Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Projekte nie van tafel, sê minister
Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord by die derde Suid-Afrikaanse Beleggingsberaad die afgelope week in die Sandton-Konvensiesentrum, Sandton. Foto: Kopano Tlape, GCIS

Die regering behoort jaarliks ’n oudit te doen oor die vordering met beleggings wat aan die land beloof is, want dít sal wys hoe suksesvol iets soos die regering se pasafgelope beleggingskonferensie is, sê prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Die sukses van dié week se Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie en ander regeringsplanne, hang af van optrede en implementering wat op die mooi woorde volg en hoe dit uiteindelik in die makro-ekonomiese syfers weerspieël word, sê Parsons.

Die konferensie was die derde sedert pres. Cyril Ramaphosa in 2018 ’n teiken gestel het om R1 200 miljard se nuwe plaaslike en buitelandse beleggings oor vyf jaar te werf.

Die 50 maatskappye wat dié week nuwe beleggingsondernemings van sowat R110 miljard gemaak het, bring die totale beleggingsbeloftes sedert 2018 op R773,6 miljard te staan.

Vanjaar se beleggingsbeloftes sluit in:

  • Robert Jurgens Construction Management: R8,4 miljard;
  • PepsiCo R5,5 miljard;
  • Sasol: R5,4 miljard;
  • PG Bison – KAP Industrial: R1,98 miljard;
  • Metair: R1,1 miljard;
  • Ivanhoe Mines: R730 miljoen;
  • Sail Ferro Alloys: R562 miljoen; en
  • Dr. Oetker: R200 miljoen.

Die Nuwe Ontwikkelingsbank (sogenaamde Brics-bank) gaan finansiering van R32 miljard vir projekte verskaf en die Industrial Development Corporation (IDC) finansiering vir R8 miljard se private beleggingsprojekte.

Ramaphosa het Woensdag in sy openingstoespraak by die konferensie in die Sandton-konvensiesentrum gesê R172 miljard van die beloofde bedrag is reeds bestee. Dit is meer as 25% van dít wat in 2018 en 2019 beloof is.

Tot dusver is sowat R64 miljard aan mynbou en veredeling van grondstowwe bestee, sowat R31 miljard in die inligtingstegnologiesektor en R23 miljard in die voertuigvervaardigingsektor.

Van die 102 beleggingsprojekte wat in 2018 en 2019 beloof is, is:

  • 19 begin of reeds voltooi;
  • Meer as 40 projekte (wat sowat 57% van die totale verbintenisse uitmaak) is in die boufase;
  • 12 is in die vroeë ontwikkelingstadium; en
  • 21 projekte – 10% – is vertraag of tydelik agterweë gehou weens die Covid-19-pandemie.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het op die nuuskonferensie ná die konferensie gesê geen van die 21 projekte wat deur Covid-19 geraak is, is van die tafel nie.

SA Brouerye het tydens die nege weke lange verbod op alkoholverkope gedurende die Covid-19-inperkings gesê van sy beplande beleggings as deel van sy jaarlikse kapitaal- en infrastruktuuropgraderingsprogram sal eers hersien word.

’n Werker in Heineken se Sedibeng-brouery, tweede grootste bierbrouer in die plaaslike mark, het verlede jaar R1,6 miljard se belegging vir uitbreiding aan sy brouery in Sedibeng beloof.

Heineken, die tweede grootste bierbrouer in die plaaslike mark, het verlede jaar R1,6 miljard se belegging vir uitbreiding aan sy brouery in Sedibeng beloof.

Gerrit van Loo, besturende direkteur van Heineken Suid-Afrika, het die afgelope week gesê die belegging gaan voort. Die uitbreiding behels onder meer ’n nuwe brouery met ’n vermoë van 3 miljoen hektoliter. Daar is ook belê in toerusting om Heineken se alkoholvrye bier, Heineken® 0.0, plaaslik te brou.

Volgens Parsons is dit verblydend dat Ramaphosa in sy toespraak klem gelê het op “implementering, implementering, implementering”.

“Dié amptelike verbintenis tot implementering is wat die sakewêreld wil hoor. Aggressiewe tydraamwerke en realistiese teikens waarbinne hervormings en projekte moet plaasvind, is egter nodig ten einde die staat verantwoordbaar te hou.”

Ramaphosa, asook Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, en dr. Kgosientsho Ramokgopa, hoof van Infrastruktuur SA, het op die konferensie in verskeie sessies gesê die private sektor se rol is baie belangrik in die regering se ekonomiese herstelplan wat deur infrastruktuurbeleggings gedryf sal word.

Volgens Ramokgopa is daar die laaste ses maande hard gewerk saam met die private sektor om beter samewerking te bewerkstellig. De Lille het gesê die private sektor se gebrek aan vertroue in die regering weens onder meer korrupsie moet reggestel word.

Heineken, die tweede groorste bierbrouer in die plaaslike mark, wil sy Sediben-brouery verder uitbrei. Dit behels ‘n bykomende belegging van R1,6 miljard.

Dr. Azar Jammine, hoofekonoom van Econometrix, sê Ramaphosa en ministers soos Tito Mboweni, minister van finansies, het al baie gedoen om die sakesektor se vertroue in die regering te herstel, maar die probleem is eerder op laer vlakke van regering. Dít is ’n groot struikelblok, want dit is waar implementering vasval, waarsku Jammine.

Parsons sê ondanks samewerking tussen die sakesektor en die regering om Covid-19 en die ekonomiese gevolge daarvan te bestry, is dit te vroeg om te sê of die vertrouensbreuk wat uit die Zuma-jare kom, oorkom is.

“Die ideale verhouding tussen die regering en die sakegemeenskap is een van geen agterdog nie, maar met albei op hul hoede. Ons is nog nie by dié punt nie. Die sakesektor was in ’n onlangse verslag ferm dat die staat se salarisrekening dringend besnoei moet word. Indien nie, kan dit die grootste struikelblok vir die land se ekonomiese herstel word, het hulle prontuit gesê.”

Meer oor:  Heineken  |  Beleggings  |  Projekte  |  Maatskappye  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.