Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R20 mjd. se onwettige drank in 2020 verkoop

In 2020 is R20,5 miljard se onwettige drank in Suid-Afrika verkoop.

Ter illustrasie Foto: Unsplash

Een liter van elke 4,54 liter drank wat nou in die land verkoop word, is onwettig. In 2017 was die verhouding 1 liter vir elke 6,67 liter.

Volgens ’n nuwe verslag het die verbod of beperkings op drankverkope as deel van Covid-19-inperkings nie die sluikhandel in drank begin nie, maar dit beslis laat floreer.

Onwettige handel in drank het veral in die afgelope drie jaar aan die mark van die wettige drankbedryf weggekalwe.

In ’n verslag deur Euromonitor International wat Vrydag uitgereik is, is bevind dat dié aktiwiteite slegs misdadigers en sindikate bevoordeel, wat munt slaan uit verbruikers wat onder finansiële druk verkeer.

Boonop het dié misdadigers die regering se instelling van die verbod op drankverkope tydens die inperking misbruik.

Iets soortgelyks is onlangs oor die sluikhandel in sigarette bevind.

LEES OOK: 3 uit 4 winkels verkoop onwettige sigarette

Volgens die verslag het die mark vir onwettige handel in drank in die laaste drie jaar bykans verdubbel en die waarde daarvan is verlede jaar op sowat R20,5 miljard geraam.

Volgens Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, het die volume van die onwettige bedryf die gesamentlike volume van die wyn- én sidersektor verbygesteek.

“Dit kom op ’n alkohol-ekwivalent van 665 431 hektoliter teenoor ’n alkohol-ekwivalent van 627 758 hektoliter neer.”

Die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba), die Suid-Afrikaanse Biervereniging (Basa) en die wynbedryfsliggaam Vinpro het die verslag aangevra.

Ons ondersteun wel nie enige verbod op die verkoop van alkohol nie, want dit het tragiese en vernietigende gevolge.
Kurt Moore van Salba

Die verslag, Illicit Trade: Alcoholic Drinks in South Africa in 2020, het die effek ondersoek wat die buitengewone groei in die onwettige alkoholbedryf in 2020 as ’n regstreekse gevolg van die verbod op die verkoop van alkoholprodukte op die land gehad het.

Volgens die verslag het die onwettige bedryf jaarliks sedert 2017 gegroei en dit het nou ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 17%. Dit het ook reeds 12% van die drankbedryf se totale markwaarde van R177,2 miljard in sy greep.

Onwettige drank is ook reeds in winkels in gegoede woonbuurte soos Sandton beskikbaar.

Die verslag het getoon dat die regering se verbod op verkope nie net gehelp het om ’n florerende en steeds groeiende onwettige mark te skep nie, dit het ook ’n enorme ekonomiese uitwerking op die land, die wettige drankbedryf en selfs mense se lewens gehad.

Die verbod het tragiese gevolge gehad vir mense wat hul eie drank by die huis begin brou het en weens dié brousels gesterf het.

Basa se uitvoerende hoof, Patricia Pillay, sê die verslag toon ’n duidelike verband tussen die verbod op verkope en die toename in die vraag na onwettige alkohol.

Die verslag wys ook dat sindikate se smokkel- en vervalsingspraktyke meer druk geplaas het op die wettige drankbedryf, wat reeds onder druk verkeer.

Effek op die ekonomie

Die verslag het ook gekyk na die ekonomiese uitwerking wat die onwettige handel het.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het weens onwettige drankhandel in 2020 sowat R11,3 miljard aan belasting verloor.

Volgens Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, plaas hierdie verlies net meer druk op die regering se vermoë om die koronavirus-pandemie te bestry en die land se ekonomie weer aan die gang te kry.

Die wettige drankbedryf het weer bevestig dat hy die regering se kommer oor die uitwerking van die pandemie deel en daarom sal voortgaan om betekenisvolle maatreëls van die regering te steun sodat die getal infeksies kan daal.

“Ons ondersteun wel nie enige verbod op die verkoop van alkohol nie, want dit het tragiese en vernietigende gevolge. Daar moet eerder na alternatiewe en meer effektiewe maatreëls gekyk word.”

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.