Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R130 mjd. van FirstRand aan beleggers ontknoop

Die beleggingsmaatskappy wat ’n groot belang in die bankgroep FirstRand Beperk besit, gaan sy belang van R130 miljard aan aandeelhouers ontknoop.

Acacia House, die provinsiale hoofkantoor van FirstRand in KwaZulu-Natal.

Die beleggingsbeheermaatskappy RMB Beherend Beperk (RMH) het Dinsdag net voor 18:00 dié aankondiging uitgereik.

Sy grootste aandeelhouer, Remgro, waarvan Johann Rupert die voorsitter is, het terselfdertyd ook in ’n verklaring aandeelhouers verwittig hy is van voorneme om op sy beurt die aandele in FirstRand Beperk aan sy aandeelhouers te versprei.

Die Rupert-familie is die beherende aandeelhouer van Remgro deur stemaandele wat gehou word en die naasgrootste gewone aandeelhouer.

FirstRand Beperk word in Remgro se jaarverslag as die grootste bankgroep in Suid-Afrika beskryf. Die groep besit FNB, RMB, WesBank, Aldermore en Ashburton Investments.

Die FirstRand-groep het ook Dinsdag net voor 18:00 sy aandeelhouers gemaan om ag te slaan op die aankondigings.

RMH het in sy aankondiging gesê die direksie het ná ’n hersiening van sy beleggingsportefeulje die besluit geneem.

Sy beleggings sluit in die 34,1% in FirstRand Beperk wat tans ’n markwaarde van R130 miljard het.

Nadat die aandeelhouding in FirstRand aan sy aandeelhouers versprei is, gaan sy eiendomsbates op ordelike wyse verkoop word. Sy eiendomsbeleggings is R3,3 miljard werd.

Remgro het gesê sy direksie het besluit om op sy beurt die aandele in die FirstRand-groep in geheel of gedeeltelik aan sy aandeelhouers te versprei.

RMH sal nadat die eiendomme verkoop is en die groep se skuld afbetaal is, gedenoteer word. Die groep het in 1993 genoteer (sien sy geskiedenis hiernaas).

Die maatskappy en Remgro sal voor die einde van die eerste kwartaal van 2020 ’n aankondiging met meer detail oor die transaksies uitreik. Dit sal die inligting bevat oor die vereiste goedkeuring wat nodig is en die datums vir die proses.

Remgro het gesê sy direksie het besluit om op sy beurt die aandele in die FirstRand-groep in geheel of gedeeltelik aan sy aandeelhouers te versprei.

Johann Rupert. Foto: Alberto Bernasconi.

“Die manier waarop dit gaan gebeur en die stappe wat nodig is, moet nog verder oorweeg word,” lui sy verklaring.

Die twee maatskappye sal saamwerk om die mees praktiese en beste manier te kry om die aandele aan aandeelhouers te versprei.

Remgro is oorspronklik in die 1940’s deur wyle dr. Anton Rupert tot stand gebring en het vandag ’n beleggingsportefeulje wat uit meer as 30 maatskappye bestaan waarin belê is.

Die vorige groot ontknoping van Remgro aan aandeelhouers was in 2008 toe sy belegging in British American Tobacco (BAT) aan aandeelhouers ontbondel is.

Remgro hou 28,2% in RMH terwyl Royal Bafokeng Beherend 12,5% hou en die direkteure 6,2%.

Michael Jordaan, voormalige uitvoerende hoof van FNB, het op Twitter gesê baie waarde gaan ontsluit word: “RMB Beherend gaan R130 miljard van sy FirstRand-aandele ontknoop. Wow.

“En Remgro gaan sy FirstRand-aandele (heeltemal of gedeeltelik) versprei. Baie waarde gaan ontsluit word.”

Volgens hom gaan R48 miljard of 38% van Remgro se portefeulje ontknoop word indien al die aandele aan aandeelhouers versprei word. “Dit is ’n slim skuif om die diskonto te ontsluit.”

Remgro se aandeelprys verhandel altyd ver onder die waarde van sy bates per aandeel.

Die bekende aandeelmakelaar David Shapiro het op Twitter die stap beskryf as ’n manier om van ’n onnodige en lomp aandeelhoudingstruktuur ontslae te raak.


Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat namens staatsamptenare hul pensioenfonds bestuur, het sy belang in Remgro vandeesweek tot 15% verhoog.

Die OBK is die grootste aandeelhouer in Remgro.

Wayne McCurrie, ’n portefeuljebestuurder, het op Twitter die aankondiging as baie groot nuus beskryf.


Geskiedenis van RMH-goep:

1977: Rand Consolidated Investment (RCI) word deur G.T. Ferreira, Laurie Dippenaar en Paul Harris gestig.

1985: RCI en RMB smelt saam om RMH te vorm. RMB is in daardie stadium deur Johann Rupert bestuur.

1987: RMH registreer as ’n bankbeheer-groep.

1992: Momentum word verkry en Discovery word bekend gestel.

1993: RMH noteer op die JSE.

1998: FirstRand word gevorm deur die verkryging van First National Bank en Southern Life. OUTsurance word ook in die jaar bekend gestel.

1999: Discovery noteer op die JSE.

2008: Discovery word van FirstRand ontknoop en RMH belê in ’n direkte belang in die maatskappy.

2010: FirstRand se volfiliaal Momentum smelt saam met Metropolitan om die derde grootste versekeringsgroep MMI Beherend te vorm.

2011: RMI word ontknoop van RMH en apart op die JSE genoteer. Die maatskappy hou vandag belange in OUTsurance, Discovery en Momentum Metropolitan.

2016: Brei uit in eiendomsbeleggings deur ’n belang in Atterbury te koop.


Meer oor:  Remgro  |  Fnb  |  Johann Rupert  |  Aandele  |  Beleggings  |  Batebestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.