Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R1,2 mjd. se eise vir ‘oormaat’-sterftes in 2de vlaag

Sanlam het in die afgelope vier maande tot einde April R2,7 miljard meer aan sterfte-eise uitbetaal as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe die pandemie nog nie werklik sy tol geëis het in die land nie.

sanlam
Die Sanlam-kantoor in Sandton, Johannesburg.

Volgens Paul Hanratty, uitvoerende hoof, is dit weens die tweede vlaag wat in dié oorsigtyd die land getref het en die sterftes wat ondervind is.

Sanlam het in die tydperk R4,8 miljard se sterfte-eise uitbetaal. Hy sê gemeet aan die verwagte sterfte-eise wat op langtermynverwagtinge gegrond is, het Sanlam R1,2 miljard se oormaatsterftes beleef.

Dit word grootliks toegeskryf aan die impak van die tweede vlaag van Covid-19.

LEES OOK: Sanlam: ‘Ekstra’ doodseise tot 3x meer in 2021

Hanratty het op ’n aanbieding aan beleggers gesê hulle het nie groter insig as enigiemand anders oor hoe die derde vlaag gaan lyk nie, maar hulle het ’n paar aannames.

Hy sê hulle hou die nasionale syfers dop wat uitgereik word en vergelyk dit met hul eie syfers en ervaring.

Wesenlike onsekerheid bestaan oor die aantal en erns van verdere potensiële vlae in 2021.
Paul Hanratty, uitvoerende hoof van Sanlam

Hul basis-aanname is dat die derde vlaag dieselfde grootte sal wees as die eerste vlaag, maar dat die demografiese impak dieselfde as met die tweede vlaag gaan wees. In die eerste vlaag is ’n meer gelyke verspreiding van siektes en sterftes gesien as in die tweede vlaag toe meer laerinkomstegroepe getref is.

Volgens hom het hulle ’n aanname dat die derde vlaag net so erg as die tweede vlaag sal wees. Hy sê Sanlam sal dit kan hanteer.

Die ervaring met die tweede vlaag toon meer mense onder 59 is geraak as met die eerste vlaag.

Sanlam
Paul Hanratty, uitvoerende hoof van Sanlam.

Hy sê die grootste impak is in Sanlam se groeplewensversekeringboek gesien, wat daarop dui dat mense van werkende ouderdom erg getref is.

Volgens Hanratty kan dit in die herprysing van groepslewensversekering se premies gesien word wat gemiddeld met meer as 30% gestyg het.

Volgens hom is daar nog nie 'n sigbare toename in eise met die derde vlaaag nie, maar na verwagting gaan dit van Junie af toeneem.

Sanlam is bekommerd oor die tweede vlaag wat Indië tans beleef, en sy sake in Afrika gaan deur die pandemie geraak word.

“Wesenlike onsekerheid bestaan oor die aantal en erns van verdere potensiële vlae in 2021.”

Covid-19 was een van die twee faktore wat op bedryfsvlak ’n invloed op Sanlam se vertoning gehad het.

Die ander was die goeie herstel in verkope.

Nuwe polisse en beleggingsprodukte wat verkoop is, het met 20% gestyg teenoor 2020, en met 58% vergeleke met 2019.

“Die huidige groeikoers in verkope word aangehelp deur beter spaarpatrone danksy bestedingspatrone wat verander het vanweë die pandemie,” sê hy.

Volgens hom sal dit normaliseer en sal verkope in ’n stadium matiger begin groei.

Die waarde van nuwe sake het met 81% gestyg vergeleke met 2020 en met 41% vergeleke met 2019.

Die netto invloei van fondse het sterk gegroei. Dit het meer as verdubbel van 2020 en is 73% hoër as 2019.

’n Sterk herstel is in die bedryfswins ervaar. Die bedryfswins het met 18% verhoog van 2020 af.

Die swakker ervaring met sterftes is teengewerk deur die hoër markte en ander redes.

Dit is egter om verskeie redes nog 7% laer as 2019. Dit sluit in laer winsbydraes van sy onderneming wat batebestuur doen vir derde partye (Sanlam Investments) omdat 25% van die maatskappy aan ARC Financial Services verkoop is.

As dié faktore buite rekening gelaat word, sou die bedryfswins 7% hoër gewees het as 2019 s’n.

Meer oor:  Sanlam  |  Paul Hanratty  |  Lewensversekering  |  Sterfte-Eise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.