departement van openbare ondernemings

Die departement sê ook met dié dat werknemers reeds vir drie maande nie salarisse ontvang nie, is dit duidelik dat werknemers nie meer enige verdere vertragings wil hê om die sakereddingsproses af te handel nie.

“Hulle wil groter sekerheid hê, veral oor hul skeidingsvoordele en dat die SAL sy vlugte sal hervat en sy markaandeel weer sal inneem.”

Die departement bedank die Nasionale Vervoerbeweging, die SA Transport Workers Union, nie-vakbondwerkers en Solidariteit in die verklaring “vir hul samewerking, konstruktiewe verbintenis tot die leierskapsforum en hul pogings om die sakereddingsproses nader aan finaliteit te bring, in belang van die SAL se werknemers”.

Die departement wys weer daarop dat hy reeds finale skeidingspakkette aan werknemers aangebied het.

Die pakkette bestaan uit die minimum wat die wet voorskryf – naamlik een week se vergoeding vir elke jaar gewerk – maar sal bereken word op grond van salarisse met ’n 5,9%-verhoging wat terugwerkend van krag word. Die verhoging is in November verlede jaar beding, maar nie ingestel nie omdat die lugdiens in Desember in sakeredding gegaan het.

Die departement sê hy glo die pakette is “billik, vrygewig en redelik, met inagneming van ons huidige ekonomiese omgewing”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.