Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Private hospitale verwag stortvloed Covid-19-gevalle
ventilator
'n Man gekoppel aan 'n ventilator. Foto: Getty Images

Life Healthcare se inkomste het weens die Covid-19-pandemie reeds met nagenoeg R240 miljoen geval. Dit is net in die ses maande tot einde Maart, wat beteken dat dit nog nie naastenby die volle impak van die pandemie op die privaathospitaalgroep weerspieël nie.

Life het Maandag die tweede privaathospitaalgroep in die land geword wat besluit het om nie ’n dividend uit te keer nie. Vir Mediclinic, wie se boekjaar in Maart eindig, was dit die finale dividend, maar vir Life Healthcare net die tussentydse dividend, vir die halfjaar ook tot einde Maart.

Die maatskappy se wins gaan in die volgende ses maande verder onder druk kom, sê hy in ’n handelsverklaring. Dit word onder meer aan probleme in die verskaffingskettings en kostestygings weens die pandemie, sowel as die uitstel van nie-noodsaaklike operasies en skanderings toegeskryf.

Die groep het ’n uitgebreide handelsverklaring uitgereik waarin hy die impak van die pandemie op sy sake wêreldwyd uiteensit, asook sy hospitale se voorbereiding op ’n verwagte toestroming pasiënte.

Dit volg op ’n soortgelyke uiteensetting wat Mediclinic Vrydag gedoen het. Life Healthcare reik sy halfjaarresultate op 11 Mei uit.

LEES OOK: Mediclinic stop dividend, behou kontant weens pandemie

Voorbereiding vir Covid-19

Uit die verklaring blyk dit dat Life, wat meer as 60 hospitale en klinieke in Suid-Afrika bedryf, ’n skerp styging in die aantal Covid-19-gevalle oor die volgende maande verwag.

Die groep sê hy het genoeg beskermende toerusting vir gesondheidswerkers wat óf reeds afgelewer is óf binnekort afgelewer word. Alle werknemers dra maskers om die risiko van die oordrag van die virus wat Covid-19 veroorsaak te beperk. Die groep werk ook daaraan om werknemers toe te rus sodat hulle maskers kan dra selfs wanneer hulle nié by die werk is nie.

Alle gesondheidswerkers het griepinspuitings gekry en infeksiebeheerspesialiste in hospitale dryf opleiding oor en voldoening aan infeksiebeheermaatreëls.

In syfers

Die groep se syfers weerspieël nog nie die volle impak van Covid-19 nie.

  • Inkomste: Dit het met tussen 4,4% en 7,8% tot tussen R13 miljoen en R13,4 miljoen gestyg, met Suider-Afrika se inkomste wat met tussen 5,1% en 7,4% tot tussen R9,3 miljoen en R9,5 miljoen gestyg het.
  • Genormaliseerde verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda): Styg met tussen 0,7% en 4,8% tot tussen R2,7 miljoen en R2,9 miljoen.
  • Betaalde pasiëntdae: Styg met sowat 0,2%.
  • Inkomste per betaalde pasiëntdae: Styg met sowat 5,8%.

Riglyne vir die toetsing, versorging, infeksiebeheer en dra van beskermende toerusting vir Covid-19-pasiënte is ook ontwikkel.

Sekere hospitaalsale is toegewys net vir Covid-19-pasiënte om isolasie te vergemaklik en die risiko van oordrag na ander pasiënte te beperk.

Die hospitaalgroep het 49 hospitale wat akute sorg kan verskaf. Daar is 8 037 beddens, waarvan 1 035 hoësorgbeddens is. Die groep het 682 ventilators en 366 draagbare ventilators.

Die groep het uitgebreide planne gemaak ingeval daar ’n skerp styging in die aantal gevalle is, wat onder meer behels die hertoewysing van sale aan Covid-19-pasiënte, personeelbeplanning asook planne vir die isolasie van pasiënte.

Soos by Mediclinic word slegs noodoperasies tans in Life Healthcare-hospitale uitgevoer. Dit het tot ’n skerp daling in die aantal operasies gelei en beteken die hospitale is gemiddeld net sowat 40% vol. Dit het reeds teen die middel van Maart begin en het ook ná die einde van die halfjaar in April voortgeduur.

Om voorsiening te maak vir die daling in pasiënte-getalle, het die hospitaalgroep die indiensneming van verpleegkundiges deur agentskappe verminder, teaterpersoneel herontplooi en personeel gevra om met verlof te gaan.

“Die benutting van verlof is ook in werking gestel om te verseker personeel is voldoende uitgerus vir die verwagte Covid-19-styging.”

Life Healthcare sê hy praat voortdurend met sowel die nasionale as provinsiale departemente van gesondheid, en ’n “proses om pryse vas te stel vir die behandeling van staatspasiënte is tans onderweg”.

Oorsese sake

Life Healthcare het ook bedrywighede in Brittanje, Italië, Ierland, Spanje, Duitsland, die VSA, Nederland, Pole en Skandinawië, maar grootliks gefokus op die diagnose van mediese toestande wat nié met Covid-19 te doen het nie.

Skenkings

Die groep se bestuurspan en direkteure skenk 30% van hul salarisse of vergoeding oor die volgende drie tot ses maande aan die Solidariteitsfonds en fondse wat gestig is om Life Healthcare-personeel wat Covid-19 opdoen te help.

Alliance Medical Group, wat skanderings doen, het ’n daling van nagenoeg 65% in die volume prosedures beleef. Ook Scanmed, wat in Pole skanderings doen, voel die pyn.

“Land-spesifieke riglyne vir self-isolasie en sosiale distansiëring het ook gelei tot ’n groot styging in kansellasies en pasiënte wat nie vir afsprake opdaag nie. Gevolglik is openingsure beperk en sommige persele gesluit in alle streke en word dit buigsaam bestuur soos die gebeure ontvou.”

In Brittanje en Pole is wel staatshulp beskikbaar wat verseker dat die twee ondernemings steeds tydens die krisis ’n inkomste uit staatskontrakte verdien. In ander lande is daar ook uitgestelde versekeringspremies en belasting, en hulp vir tydelike werknemers wat afgelê word.

In Brittanje, Italië, Duitsland en Nederland het Alliance wel meer werk, en selfs ’n nuwe staatskontrak in Brittanje, om as deel van die Covid-19-pandemie mense se longe te skandeer.

Life Healthcare wou Scanmed verkoop het, maar het dié plan uitgestel weens die onsekerheid en wisselvalligheid wat die pandemie meebring. Die proses gaan dalk in die tweede helfte van 2020 hervat word as dinge genormaliseer het.

    Vooruitsigte

    Die groep doen, soos Mediclinic, verskeie stappe om genoeg kontant beskikbaar te hê.

    Dit sluit in die herfinansiering van skuld, met skuldbriewe wat in November 2020 verskuldig was, wat nou tot 2023 en 2025 uitgestel is. Oortrokke geriewe in Suider-Afrika is met R750 miljoen vergroot en gaan met nog R2,5 miljard vergroot word. Dit beteken die groep het nou toegang tot R4 miljard se ongebruikte oortrokke geriewe.

    Ander stappe om kontant te bewaar is die uitstel en vermindering van kapitaalprojekte, ’n embargo op nie-kritieke besteding, en die vermindering van tydelike personeel. Daar is met verskaffers onderhandel om betalings oor ’n langer termyn te doen en huurvakansies word met gebou-eienaars beding.

    Die groep se bestuurspan gee hul korttermyn-aansporings prys.

    Geen tussentydse dividend word “in dié onsekere tyd” betaal nie.


    Meer oor:  Life Healthcare  |  Mediclinic  |  Mediese Toetse  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Mediese Sorg
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.