Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pravin se twis met vakbonde oor SAL duur voort

Die vurige twis tussen die regering en vakbonde oor die afleggings wat by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) voorsien word, het Donderdag voortgewoed.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Gallo Images

Die regering het opnuut druk op vakbonde en krediteure geplaas om vrywillige skeidingspakkette te steun en die sakereddingsplan vir die SAL goed te keur.

Die departement van openbare ondernemings sê in ’n verklaring die alternatief – likwidasie – gaan “tot finansiële swaarkry vir werknemers en beduidende onderwaardering van bates” lei.

“Alle SAL-belanghebbendes wat in ’n posisie is om ’n sakereddingsplan te ondersteun of verwerp, moet besef dat sakeredding ’n beter uitkoms as likwidasie bied.”

As vakbonde nie die skeidingspakkette ondersteun nie, is dit onwaarskynlik dat krediteure die sakereddingsplan sal goedkeur.

Die stemmery oor die sakereddingsplan is verlede week tot 14 Julie uitgeskuif. ’n Volle 75% van krediteure moet die plan ondersteun. As dit afgekeur word, moet die “uitgerekte en duur likwidasie” van die SAL begin, sê die departement.

“As die aandeelhouer namens die regering is ons van mening dat sakeredding ’n lewensvatbare alternatief tot likwidasie is – een wat die behoud van die werk ondersteun, asook die vermoë om die lugdiens van die afgrond af terug te bring tot ’n posisie waar sommige werknemers, vakbonde en krediteure kan aanhou bydra tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en sy integrasie in die wêreldekonomie.”

Die departement glo likwidasie – ’n proses wat jare kan duur – sal op ’n minimale opbrengs vir krediteure uitloop nadat gesekureerde en voorkeurkrediteure uit die opbrengs van die SAL se bates betaal is. Werknemers sal ’n maksimum van R32 000 elk ontvang, ongeag hoeveel jaar diens hulle het en slegs indien geld beskikbaar is.

Die departement sê R2,2 miljard is vir vrywillige skeidingspakkette begroot in die sakereddingsplan. Die pakkette kan aan werknemers aangebied word indien die sakereddingsplan goedgekeur word.

Dit sluit in een week se betaling vir elke jaar diens, ’n maand kennis se betaling, die uitbetaling van verlof, ’n 13de tjek en die aanvul van skeidingspakkette.

Die sakereddingsplan voorsien dat slegs 1 000 van die SAL se 4 700 werknemers ná die herstrukturering sal oorbly.

Die verklaring kom nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die naweek aangekondig het hy onttrek hom aan die raadplegende leierskapsforum oor die SAL. Dié forum tussen die regering en vakbonde is juis in April geskep om ’n “nuwe” SAL uit die as van die oue te laat herrys”. Gordhan was die voorsitter van dié forum.

Van die SAL-vakbonde, naamlik Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa), het in reaksie gesê Gordhan was nooit eerlik oor onderhandelinge met vakbonde nie.

Die vakbonde het hul eie lys van voorstelle om die lugdiens te red. Dit sluit in dat vlugte hervat word en roetes heringestel word, teenoor die sakeredders se plan om vlugte eers in 2021 te hervat.

Die vakbonde het ook voorgestel dat die lugdiens se arbeidsmag van 4 700 na 3 200 verminder word. Hulle het verder voorgestel dat net ’n klein aantal van die 3 200 aanvanklik moet help om die lugdiens weer op die been te bring en dat die res dan mettertyd weer kan begin werk.

Hul voorstel was dat werknemers gedurende die wagtyd steeds 75% van hul salaris moet ontvang, terwyl hulle ook verdere opleiding kry.

Meer oor:  Saapa  |  Sacca  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Numsa  |  Pravin Gordhan  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.