Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R21 mjd. om ou SAL nek-om te draai
’n Werknemer van SAL betoog verlede week te midde van Covid-19 buite die Uniegebou in Pretoria teen dié sukkelende staatslugdiens . Foto: Siphiwe Sibeko

Die “nuwe” SAL gaan blind en platsak van die grond af moet kom, te oordeel na ’n konsepweergawe van die plan om die staatslugdiens te red.

Die syfers waarop die plan gegrond is, is nie aangepas om die impak van die pandemie te weerspieël nie en die sakereddingspraktisyns erken hulle kan nie sien hoe die pad ná die Covid-19-pandemie gaan lyk nie.

Dít het kommer laat toeneem dat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, se obsessie om die SAL te behou, belastingbetalers gaan laat met ’n meulsteen om die nek ná Covid-19.

Die konsepplan wat ’n week gelede aan belanghebbendes gestuur is, het Maandag uitgelek. Daarvolgens het die sakeredders R21 miljard nodig om die ou SAL nek-om te draai en die nuwe een aan die gang te kry.

Net R2 miljard daarvan is egter vir die nuwe baba bestem.

Die vervoerekonoom Joachim Vermooten sê dit is hopeloos te min. “Dit gaan reuse-inspuitings daarna verg,” sê hy. “ ’n Mens kan nie ’n reddingsplan grond op subsidies wat in die toekoms uitbetaal moet word nie.”

Die sakereddingspraktisyns wat die plan opgestel het, Les Matuson en Siviwe Dongwana, wou nie oor die dokument kommentaar lewer nie, en het gesê dit kan nog verander voordat die finale weergawe môre gepubliseer word.

Krediteure, wat die werknemers insluit, sal ná die publikasie daarvan moet stem of hulle die plan aanvaar of nie. Met uitsondering van die banke wie se lenings aan SAL deur die regering gewaarborg is, sal dié krediteure gelukkig wees as hulle 5c kry vir elke rand wat hulle geskuld word. Die SAL skuld hulle altesaam sowat R10 miljard. Hulle kan ook vra dat die sakeplan gewysig word.

As die plan nie aanvaar word nie, kan dit uitloop op die sluiting of likwidasie van die lugdiens.

Vliegkaartjies gemiddeld 30% duurder
Suid-Afrikaners kan weer begin vlieg, maar vlugte is skaars en duur.
Volgens Natasha Webb, groepshoof van die lugvervoerafdeling by Flight Centre, is besprekings oop vir vier lugdienste, maar net op die roetes tussen Johannesburg (O.R. Tambo én Lanseria), Durban en Kaapstad.
CemAir het Vrydag begin vlieg, Airlink begin Maandag en Mango en Fly­Safair albei op 15 Junie. 
Webb sê vlugte word net tussen 06:00 en 09:00 en weer 15:00 en 18:00 toegelaat en die meeste lugdienste het dus twee vlugte soggens en twee saans. Vliegkaartjies is gemiddeld minstens 30% duurder as voor Covid-19, maar dít kan verander afhangend van die vraag.
Op FlySafair kan jy R750 ekstra betaal om die sitplek langs jou oop te hou. 
Volgens Webb is dit nog te vroeg om te sê of die publiek die aptyt het vir vlieg, aangesien die besprekings maar pas oopgemaak het. Ingevolge die regulasies mag jy op die oomblik net vir sakedoeleindes vlieg, maar sommige maatskappye is nog nie gereed om hul personeel te laat vlieg nie.

Rennie van Zyl, ’n konsultant met jare se ervaring in die lugvervoerbedryf, sê hy is baie bly hy is nie een van die besluitnemers wat op grond van dié dokument sy kruisie moet trek nie. Die syfers wat daar is, is volgens hom nie korrek nie en die feit dat dit nie aangepas is vir die impak van Covid-19 nie, is dodelik.

Selfs sonder enige aanpassing voorsien die sakeredders volgens die dokument dat die nuwe lugdiens in die eerste drie jaar sowat R20 miljard sal verloor. “Alles hang in dié stadium af van hoe vinnig die toerismebedryf gaan herstel, want sowat die helfte van alle passasiers is toeriste,” sê Van Zyl. Hy sê daar is geen realisme in die verwagte passasiersgetalle vir die nuwe lugdiens nie.

Die sakeredders maak vooruitskouings vir sewe jaar, met die laagste getal van 1,9 miljoen in die derde jaar.

Van Zyl sê slegs 5% van die bevolking (dus sowat 2,5 miljoen mense) vlieg. Dít kan ná Covid-19 met die helfte verminder, wat 1,2 miljoen passasiers laat vir die hele mark. Hoe sal die SAL alleen 1,9 miljoen mense vervoer, vra hy.

Boonop is daar geen duidelikheid waar die SAL se filiale, SAL Tegnies, Mango en AirChefs in die sakeplan inpas nie.

’n Anonieme bron in die lugdiensbedryf meen die regering se plan om ’n ekwiteitsvennoot vir die nuwe SAL te kry, gaan sneuwel weens die verwagte verliese. Hy bevraagteken die feit dat die SAL se getal vliegtuie verminder van 43 in jaar twee tot 22 die volgende jaar, terwyl die gemiddelde inkomste per passasier die hoogte inskiet van R5 046 tot R8 213.

“Dit behels ’n onttrekking uit die plaaslike mark – waarskynlik nie ’n slegte idee om dit vir Mango te laat nie.”

Vreemd genoeg verminder die personeelgetalle volgens die konsepplan nie ooreenkomstig die verkleining van die vloot nie. Te midde van onsekerheid oor die impak van Covid-19, die olieprys en die wisselkoers is die plan meer duimsuig as wetenskap, sê hy.

Vermooten verwys ook na die “wonderwerk” dat die nuwe SAL se verwagte inkomste nie verlaag wanneer sy vloot in die derde jaar met feitlik die helfte verminder word nie. Hy sê die verwagte hoeveelheid passasiers per vlug, wat volgens die konsepplan meestal onder 70% en tot so laag as 52% in jaar drie is, is onvoldoende om die nuwe lugdiens winsgewend te bedryf.

Vermooten wys verder daarop dat die R16,4 miljard wat Tito Mboweni, minister van finansies, vroeër oor die volgende drie jaar begroot het om die SAL se skuld af te betaal, nie meer ’n gegewe is nie. Mboweni moet sy begroting aanpas weens die impak van Covid-19 en die nuwe begroting sal eers op 24 Junie bekend gemaak word, waarna dit nog goedgekeur moet word.

Die ontvangs van die nodige geld teen 27 Junie is een van die voorvereistes vir die plan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.