Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Private skole voel ekonomiese druk aan hul bas

Private onderwysinstellings sien die ekonomiese druk op ouers in hul getalle deurdat ouers noodgedwonge hul kinders in goedkoper skole moet plaas.

Roy Douglas, uitvoerende hoof van Advtech.Foto: Verskaf

Roy Douglas, uitvoerende hoof van Advtech, sê ouers sal uit hul pad gaan voordat hulle ’n kind van skool sal verskuif.

“Iets beduidends moet gebeur voordat ouers dit sal doen. Ongelukkig sien ons dat ouers wel nou tot dié stap gedwing word omdat hulle nie meer private onderwys kan bekostig nie.”

Eweneens moet skole sommige leerlinge verdere toelating weier omdat hul skoolgelde baie agterstallig is.

“Ons probeer alles doen wat ons kan om dit te verhoed, maar soms het ons geen keuse as om die verhouding te beëindig nie. Ouers neem egter dikwels self die besluit,” sê hy.

Douglas het Maandag die groep se vooruitsig vir die onderwyssektor en sy rol daarin by die Capsicum Culinary Studio in Rosebank, Johannesburg, bespreek.

Skoolgroepe wat aan Advtech behoort, sluit in Crawford Schools, Trinityhouse, Maravest, Junior Colleges en Abbotts College in Suid-Afrika.

Private skoolgroepe se skoolgelde is beduidend hoër as dié van staat- of semistaatskole.

Die Crawford-skool in Sandton se skoolgelde vir 2018 is R105 910 per jaar vir ’n gr. 7-leerling en R132 830 per jaar vir ’n gr. 12-leerling.

’n Staatslaerskool (die ou model C-skole) in dieselfde omgewing se skoolgelde vir ’n gr. 7-leerling was R31 750 terwyl ’n nabygeleë hoërskool se skoolgelde R37 600 vir ’n gr. 12-leerling was.

Douglas sê Advtech besef daar is ’n behoefte aan meer bekostigbare private onderwys en dit is hoekom hy skole soos Founders Hill College in Modderfontein, Johannesburg, geskep het.

Dié skool se skoolfonds in 2018 het R44 935 vir ’n gr. 7-leerling en R57 102 vir ’n gr. 12-leerling beloop.

Douglas sê skoolgelde by dié en ander skole is laer, gegrond op wat die skole bied.

Douglas sê benewens ekonomiese druk wat ouers noop om hul kinders te skuif, raak emigrasie ook hul getalle.

Douglas sê in 2017 was 30% van die kinders wat die groep se skole verlaat het, omdat gesinne geïmmigreer het en 45% was omdat ouers dit nie meer kan bekostig nie.

Hulle het nog nie die syfers vir 2018 nie.

Private instellings het ’n bydrae te lewer

Dr. Felicity Coughlan, akademiese direkteur van Advtech, sê dit is ’n probleem dat private tersiêre instansies nie na hulself as “universiteite” mag verwys nie.

“Studente heg baie waarde aan die woord ‘universiteit’, maar private instellings mag nie dié term gebruik nie.”

Coughlan sê sy glo meer studente wat private studie kan bekostig, sal private instellings vir naskoolse studie oorweeg as dié instellings ook ’n ‘universiteit’ is.

Dit sal kapasiteit beskikbaar stel by tersiêre instellings wat deur die staat gesubsidieer word.

“Ons as groep glo nie die private sektor moet enige subsidie van die staat ontvang nie.

“Ons glo net dat gelyke status aan instansies gegee moet word as hulle aan dieselfde standaarde moet voldoen ten opsigte van kwalifikasies.

“Die private en die openbare sektor kan dan saamwerk om die onderwyskrisis in die land te help oplos,” sê sy.

Meer oor:  Advtech  |  Skoolgeld  |  Onderrig  |  Private Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.