Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
PwC: Druk op banke is groot, maar bly veerkragtig

Suid-Afrika se banke behoort veerkragtig te bly, selfs met die groot druk weens die Covid-19-pandemie op finansiële instellings.

PwC sê Suid-Afrika se banke is veerkragtig, ondanks die impak van die Covid-19-pandemie op dié sektor.Foto: Reuters

Corné Conradie, ’n aktuaris by PwC, het as deel van sy nagraadse studies verskeie ekonomiese scenario’s ontwikkel waaraan hy die Suid-Afrikaanse banksektor se veerkragtigheid getoets het.

Die studie het spesifiek op Absa, FNB, Standard Bank, Nedbank en Investec gefokus.

Conradie sê die veerkragtigheid van dié vier banke waarborg die veerkragtigheid van die banksektor as geheel.

Prof. Conrad Beyers, hoof van Universiteit van Pretoria se departement van aktuariële wetenskap en Conradie se studieleier, sê hoewel dit tans onmoontlik is om enige voorspelling te maak oor hoe vinnig die virus gaan versprei, kan daar deur middel van finansiële modelle redelik akkuraat voorspel word wat die uitwerking daarvan op die banksektor gaan wees.

“Dit is duidelik dat banke onder groot druk gaan wees. Tog lyk dit of die stelsel in die afsienbare toekoms stabiel sal wees,” sê hy.

Beyers waarsku egter dat banke waarskynlik groot veranderinge aan hul finansiële stelsels sal moet maak om enige toekomstige skokke te kan absorbeer.

Luidens die studie is van die uitdagings vir banke ’n toename in slegte skuld, en dat mense bloot minder geld gaan bank.

Conradie se navorsing toon dat huislenings waarskynlik nie so sleg gaan deurloop soos wat die geval in 2008 tydens die finansiële krisis was nie.

Ongesekureerde lenings gaan waarskynlik eerder groter druk op banke plaas.

Conradie sê hoewel die huidige situasie dikwels vergelyk word met die finansiële krisis van 2008, is daar groot verskille. In Junie 2007 was die prima rentekoers 15,5% terwyl inflasie in Mei 2009 nog 8,7% beloop het.

Die prima uitleenkoers is nou net 7,25% terwyl inflasie in Maart net 4,1% beloop het.

Conradie sê van die goeie aspekte wat banke steun, is as volg:

  • Laer rentekoerse, stabiele inflasie en ’n tendens om risiko te vermy, sal die negatiewe gevolge van laer besteebare inkomste verminder. Lenings behoort – as gevolg hiervan – oor die algemeen meer bekostigbaar te word;
  • Die grootste banke het hul kredietverliesvoorsiening met ongeveer 38% verhoog as gevolg van die skuif na die nuwe IFRS9- rekeningkundige standaard, wat hulle meer veerkragtigheid teen kredietverliese bied; en
  • Deur die uitstel van betalings, nuwe lenings wat gerugsteun word deur die leningwaarborgskema van R200 miljard en toegang tot vaste deposito’s, bied banke ekstra likiditeit aan die mark.

Die risiko’s vir die sektor is:

  • Oor die afgelope 12 jaar het ongesekureerde lenings gemiddeld met 9,6% per jaar gestyg. Hierdie leningskategorie sal waarskynlik ernstig deur die huidige krisis geraak word;
  • Lenings deur maatskappye het jaarliks met 7,6% gegroei tot waar dit nou ’n totaal van 49% van alle lenings uitmaak. Hierdie lenings is baie sensitief vir die winsgewendheid van maatskappye en enige onderbrekings wat die ondernemings mag ervaar; en
  • Banke staar ’n beduidende likiditeitsrisiko in die gesig as daar ’n grootskaalse onttrekking van deposito’s is. As dit gebeur tesame met die toename in wanbetalings van lenings, kan dit verdere druk op banke plaas.

Conradie sê die besluite wat die regering nou saam met die finansiële sektor en ander maatskappye maak, sal ’n groot uitwerking hê op hoeveel druk daar op banke gaan wees.

Hy waarsku dat ’n gebrek aan ekonomiese groei en ’n toename in werkloosheid ’n groot risiko vir die sektor is.

Conradie se bevindinge is in ooreenstemming met dié van die Reserwebank.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het op 27 Mei gesê die land se finansiële sektor is likied en veerkragtig.

LEES OOK: Covid-19 kan ekonomie 5 j. knou – Reserwebank

Dit is luidens die Reserwebank se verslag oor finansiële stabiliteit wat twee keer per jaar uitgereik word.

Kganyago het toe ook gesê daar is verhoogde risiko’s wat finansiële stabiliteit bedreig. Van dié risiko’s is – net soos in die geval van Conradie se studie – dat individue en ondernemings wat geld skuld, kan ophou om die paaiemente te betaal.

Kganyago het gesê die Reserwebank is deeglik bewus van al dié uitdagings en al die nodige maatreëls sal getref word om die banksektor by te staan.

Meer oor:  Investec  |  Nedbank  |  Fnb  |  Absa  |  Standard Bank  |  Pwc  |  Bankdienste  |  Covid-19  |  Banke  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.