Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
PSG gaan byna volle belang in Capitec ontknoop

Die beleggingsgroep PSG gaan ’n belang van 28,1% in Capitec Bank aan sy aandeelhouers ontknoop.

PSG wil ontslae raak van sy belang in Capitec.

Die groep hou ook belange in Curro, die batesbestuurder PSG Konsult en die landboumaatskappy Zeder.

PSG se geskiedenis is nou verweef met Capitec se ontstaan in 2001 en die transaksie lui die einde van ’n era in. Jannie Mouton, stigter en voormalige voorsitter van die PSG-groep, was ook ’n medestigter van Capitec Bank.

Die groep het einde April gewaarsku hy oorweeg dit om ’n gedeelte of sy volle belang te ontknoop.

Die transaksie sal tot gevolg hê dat PSG-aandeelhouers regstreeks aandele in Capitec hou.

Omdat dit die grootste deel van sy bates is wat die PSG-groep gaan versprei, is goedkeuring van die Oornamebeheerraad van die JSE nodig en sy aandeelhouers sal ’n spesiale resolusie daaroor moet goedkeur. Dit beteken 75% van aandeelhouers moet dit goedkeur.

’n Onafhanklike direksie is saamgestel ingevolge wetsvereistes vir so ’n transaksie. Dié direksie moet ’n onafhanklike kundige aanstel om vas te stel of die transaksie redelik en billik is. Dié mening en die onafhanklike direksie se aanbeveling sal in die omsendbrief aan aandeelhoueres ingesluit word.

Volgens PSG is die beweegrede vir die ontknoping dat dit die administratiewe en regulatoriese nakomingslas gaan verlig omdat die groep ingevolge nuwe finansiëledienstewetgewing beskou sal word as ’n finansiële konglomeraat weens die belang in Capitec. Die “gevolglike beperkinge op die PSG-groep se vermoë om as ’n dinamiese en vlugvoetige beleggingsbeheermaatskappy bedrywig te wees” kan sodoende vermy word.

Die groep sê dit sal ook die diskonto waarteen sy aandele verhandel teenoor sy onderliggende bates se waarde verminder en waarde vir aandeelhouers ontsluit.

Die geweegde gemiddelde aandeelprys van PSG oor die 30 dae tot 28 April is R131,40.

Vergeleke daarmee beloop die waarde van sy bates uitgesluit sy skuld (die sogenaamde som van die dele) per aandeel R203,11, oor dieselfde tydperk bereken.

Die diskonto op sy aandeelprys beloop dus R71,71 of 35,3%.

“Capitec se sukses het veroorsaak dat dit in onlangse tye ’n wesenlike deel van die PSG-groep se beleggingsportefeulje begin verteenwoordig het.”

Capitec se waarde het sowat 95,5% van die geweegde gemiddelde aandeelprys van PSG beloop teen einde April.

Die belang in Capitec het voor die aankondiging in April 61,8% van sy som van die dele uitgemaak.

Ná die ontknoping sal die PSG-groep goed gekapitaliseer en in ’n gesonde likiditeitsposisie wees. “Die groep gaan ’n sterk balansstaat met ruim likiditeit en beperkte finansieringsverpligtinge ná die ontknoping hê.”

Sy strategie ná die ontknoping is om eerstens sy skuld te betaal.

Die groep is van mening dat die verspreiding van die aandele gaan kwalifiseer vir belastingverligting en sal nie as ’n dividend of ’n opbrengs op kapitaal gereken word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingdiens (SAID) nie.

Die groep gaan 32,5 miljoen aandele in Capitec aan sy aandeelhouers versprei.

Aandeelhouers sal vir elke 100 PSG-aandele wat gehou word, 14 Capitec-aandele kry.

Die PSG-groep gaan ná die transaksie 4,3% in Capitec oorhou.

Dit behels 2,6% van sy belang wat nie ontknoop gaan word nie en 1,7% wat PSG Financial Services uit die ontknoping gaan ontvang. Dit is omdat dié volfiliaal tesourieaandele van die PSG-groep hou.

Meer oor:  Psg  |  Capitec  |  Beleggings  |  Aandele  |  Banke  |  Batebestuursfirma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.