Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
PSG haal top-40 ondanks 20%-daling in aandeelprys

PSG is van Oukersdag af ingesluit in die JSE se top-40-indeks.

Piet Mouton, uitvoerende hoof van PSG.

Die finansiëledienstegroep is ook ingesluit in verwante indekse soos die aandeelhouersgeweegde top-40, die gelykgeweegde top-40 en die beperkte aandeelhouersgeweegde top-40.

Dis skuiwe wat in die nuwe jaar dalk die finansiëledienstegroep se aandeelprys ’n hupstoot kan gee soos wat indeksfondse en aktiewe batebestuurders wat in die top-40-indeks belê, dié aandeel insluit.

Die top-40-indeks is bloot die 40 maatskappye met die grootste markwaarde op die JSE gegrond op vrylik verhandelbare aandele.

PSG se insluiting is moontlik gemaak deurdat Mediclinic International uit die betrokke top-40-indekse geval het.

Mediclinic se aandeelprys het vanjaar meer as gehalveer sedert sy hoogtepunt van R120,23 in Mei tot Vrydag se sluitingstydprys van R55,93.

PSG het ook heelwat markwaarde verloor. Vanaf ’n hoogtepunt van R287,08 in Januarie vanjaar het PSG met byna 20% geval tot R230,82.

Ander veranderinge in die JSE se indekse sluit in:

  • Vivo Energy, ’n maatskappy met sy primêre notering in Nederland, het uit die JSE se indeks van alle aandele, die indeks van maatskappye met ’n groot markwaarde, en die indeks vir groot- en mediummarkwaarde-maatskappye geval.
  • Net 1 UEPS het uit die indeks van alle aandele geval. Net 1 was vanjaar gereeld in die nuus, hoofsaaklik omdat sy filiaal Cash Paymaster Services nog tot September maatskaplike toelaes uitbetaal het.
  • Capital & Regional, ’n Britse eiendomsfirma, het uit die indeks van alle aandele en die indeks van alle eiendom geval.
  • AVI, die verbruikersgoederegroep wat onder meer Freshpak, Five Roses, Bakers en Willards-skyfies besit, is ingesluit in die aandeelhouersgeweegde top-40 en die beperkte aandeelhouersgeweegde top-40.
  • Motus Holdings, die motorhandelfirma wat uit Imperial ontknoop en in November afsonderlik genoteer het, het uit die aandeelhouersgeweegde top-40 en die beperkte aandeelhouersgeweegde top-40 geval.
  • Investec Australia Property Fund is ingesluit in die indeks van Suid-Afrikaanse eiendom.
  • Arrowhead Properties het uitgeval uit die indeks van Suid-Afrikaanse eiendom.
  • Pioneer Food Group het uit die indeks van 25 grootste nywerheidsmaatskappye geval en word deur Anheuser-Busch Inbev (AB InBev) vervang.
  • AB InBev is ingesluit in die indeks van alle aandele, die aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele, die indeks van maatskappye met ’n groot markwaarde, en die indeks vir groot- en mediummarkwaarde-maatskappye en die indeks van 25 grootste nywerheidsmaatskappye.

Lees ook: AB InBev 1ste keer deel van indekse

Van die veranderinge het te make met maatskappye wat hul sekondêre notering op die JSE het. Maatskappye met hul sekondêre notering in Suid-Afrika word net op indekse ingesluit as 1% plus een aandeel deur Suid-Afrikaners besit word, en ’n paar ander tegniese vereistes.

Ander veranderinge kom danksy veranderinge in relatiewe markwaarde of van vrylik verhandelbare aandele.

Meer oor:  Pioneer Food Group  |  Psg  |  Avi  |  Mediclinic  |  Aandele  |  Maatskappye  |  Indeks Van Alle Aandele  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.