Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R3,3 mjd.-transaksie met Wiese pootjie Kieswetter nie

Die beperking op Edward Kieswetter om as direkteur van Shoprite te bedank nadat hy as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangestel is, is nou opgehef.

Ed Kieswetter
Ed Kieswetter, wat pas as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel is.

Die beperking het gegeld weens ’n groot transaksie waarmee die kleinhandelaar besig is.

Dit het hom in ’n penarie geplaas, want hy het op 1 Mei in sy pos as kommissaris van die SAID begin.

Kieswetter, ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Shoprite, moes ingevolge regulasie 108 (20) van die Maatskappywet vrystelling kry.

Ingevolge die regulasie mag ’n direkteur van ’n maatskappy nie bedank nie vandat ’n vaste voorneme om ’n transaksie te doen, aangekondig is totdat die aanbod onvoorwaardelik is, verval of teruggetrek word.

Shoprite het op 19 April so ’n aankondiging gepubliseer.

Die Oornamereguleringspaneel, wat ingevolge art. 197 van die Maatskappywet opgerig is, het op 3 Mei vrystelling aan Kieswetter gegee.

Sy bedanking het Maandag (6 Mei) in werking getree.

Hy het reeds op 30 April sy bedanking, onderhewig aan dié vrystelling, aan Shoprite aangebied.

Die vrystelling is verskaf op die voorwaarde dat Shoprite onderneem om Kieswetter met ’n direkteur te vervang wat onafhanklik is. Dit moet ook iemand wees wat in staat is om die rol te vervul wat Kieswetter in die aanbodtydperk sou vervul.

Christo Wiese

Die direksie het Kieswetter bedank vir sy waardevolle bydrae tydens sy termyn as direkteur en spesifiek die leidende rol wat hy die afgelope paar maande ten opsigte van die voorgestelde transaksie gespeel het.

Shoprite skakel steeds met sy aandeelhouers oor die voorgestelde transaksie.

Kieswetter was die hoof- onafhanklike direkteur en hoof van die onafhanklike direksie wat saamgestel is om onderhandelinge oor die transaksie te voer.

Shoprite het op 26 Februarie aangekondig dat dit oorweeg om Christo Wiese, voorsitter, se spesiale aandele wat stemregte dra terug te koop.

Op 18 April is aangekondig dat 20 miljoen gewone aandele teen R3,3 miljard aan Wiese se Titan-groep uitgereik gaan word sodat hy die gewone aandele wat sy maatskappy Thibault besit, kan terugkoop. Dit sal dan daartoe lei dat Shoprite die uitgestelde aandele met die stemregte kan terugkoop.

Lees ook: Wiese verloor beheer in Shoprite, hou 17,8%

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.