Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R750 000 weg met pizza-blaps

’n Sakeman wat glo ’n “goudmyn” belowe is, maar toe ’n sat franchise-pizzawinkel gekry het, veg om sy belegging by Scooters Pizza terug te kry.

Scooters se embleem en slagspreuk.

JP Botha (41), wat sak en pak van Mpumalanga af getrek het om ’n Scooters Pizza-winkel in die CapeGate-winkelsentrum in Kaapstad oop te maak, het die eerste ronde gewen toe die hooggeregshof beslis het die franchise-groep moet hom R750 000 betaal weens wanvoorstellings wat hulle gemaak het.

Die hof het beslis die sogenaamde “marknavorsing” wat Scooters gedoen het, was eintlik net ’n mite.

Maar Scooters Pizza het die afgelope week verlof gekry om te appelleer na ’n volbank van die hooggeregshof.

Botha het aangevoer die tak wat hy in 2011 oopgemaak het was nie winsgewend nie, en hy moes dit sowat ’n jaar later sluit.

Volgens hom het Eugene Stander, ’n werknemer van Scooters Pizza, vir hom die son, maan en sterre belowe.

Hy sê Stander het die woord “goudmyn” gebruik voordat hy hom oorreed het om ’n franchise-ooreenkoms te teken.

Volgens Botha het Scooters gesê hul marknavorsing toon ’n tak in CapeGate sou lewensvatbaar wees. Die bruto maandelikse kosverkope sou tussen R250 000 en R350 000 wees.

Dít het Botha oortuig om sy huis in Middelburg, Mpumalanga, te verkoop, uit sy werk te bedank en te verhuis.

Scooters het in 2013 sy nuwe voorkoms van sy winkels op Facebook aangekondig. Dié winkel is nie die een wat in die hofsaak ter sprake is nie. Foto: Facebook

Die winkel se oprigtingskoste was R750 000. Sy verhuising het R50 000 gekos. Hy het ook ’n R50 000-deposito en R525 000 se huurgeld aan die winkelsentrum betaal.

Volgens Botha was die bruto inkomste toe slegs sowat R50 000 per maand.

Stander, wat in daardie stadium Scooters se streeks-franchisebestuurder was, het getuig hy het teenoor Botha benadruk die syfers is net skattings en nie gewaarborg nie.

Dit was moeilik om die presiese omset van ’n tak in GapeGate te gee, maar hy glo die R250 000 was wel bereikbaar.

Stander het getuig hy sal gewoonlik nie die woord “goudmyn” gebruik om ’n franchise te beskryf nie.

Waarnemende regter Tony Thobane het vroeër bevind die belangrike inligting wat Scooters aan Botha gegee het, moes op marknavorsing gegrond wees.

Botha het in verskeie e-posse daarop aangedring om die kwansuise marknavorsing te sien wat Scooters gedoen het, maar geen antwoord gekry nie.

“Geen marknavorsing het bestaan nie,” het die hof bevind.

Scooters het van die begin af ontken dat daar enige wanvoorstelling was of dat hulle verantwoordelik gehou kan word vir die tak wat misluk het.

Trouens, Scooters het aanvanklik ’n teeneis teen Botha ingedien weens beweerde kontrakbreuk omdat hy die franchise-ooreenkoms gekanselleer het.

Scooters het egter dié eis laat vaar.

Hulle hou wel vol dat ’n volbank moontlik tot ’n ander slotsom kan kom in die saak.

Volgens Scooters het hulle geen ondernemings oor die winsgewendheid aan Botha gegee nie en die syfers was blote projeksies.

Boonop het alle franchise-ooreenkomste ’n bygevoegde klousule wat sê Scooters kan nie aanspreeklik gehou word vir die inkomstestroom of winsgewend­heid van die franchise nie.

Meer oor:  Scooters  |  Famous Brands  |  Franchise  |  Restaurante  |  Pizza  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.