Steinhoff het Woensdag in die parlement bevestig hy het reeds twee verslae van PwC ontvang en dit is aan die relevante owerhede, insluitende die Valke, oorhandig.

Louis du Preez, handelshoof van Steinhoff, en Heather Sonn, voorsitter van die toesighoudende direksie. Foto: Jaco Marais
Louis du Preez, handelsdirekteur van Steinhoff, het gesê hy en die bestuurspan het weeklikse kontak met PwC. Twee oproepe per week word met PwC gehanteer.
PwC behartig die forensiese ondersoek na Steinhoff nadat rekenkundige onreëlmatighede verlede jaar aan die lig gekom het.
Die koste van die forensiese ondersoek sedert Desember beloop reeds meer as R200 miljoen. Sowat 100 mense wêreldwyd werk aan die ondersoek.
PwC rapporteer ook een keer of twee keer per maand aan die toesighoudende direksie.
Lees ook ons regstreekse dekking oor die parlementêre sitting oor Steinhoff hier: ‘Geen werk by Steinhoff SA in gevaar’
Twee geskrewe verslae is reeds van PwC gekry.
Die eerste verslag handel oor die kwessie in Switserland wat met handelsmerke te doen het wat van Steinhoff se balansstaat geneem is.
Volgens Du Preez gaan hy in die komende week of twee ’n transaksie aan die toesighoudende direksie voorlê sodat die handelsmerke, wat vervaardigingshandelsname is wat buite die groep besit word, teruggebring word op die balansstaat.
Hy het gesê die tweede verslag het gelei tot die skorsing verlede week van Ben la Grange, voormalige finansiële hoof wat nog op ’n kontrak vir die maatskappy gewerk het, en Stéhan Grobler, ’n voormalige direkteur wat ook op kontrak aangestel is.
Volgens hom is die verslae aan die relevante reguleerders oorhandig nadat regsadvies ingewin is. Dit is aan die Valke oorhandig.
Op die vraag of nog individue se name bekend gemaak kan word, het Du Preez gesê wesenlike hofgedinge staar die groep in die gesig en dit moet in ag geneem word.
Volgens hom moet hulle versigtig wees oor die inligting wat in die openbaar onthul word weens die regsgedinge.