Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pyne met pype, diefstal kos Transnet R600 m.

Skade aan sy pypleidings wat deur diewe aangerig word om brandstof te steel, het Transnet die afgelope boekjaar byna R600 miljoen gekos.

Transnet
Transnet het 3800km pypleidings waardeur gas, brandstof van kusraffinaderye en ruolie na die binnelandse mark vervoer word. Foto: Verskaf

Die staatsmaatskappy sê in ’n handelsoorsig hy moes voorsiening maak vir R594,5 miljoen vir die herstel en rehabilitasie van oliestortings weens die skade wat brandstofdiewe aan sy pypleiding aangerig het.

Die onderneming se pyplyne vervoer brandstof en gas. Die brandstof sluit in petrol, diesel en ruolie.

In Oktober verlede jaar is meer as 40 000 liter ruolie in die Umbilorivier in Durban gestort nadat ’n pyp beskadig is toe diewe brandstof probeer steel het.

Transnet het verlede jaar gesê hy het 80 voorvalle van diefstal op sy pypleidings gevind.

Die probleme met sy pypleidings, onbeplande Covid-19-koste en ook minder vrag wat in die boekjaar vervoer is weens die impak van die pandemie, het alles bygedra tot ’n skerp daling in sy wins.

Transnet verwag sy inkomste kan in die boekjaar tot einde Maart met 15% daal weens die impak van die pandemie.

Transnet
Transnet het 3800km pypleidings waardeur gas, brandstof van kusraffinaderye en ruolie na die binnelandse mark vervoer word. Foto: Verskaf

Hy verwag dat sy wins uit bedrywighede voor finansieringskoste, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) tussen 30% en 42% laer gaan wees as in die vorige boekjaar.

Die wins voor finansieringskoste en belasting (ebit) gaan na verwagting met tussen 65% en 95% daal.

Die inperking, wat einde Maart verlede jaar in werking getree het, het die vraag na vervoerdienste in hawens, pypleidings en spoorvrag beperk, veral in die tydperk toe die beperkings van toepassing was op alle nienoodsaaklike goedere.

Pandemie se impak

Transnet het in die nege maande tot einde Desember aansienlik minder vrag vervoer weens die impak van die pandemie.

Sy inkomste in dié tydperk het met 13,7% gedaal tot R49,3 miljard omdat minder vrag hanteer is.

Die stand van sake einde Desember was op ’n jaargrondslag:

  • Die totale spoorvrag was 13,9% laer op 137,9 miljoen ton (160,2 miljoen ton in die vorige jaar). Daarbenewens ervaar die maatskappy steeds baie voorvalle van kabeldiefstal, kragonderbrekings, vandalisme, ongunstige weerstoestande en ’n agteruitgang in infrastruktuur wat ook sy syfers en dienslewering beïnvloed.
  • Die volume liter wat deur pypleidings gehanteer is, was 30,9% laer op 9,3 miljard liter (13,5 miljard liter);
  • Die getal vraghouers was 14,9% laer op 2,8 miljoen (3,3 miljoen).

Die staatsmaatskappy sê sy koste is in toom gehou en bedryfsuitgawes het met net 2,7% tot R32,2 miljard gestyg.

Dit is ten spyte van onverwagte uitgawes vir Covid-19 wat R218 miljoen beloop het en ’n voorsiening wat gemaak moes word vir die herstel en rehabilitasie van oliestortings weens diefstal uit pype.

Transnet eis R54 mjd. terug

Transnet sê sy finansiële resultate maak nog nie voorsiening vir die geld wat hy kan terugkry van ’n omstrede lokomotiefkontrak nie.

Transnet en die spesiale ondersoekeenheid het twee weke gelede ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien dat die vier kontrakte ter waarde van R54,4 miljard wat in 2014 gesluit is om 1 064 lokomotiewe te bekom, hersien en ter syde gestel word en dat ’n billike remedie aan hom toegestaan word.

In die nege maande het sy ebitda reeds met 33,7% tot R17,1 miljard gedaal. Dit bring mee dat die ebitda-winsmarge van 45% tot 34,7% gedaal het.

Transnet sê in die nege maande tot einde Desember het hy ondanks die negatiewe impak van die pandemie op wêreldwye en binnelandse ekonomiese aktiwiteit meer as R18,6 miljard se kontantvloei geskep uit sy bedrywighede. Dit was voldoende om finansieringskoste en bedryfskapitaal te finansier.

’n Gunstige R4,3 miljard is uiteindelik oorgehou uit bedryfsaktiwiteite om sy program vir kapitaalbeleggings te finansier.

Beperkte toegang tot konstruksieterreine sowel as die onderbrekings in die verkrygingskettings gedurende die inperkings het vordering met die kapitaalprojekte vertraag.

Meer oor:  Transnet  |  Brandstof  |  Gas  |  Spoorweë  |  Ruolie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.