Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
PSG se Jannie praat oor integriteit ná Steinhoff
Piet Mouton, uitvoerende hoof van PSG-groep, saam sy pa, Jannie Mouton, voorsitter, Vrydag op die groep se jaarvergadering wat by Spier gehou is. Foto: Nellie Brand-Jonker

In Stellenbosch praat almal oor integriteit in die nadraai van die Steinhoff-sage.

So het Jannie Mouton, voorsitter van die PSG-groep, Vrydag op die groep se jaarvergadering gesê. Hy het ’n paar keer na Steinhoff verwys.

Steinhoff was PSG se grootste aandeelhouer met ’n belang van 25%, maar het sedert die bom oor die boekhou-ongerymdhede in Desember gebars het, sy belang in PSG verkoop om kontant vir sy bedryfsmaatskappye te kry.

Mouton het vroeg in sy toespraak aan aandeelhouers gesê: “Ek moet iets sê oor integriteit, want integriteit is al waaroor gepraat word op hierdie dorp (Stellenbosch). Ek weet sommige van julle is van Johannesburg, maar as jy op Stellenbosch bly, sou jy weet integriteit is op almal se lippe.”

Ook in die jaarverslag verwys Mouton in sy voorsittersrede na Steinhoff. “Die ineenstorting van korporatiewe beheer by Steinhoff het daartoe gelei het dat baie maatskappye met agterdog bejeën word.”

Mouton sê gesonde korporatiewe bestuur is ononderhandelbaar.

“Ja, Steinhoff was ’n 25%-aandeelhouer in ons groep. Dit is moeilik om ’n 25%-belang skielik in die mark te sit, maar weens die goeie naam van PSG kon ons die aandele geplaas kry.”

Mouton (71) het Vrydag soos gewoonlik sy pligte as voorsitter op die jaarvergadering uitgevoer.

Dit was die eerste keer sedert hy begin Mei in ’n ongewone stap op die JSE se nuusdiens, Sens, beleggers ingelig het dat ’n vroeë vorm van demensie by hom gediagnoseer is.

Hy het soos altyd kort-kort grappies gemaak.

Met die gewone resolusie nommer 7 oor die heraanstelling van PwC as ouditeur het hy onder groot gelag gegrap: “Dis verskriklik baie besluite vir ’n maatskappy wat so perfek bestuur word. Ek wonder hoe gaan dit daar by die Steinhoff-groep.”

Hy was soos altyd hoflik en gemoedelik en het in die pouses tussen die jaarvergaderings van die verskillende maatskappye van die groep rondgestap en aandeelhouers en joernaliste met die hand gegroet en ’n bietjie gesels.

Hier en daar wou dit klink asof hy effens oor woorde struikel.

Piet Mouton, sy seun en uitvoerende hoof van die groep, het ook na Steinhoff verwys.

Laaste betaling aan Jooste

PSG dui in sy jaarverslag aan hy het R151 000 in die afgelope jaar aan Steinhoff betaal vir Markus Jooste se direkteurskap op die groep se direksie.

Jooste staan midde-in die bewerings van ongerymdhede by Steinhoff en het in Desember skielik as uitvoerende hoof bedank.

Jooste het van 2002 af op PSG se direksie gedien.

Jannie Mouton verwys in die boek En toe fire hulle my van Carié Maas nege keer na Markus Jooste en noem hom “my vriend”. In Desember verlede jaar het Mouton aan Huisgenoot gesê hy en Jooste is nie meer vriende nie. “Dit is vir my ’n verskriklike teleurstelling.”

Dit is bekend dat Mouton ook teleurgesteld was toe Steinhoff sy belang in PSG in Junie 2015 tot oor 25% opgestoot het sonder Mouton se wete. Vriende van Mouton is oortuig om hul aandele in PSG vir Steinhoff-aandele te verruil, het dit die afgelope week in hofstukke aan die lig gekom.

Jooste het persoonlik met die partye onderhandel om hul aandele te verruil. Hy het die partye belowe hy sou Mouton daaroor inlig, maar dit het glo nooit gebeur nie.

Hy het gesê PSG se aandeelprys het vroeg in Desember ’n nuwe hoogtepunt bereik van R297,03. “Ons het ’n groot partytjie gehou toe die prys deur R100 en R200 is . . . en toe gebeur dít (Steinhoff).”

Omdat daar kort nadat die Steinhof-bom gebars het, begin bespiegel is dat Steinhoff sy belang in PSG sal moet verkoop, het PSG se aandeelprys onder druk gekom.

Sedert Desember het die diskonto van PSG se aandeelprys teenoor sy onderliggende waarde al hoe groter geword.

“Die gaping is die grootste wat dit in ’n lang tyd was. Oor die lang termyn is die diskonto sowat 5%, en dit is tans 16%.”

Nadat Steinhoff sy belang verkoop het, het PSG se buitelandse aandeelhouers van 10,7% tot 20,2% toegeneem. Die persentasie vryverhandelbare aandele het ook wesenlik toegeneem. in Februarie 2017 was dit op 34% en tans is dit op 58%.

Mouton het ook verwys na die ander groot gebeurtenis wat ’n negatiewe impak op PSG se aandeelprys gehad het – die Viceroy-verslag oor Capitec.

Viceroy is ’n kortverkoper – hy verhandel dus in aandele waarvan hy meen die prys gaan wesenlik daal.

Dit het Capitec se aandeelprys laat daal en het ook ’n impak op PSG se aandeelprys gehad omdat die groep ’n groot belang in die bank hou.

Meer oor:  Steinhoff  |  Psg  |  Pwc  |  Piet Mouton  |  Markus Jooste  |  Jannie Mouton  |  Stellenbosch  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.