Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R240 m. is só vermors, lui verslag

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) kom in ’n verslag van die Sentrum vir Omgewingsregte (SOR) onder skoot omdat hy openbare geld aan MC Mining (voorheen Coal of Africa) geleen het om steenkool in die dorre Limpopo-kom te ontgin.

In die verslag “2020 Financing Fairly” word daarop gewys dat die NOK R240 miljoen “in die water gegooi het” deur ’n wit olifant te finansier.

Die NOK het dié geld in 2016 en weer in 2017 in MC Mining se Makhado- en omstrede Vele-projek belê.

Die Vele-projek het langer as tien jaar gelede begin en was in die nuus omdat die mynhuis in die buffergebied van die Wêrelderfenisgebied Mapungubwe begin myn het. Die mynbestuur het ook sonder ’n waterlisensie gate in die Limpoporivier gesink.

Meer as tien jaar nadat dié projekte aangekondig is, is nog geen steenkool hier gemyn nie.

’n Kremetartboom in die Limpopokom. Foto: Reint Dykema

Daiyaan Haslim, projekleier van die SOR, sê die NOK kon dié geld eerder gebruik het om klimaatvriendelike projekte te finansier.

Die NOK het geld in ’n steenkoolprojek belê terwyl interna­sionale finansieringsinstellings in die lig van klimaatsverandering geld aan steenkool-, olie-, en gasmaatskappye onttrek, sê Haslim­.

Luidens die verslag is MC Mining­ op die Suid-Afrikaanse en die Australiese aandelebeurs genoteer.

Volgens Haslim het die NOK in dié steenkoolmaatskappy belê tot nadeel van die natuurlike omgewing en die mense van die streek, asook van die res van Suid-Afrika.

In die verslag word daarop gewys dat die NOK ook groot beleggings gedoen het in Arcelor Mittal, een van Suid-Afrika se drie grootste water- en lugbesoedelaars.

“Dit is vir ons duidelik die NOK gebruik nou openbare geld om nywerhede te finansier wat nie klimaatvriendelik is nie.”

In die studie word ’n puntsgewyse uiteensetting gegee van hoe die NOK se belegging in die Limpopokom die integriteit van Mapungubwe bedreig, die watertafel in dié dorre gebied gaan laat daal en hoe dit die plantegroei in dié deel gaan vernietig.

Inheemse mense van die streek sal ook van hul tradisies en gebruike ontneem word as dié mynprojekte hier voortgaan.

“Boonop is die projekte, soos die steenkoolmyne en die Musina-Makhado- spesiale ekonomiese sone (MMSES), nie versoenbaar met die beloftes wat Suid-Afrika ingevolge die Parys-klimaatooreenkoms gemaak het nie.”

Suid-Afrika is een van die 197 lande wat die ooreenkoms in 2015 onderteken het.

Haslim sê die NOK het ook nie sy huiswerk oor die geskiedenis van MC Mining behoorlik gedoen voordat hy die geld voorgeskiet het nie.

Tshepo Ramodibe, hoof van korporatiewe sake van die NOK, sê dié korporasie het besluit om aan MC Mining geld te leen omdat die mynhuis sy waterlisensie voorgelê het.

Die waterspesialiste (wie se name nie genoem word nie) het ook nie die NOK daarop gewys dat die gebied ’n gebrek aan water het nie, sê Ramodibe.

Op die vraag of die NOK daarvan bewus was dat meer as 100 000 kremetartbome, ’n beskermde spesie, hervestig sal moet word om plek te maak vir die MMSES en die steenkoolmyne, sê Ramodibe in die spesialisstudies wat onderneem is, is geen “bekommernisse gelug” oor die verwydering van beskermde plantegroei nie.

Volgens Ramodibe is die NOK bewus van sy mandaat om in klimaatvriendelike projekte te belê.

“Ons het in hierdie opsig al R14 miljard in hernubare-energie-projekte belê,” sê hy.

Ramodibe voeg by die NOK was nie bewus van die boete van R9,2 miljoen wat MC Mining opgelê is weens omgewingsoortredings by Vele nie.

Fin24 het vroeër berig die NOK het aan hom gesê hy is “aktief betrokke by die regverdige oorgang van Suid-Afrika se afhanklikheid van fossielbrandstowwe na dié van hernubare energiebronne”.

Die NOK het ’n “groenenergieportefeulje”, wat daarop gemik is om Suid-Afrika se ekonomie koolstofneutraal te maak.

MC Mining wou nie kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.